|
jouleefstyl
Speel met kleurvolle eenjariges
As jy by jou kwekery instap sal jy beslis die kleurvolle massas eenjarige plante raaksien: dit is daardie wat so ongelooflik kleurvol is en boonop goedkoper is as 'n bos blomme! Speel só met hulle . . .
deur Wilna Myburgh
Ek het onlangs 'n
wonderlike aanhaling van Winston Churchill (1874 - 1965) raakgelees: "I
cannot pretend to feel impartial about colors. I rejoice with the
brilliant ones and am genuinely sorry for the poor browns."
Maar, kom ons kyk eers na die kleurwiel en hoe ons hom kan gebruik om plante aan te koop.
Eenkleur-kleurskema Vanselfsprekend gebruik hierdie skema net een kleur. Jy kan verskillende plantsoorte met dieselfde kleur saamvoeg of een plant in een kleur in 'n pot plant. Ons het rooi angeliertjies in 'n pot geplant en voor 'n pilaar staan gemaak om die pilaar se voorkoms te versag.
Komplementêre kleurskema Komplementêre kleure is die wat teenoor mekaar op die kleurwiel verskyn. Hierdie kombinasie van pers alyssum en geel gousblomme (gazania) is 'n perfekte voorbeeld van hoe twee blomkleure mekaar kan aanvul om beide se kleure meer te laat uitstaan.
Aangrensende kleurskema
Monochromatiese
kleurskema Die monochromatiese kleurskema werk baie goed, veral as dit met wit gekombineer word. Ons het ook 'n vaatjie met wit gousblomme (gazanias), floksies in verskillende skakerings van pienk, 'n pienk hanekam en wit alyssum geplant. In die waentjie het ons sommer 'n mengsel van al die eenjariges in die pienk- en wit-families gemaak. Daar is wit gousblomme, wit alyssum, pienk angeliere en wit en pienk floksies. Baie van die eenjariges kom in pienk voor - hier is nog 'n pot met pienk-skakerings, dié keer met pienk angeliertjies, saam met 'n pienk petunia en wit alyssum. Die
pienk en wit angeliertjies en pers
alyssum wat na ons
plant-aksie oorgebly het, maak 'n uitstekende
verjaardaggeskenk in 'n rottangmandjie. Eenjarige plante se behoeftes is baie dieselfde as die van kinders. Die enigste (ooglopende) verskil is dat hulle net 1 jaar oud word en dat hulle nie met woorde nie, maar met talle kleurryke blomme, terugpraat.
Gun hulle 'n plekkie onder die son Meeste eenjariges wil in die vol son staan. In sonnige Suid-Afrika kan die vol son egter in die namiddag bloedig warm raak, maak dus seker dat hulle nat genoeg is, of, nog beter, plaas hulle op ‘n plek waar hulle net die oggendson gaan sien. Skep vir hulle 'n tuiste Jy kan dié plante in blombeddings, potte, hangmandjies en vensterkassies plant. Die plante kan ook gebruik word as randakkers en om weerskante van tuinpaadjies te plant. Voed hulle Eenjarige plante het nie eintlik baie kos nodig nie. Die grond waarin hulle geplant word moet aan die begin genoeg voeding bevat. Koop 'n goeie potgrond en werk 'n bietjie kompos by. Hou egter die plante dop: ongeveer 6 – 8 weke nadat hulle geplant is, kan hulle doen met 'n skoot kunsmis. Dit sal nodig wees as hulle traag groei en nie meer blomme stoot nie. Les hulle dors Dis belangrik om die plantjies water te gee direk nadat hulle geplant is. Gee daarna eerder af en toe baie water, as om herhaaldelik net 'n bietjie water te gee. Die blomblare moet droog gehou word om blomblaarsiektes te voorkom. Aangesien dit dikwels moeilik is, word daar aanbeveel dat jy in die oggend water moet gee, sodat die blom deur die dag kan droog word. Beskerm hulle Boombas of ander soorte deklae kan tussen die plantjies gegooi word. Dit lyk nie net mooi nie, dit help ook om die water langer binne die grond te hou, dit hou die grond koel en dit verminder die groei van onkruid. Hou die vyand van hulle af weg Onkruid is kompetisie vir die kos en water wat jou plante ontvang. Daarom moet jy onkruid uittrek terwyl dit nog klein is. Gelukkig sal onkruid nie 'n groot probleem wees as jou blomme eers begin groei en die grond bedek nie. 'n Deklaag wat die bolaag beskerm sal ook onkruid beveg. Vat hulle haarkapper toe Eenjarige plante het nie baie onderhoud nie. Meeste blomme val sommer vanself af as hulle doodgaan, terwyl ander soos petunias, salvia, geranium, zinnias en afrikanertjies se blomme afgepluk moet word wanneer hulle dood is. Dit sal help om die plantjies se blomtydperk te verleng en meer blomme te vorm.
Nou is jy gereed om jou kindertjies by die kwekery te gaan op laai – onthou om te betaal - en dan kan jy begin speel!
|