Lees ook:
jouwêreld se nuutste uitgawe

die oorspronklike artikel - met foto's
 

jouleefstyl

  

 
Speserye – te kies, te keur en te geur

 

Tower jou kookkuns op met die wonderwêreld van speserye – as jy weet hoe om dit te gebruik! Ons vertel jou hoe.
 


deur
Wilna Myburgh
 

Eksotiese speserye van regoor die wêreld is deesdae tot ons beskikking – tog beteken die beskikbaarheid daarvan maar min as jy nie weet hoe om dit te gebruik nie.
Die bevrediging wat jy smaak wanneer jy jou eie spesery-mengsel van meet af maak is moeilik om te ewenaar. Dit is 'n ondervinding wat jou betower vandat jy die speserye aankoop totdat jy die eindproduk proe. En glo my – as jy eers met speserye begin kook gaan jy, net soos die Mistress of spices, hartstogtelik wil sê: "Don't leave me spices!"

Om die wêreld van speserye in die beperkte ruimte van een artikel in te pas, is 'n moeilike taak. Hierdie is dus slegs 'n "aptytwekker" - net 'n kort beskrywing van sommige speserye wat ek dikwels gebruik. Aan die einde van dié artikel verskaf ek 'n paar resepte om jou spesery-vernuf verder aan te wakker, en beveel ek ook 'n paar boeke aan wat waardevolle en bruikbare inligting en resepte bevat.
En natuurlik is die internet 'n groot bron van nuttige resepte en wenke vir die gebruik van speserye.

Brandrissie

In plaas daarvan om rooipeper of rissiepoeier te gebruik om 'n byt aan jou kos te gee, gebruik klein gedroogde brandrissies. Dit is baie maklik om die sterkte te beheer, deur die hoeveelheid rissies wat jy insit, aan te pas. Die ander voordeel is dat jy die brandrissies dadelik kan verwyder as dit te skerp proe, of as dit net reg is en jy dit nie skerper wil hê nie. Brandrissies word ook in tuisgemaakte kerriepoeier gebruik.
 

Kaneelstok

Almal van ons ken kaneel in pannekoek en ander lekkernye, maar dit kan ook vir sout-geregte gebruik word. Kaneel, veral saam met komyn en koljander, word dikwels in die Marokkaanse kookkuns gebruik. Voeg 'n heel kaneelstok by jou volgende bees-, vark- of skaapstowegereg. Of probeer die resepte vir vla en spesery-tee, wat onderaan verskyn.

 

Kardemom

Dis baie moeilik om die geur van kardemom te beskryf – maar wat ek wel kan sê is dat dit onmoontlik is om nie aan dié geur verslaaf te raak nie!
Dit is terselfdertyd sterk en tog subtiel, warm en kamfer. Dit is die heel beste om kardemompeule aan te koop. Onthou: dit moet groen en plomp wees. Binne die peul is daar klein swart saadjies – dis wat jy wil gebruik – maar in baie geregte kan jy die hele peul insit en later verwyder. As jy dit heel insit, gebruik 'n harde voorwerp, om die peul te crush sodat die heerlike geure vrygestel kan word. Dit word alom in pilafs, drankies (bv. koffie en tee), nageregte, vrugtedisse, koekies en vleisgeregte gebruik.

 

Gemmer

Fyn gemmer is beslis nie onbekend nie, maar die vars gemmer waarvan dit afkomstig is, kry nie soveel aandag nie. Vars gemmer kan per kilogram aangekoop word en is dikwels by die groente-afdeling verkrygbaar. Maak seker dat dit nie gerimpel is nie, want dan is dit oud. Om dit te gebruik, breek 'n stukkie af, skil dit en rasper dit fyn. Heerlik as jy dit saam met uie braai vir roerbraai of kerrie. Mens kan ook gemmer klaar gerasper koop - John West se vars gemmer is byvoorbeeld heerlik om in die yskas aan te hou.
 

Kerrieblare

'n Eenvoudige manier om jou aan die smaak van kerrieblare bekend te stel, is om dit óf by jou ma se kerrie-resep óf by jou oorspronklike kerrie-resep te voeg. Mens gooi net eenvoudig een of twee takkies by terwyl die gereg prut – en proe! Alhoewel mens dit kan eet, is dit beter om die blare uit te haal as jy nog aan die smaak gewoond raak.

Sommige supermarkte het wonderlike afdelings waar mens Oosterse bestanddele kan aankoop – insluitend vars kerrieblare wat jy per gewig koop. Dit kan tot 7 dae in die yskas bly, as dit dan nog nie opgebruik is nie, knoop die sakkie toe en hou dit in die vrieskas om later te gebruik.

 

Koljander

As getroue Suid-Afrikaner sal jy sommer dadelik die geur van koljander herken – dit word alom as geurmiddel vir biltong en wors gebruik! Koljanderblare word as krui gebruik, terwyl die saad as spesery gebruik word. Koljandersaad vorm die basis van baie kerriepoeiers en masala. Dit word ook dikwels by ingelegde groente en vrugte gevoeg en word ook in die maak van blatjang gebruik.

 

Komyn

Komynsaad is lank, ovaalvormig en bruin. Dit kom meestal in fyngemaalde vorm voor. Komyn is een van die belangrikste bestanddele van kerriepoeier, masala en dukka. Komyn en koljander word dikwels saam in Indiese kos gebruik. Mens kan ook heerlike gegeurde flatbreads met komyn en koljander maak.

 

Lourierblare

Lourierblare het geen bekendstelling nodig nie. Maar, het jy geweet dat dit 'n boom is wat sommer baie maklik in 'n groot pot op jou stoep of in jou tuin sal groei? Nie net het die Grieke geglo dat dit jou wysheid sal bring nie, dis ook baie lekker om altyd 'n voorraad van vars lourierblare te hê, wat baie geuriger as die gedroogde weergawe is. Dit word in bobotie en baie ander vleisgeregte as geurmiddel gebruik.
 

Neutmuskaat

Neutmuskaat het 'n soet, warm aroma. Dis meestal in fyngemaalde vorm beskikbaar. Dis eintlik 'n groot saad met 'n pit in. Die pit, of kern, word heel verkoop en mens kan dan daarvan rasper soos jy dit benodig. Rondom die saad kom daar nog 'n spesery voor – mace. Dit het 'n sterker neutmuskaat geur en word as mace blades verkoop. Neutmuskaat word dikwels, maar nie uitsluitlik nie, in soetgebak gebruik. Witsous (béchamel) is heerlik met 'n knypie neutmuskaat in, veral as jy eers die melk met lourierblare gegeur het.

 

Steranys

Steranys is die songedroogde vrug van 'n sekere magnolia-boom. Die geur daarvan is baie sterk en herinner aan die van anys en liquorice. Dit is meesal bekend in Chinese five spice waar dit met Sichuan peper, vinkelsaad, naeltjies en kaneel gemeng word. Dit smaak heerlik in 'n suikerstroop om oor tropiese vrugte te eet, of voeg dit by wanneer jy pere in rooiwyn en speserye posjeer.

 

Saffraan

Saffraan is die stempel van die saffraanblom en word met die hand geoes. Ongeveer 80 000 blomme is nodig om 2.5 kg stempels te kry, wat 500 g saffraan lewer nadat dit gerooster is. Dit is dus geen verrassing dat saffraan die heel duurste spesery is nie. Gelukkig hoef mens nie baie daarvan te gebruik om die trefkrag te proe nie. Saffraan word as kleur- en geurmiddel gebruik. Dit kom tradisioneel in paella voor. Hou jouwêreld dop vir 'n heerlike paella-resep in die nabye toekoms.

 

Om jou nuwe spesery-kennis te gebruik, probeer gerus die volgende resepte:

 

Maak kardemom-koffie

Maak koffie in jou plunger of perkoleerder soos altyd – maar voeg kardemom by die koffiemoer voordat jy dit maak. Vir 4 koppies koffie is 3 kardemompeule genoeg – druk net elke peul met die houer waarin dit gekom het, om dit te laat oopbreek. Gooi dan die hele spul by die koffiemoer. Mmm - lekker!

 

Maak spesery-tee

Gebruik 1 hoogvol teelepel rooibos-teeblare en 200 ml water vir elke koppie tee wat jy wil drink.

Om 4 koppies tee te maak: Voeg by die teeblare en water in 'n kastrol 3 klein kaneelstokkies, 4 kardemompeule, 4 swart peperkorrels en 'n knypie neutmuskaat. Laat dit vir 5 minute kook en gooi dit deur 'n teesiffie. Voeg melk en heuning of suiker na smaak by.

 

Maak jou eie Madras-kerriepoeier

Hierdie verg 'n bietjie meer tyd, maar is wonderlik om speserye te leer ken.

Braai die volgende speserye in 'n pan, sonder enige olie, oor 'n lae hitte totdat jy dit net begin ruik:
10 ml geel mosterdsaad
10 ml koljandersaad
10 ml komynsaad
5 ml swart peperkorrels
8 gedroogde rooi brandrissies

Voeg dan 15 groot, vars kerrieblare by en braai vir nog 1 minuut. Laat afkoel.
Verfyn tot 'n poeier in 'n spice grinder, koffie-grinder, voedselverwerker of met 'n stamper en vysel. Voeg 10 ml borrie by.
Gebruik waar jy gewoonlik gekoopte kerriepoeier gebruik het, of in die resep vir Klappermelkkerrie met lensies en groente.

 

Maak vla met kaneel, kardemom en steranys

Die vla smaak heerlik saam met appel- of peertert. En, alhoewel dit die hele punt van hierdie artikel teëgaan, kan jy die speserye weglaat vir 'n gewone vla, met vanieljegeursel. Vir koffievla voeg 5 ml kitskoffiepoeier by, of maak enige ander geur onder die son.

Verhit 250 ml melk met 3 kardemompeule, 1 steranys en 1 kaneelstokkie tot net voor kookpunt. Meng 50 g strooisuiker met 2 eiergele. Gooi die warm melk stadig by die eiermengsel terwyl jy voortdurend roer. Gooi alles deur 'n sif en terug in 'n klein kastrol. Roer oor baie lae hitte met 'n lepel totdat dit verdik – dit moet onder geen omstandighede kook nie, dan sal dit skif. Hou dit die hele tyd dop, dit loop nét so skeef.

Wenk: Toets of dit reg is deur die agterkant van 'n metaallepel met die vla te bedek, trek dan met jou vinger 'n streep daardeur. Die paadjie wat jy getrek het moet daar bly, as die vla terugloop, is dit nog nie gaar nie.

 

Kyk onder andere na hiérdie boeke:

Herbs and Spices

Hierdie is my gunsteling boek oor kruie en speserye – die skrywer daarvan is Jill Norman – en dis eenvoudig 'n móét as jy hierdie onderwerp interessant vind.

The Masala Cookbook, Parvati Narshi en Ben Williams

Hierdie boek gebruik 'n paar verskillende masala-mengsels om 'n groot verskeidenheid resepte met speserye te maak. Daar is ook resepte in vir verskillende Indiese brode.

Spice, Christine Manfield

Hierdie boek het wonderlike, anderste resepte wat jou sal inspireer om met speserye te kook. Daar is ook 'n indeks van beskikbare speserye met kort beskrywings, 'n groot verskeidenheid spesery-mengsels en hope resepte in.

Cass Abrahams Kook Kaap-Maleis

Hierdie is 'n lekker Afrikaanse kookboek oor die kos en kultuur van die Kaap-Maleiers.
 

Custom Search