WIE IS ONS? | GRATIS NUUSBRIEF | MEDEWERKERS | ADVERTEER
jou gesinstydskrif – maandeliks, gratis en wêreldwyd

Speel die sokkertyd om!

Rozanne Myburgh


deur Rosa en Wilna Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend








Wees kreatief en gebruik die sokker as tema om jou kinders hierdie vakansie besig te hou.

Die 2010 Wêreldbekersokker is hier! Oral waar jy kyk kan jy die tekens sien. Die skole hou sokkerwedstryde en Vrydae trek almal by die skool sokkerklere van hul gunsteling span aan. Ja, die koors loop omtrent hoog.
jouwêreld het gaan kers opsteek by 'n klompie skoolkinders om te hoor watse interessante idees hulle het vir speletjies vir die lang vakansie. En natuurlik het al hierdie speletjies 'n sokkertema!

Kies 'n wenspan

Elkeen in die familie moet 'n span kies, wat hulle dan die hele sokkertyd moet ondersteun.
Dra jou span se kleure; dit kan die landsvlag of sokkertruie se kleur wees – jy kan selfs 'n hoed opsit met die kleure van jou span.
Julle kan ook 'n telbord opsit om die punte dop te hou en 'n kalender aflaai sodat elkeen kan sien wanneer dit sy/haar span se beurt is om te speel.

Wees sokker-kreatief

As jy nie sokker wil kyk nie, kan jy nogtans sokker-inspirasie kry vir 'n paar kreatiewe aktwiteite:

* Maak 'n plakboek van die span wat jy ondersteun of van ons eie Bafana-Bafana. Of sommer van al die wedstryde. Tydskrifte en koerante sal in die volgende tyd baie foto's en artikels oor die sokkerspelers plaas.

* As jou kind van koekbak hou kan 'n groot plat koek gebak word en versier word soos 'n veld met doelpale. Sosatiestokkies kan ingespan word vir doelpale en 'n lemoensak kan vir die net geknip word.

* Neem afvalmateriaal en bou 'n stadion. Jy kan byvoorbeeld leë eierhouers of kartonhouers gebruik en afvalstukkies papier en karton.

* 'n Interessante manier om jou kinders besig te hou is om hulle self 'n bordspeletjie te laat bou, hulle moet dit self uitdink en die reëls opstel. Jy kan byvoorbeeld vlae uitdruk of kaartjies sny, skryf dan agterop elkeen iets wat jy moet doen sou jy daarop te lande kom. Gebruik sommer Monopoly as voorbeeld. Pak die vlae en kaartjies in 'n interessante formaat op 'n tafel uit en dan speel almal saam met 'n dobbelsteen en sommer knope as pionne.

Hou jul eie sokkerkampioenskap


Hoekom net sit en kyk hoe ander mense sokker speel? Kry jou gesin of maats bymekaar en hou teen mekaar kompetisie. Om die hele gesin te betrek kan die ouers teen die kinders speel, of dalk ma en dogters teen pa en seuns. Hou die kompetsie interessant, laat die verloorder vir die wenner vir 'n fliek skiet, of sommer 'n Coke of lekkergoed.

* Vat leë 2 liter-bottels, maak hulle vol sand en pak dan die bottels op die gras uit. Dribble met jou bal en hou so 'n wedstryd. Dis ook 'n goeie manier om jou balvaardighede te oefen, voor die groot kompetisie begin.

* Vingersokker kan met tafeltennisballetjies gespeel word. Vou 'n karton vir doelpale, staan weerskante van die tafel en kyk wie kan die meeste doele aanteken.

* Hou 'n regte wedstryd: Gebruik sommer 'n asblik of groot kartonboks vir doelpale.

Speletjies met landsvlae


Sokkertyd is 'n uitstekende tyd om verskllende lande en hul vlae te leer ken. Van die speletjies kan ook oppad na jul vakansiebestemming gespeel word. Dit verbreed sommer boet en sus se algemene kennis, terwyl dit hulle besig hou. Druk die vlae op witpapier uit. Knip hulle uit en probeer een van die speletjies.

* Neem 'n atlas en kyk waar die lande geleë is. As jy nou eers wil slim word, probeer om die hoofstede van elke land te leer. Laat een persoon 'n vlag ophou, en dan kan die een wat eerste reg is, weer die volgende vlag ophou, ensovoorts.

* Maak 'n pakkie met die vlae en hou hulle onderstebo. Laat almal beurte maak om een van die vlae op te tel. Die ander persoon moet met 5 vrae kan vasstel watter land se vlag jy het. Jy mag slegs vrae met ja en nee antwoorde vra. Voorbeelde van vrae is: Het die vlag meer as een kleur? Het die vlag sterre op? Is die kleur blou een van die vlag se kleure?

*Geheuespel. Druk 2 stelle vlae-kaartjies uit. Pak hulle onderstebo op die grond uit. Maak beurte om twee op 'n slag op te lig. Die een wat eerste die meeste maatjies gekry het wen.

* Neem 'n vel papier en skryf die alfabet rond en bont neer. Deelnemer een maak sy oë toe en druk met 'n pen op die papier. Met die letter wat hy tref moet elkeen so gou as moontlik 'n sokkerland neerskryf. Na 15 minute kan julle kyk wie het die meeste reg het.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke |
gratis nuusbrief | medewerkers | adverteer | wie is ons?

Kopiereg © 2008-2010