November 2008
Jaargang 1 Uitgawe 4

 

 


  Speel met kleurvolle eenjariges

jouleefstyl
hoofinhoud
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel


deur
Wilna Myburgh

E-pos die skrywer

 

As jy by jou kwekery instap sal jy beslis die kleurvolle massas eenjarige plante raaksien: dit is daardie wat so ongelooflik kleurvol is en boonop goedkoper is as 'n bos blomme! Speel só met hulle . . .

Ek het onlangs 'n wonderlike aanhaling van Winston Churchill (1874 - 1965) raakgelees: "I cannot pretend to feel impartial about colors. I rejoice with the brilliant ones and am genuinely sorry for the poor browns."

Dis vir my wonderlik omdat ek heelhartig saamstem, veral in die tuin waar die grond so vreeslik bruin is. Ek kan my nie 'n tuin sonder 'n druppel kleur, dis nou behalwe groen, voorstel nie. Maar te veel kleure deurmekaar raak ook weer heeltemal te bont. Raadpleeg die kleurwiel om die kleurkombinasies in jou tuin saam te stel. Daar is verskillende maniere om die kleure saam te voeg om dit ekstra trefkrag te gee.

Ons het van hierdie kombinasies in verskillende potte geplant om dit te demonstreer. Die lekkerte van potte is dat jy hulle enige plek kan skuif waar jy kleur nodig het. Dis ook waarom ons hulle in 'n waentjie geplant het – die wa kan nou gaan net waar ons kleur nodig het. As jy nie 'n waentjie uit jou kleintyd het nie, kan jy 'n kruiwa ook gebruik. Dis baie handig as jy gaste kry en 'n vaal of donker kol wil versteek.

Eenjarige plante is ook wonderlik, omdat hulle onmiddellik kleur gee. As jy hulle vir so 'n "noodgeval" koop, kan jy hulle sommer gou net so in die kwekery-sakke plant, grond oorgooi en dit later ordentlik doen. Kyk ook dat jy dié koop wat sommer baie blommetjies aanhet. Dikwels bly daar een of twee klein plantjies oor nadat jy jou groter potte geplant het: As jy bietjie in jou garage rondkrap, kry jy dalk ou klein potte waarin jy twee of drie van hulle kan plant. Dit maak 'n uitstekende geskenk, wat langer as duur blomrangskikkings hou, en sommer meer kreatief en goedkoper is.

Maar, kom ons kyk eers na die kleurwiel en hoe ons hom kan gebruik om plante aan te koop.

Eenkleur-kleurskema

Vanselfsprekend gebruik hierdie skema net een kleur. Jy kan verskillende plantsoorte met dieselfde kleur saamvoeg of een plant in een kleur in 'n pot plant. Ons het rooi angeliertjies in 'n pot geplant en voor 'n pilaar staan gemaak om die pilaar se voorkoms te versag.

 

Komplementęre kleurskema

Komplementęre kleure is die wat teenoor mekaar op die kleurwiel verskyn. Hierdie kombinasie van pers alyssum en geel gousblomme (gazania) is 'n perfekte voorbeeld van hoe twee blomkleure mekaar kan aanvul om beide se kleure meer te laat uitstaan.

 

Aangrensende kleurskema

Die kleurskema kombineer kleure wat aangrensend op die kleurwiel is. Ons het 'n versameling van rooi, geel en oranje hanekamme (celosia), afrikanertjies (marigolds) en geel gousblomme (gazanias) gemaak, om die aangrensende kleure rooi, oranje en geel te wys.
Monochromatiese kleurskema

Vir hierdie kleurskema gebruik jy verskillende skakerings van lig tot donker van een kleur. 'n Dubbel-petunia in pers en wit, saam met bloupers-floksies (dwarf phlox) en alyssum in pers en wit dui hier die verskillende skakerings van pers aan.

 

In die waentjie het ons sommer 'n mengsel van al die eenjariges in die pienk- en wit-families gemaak. Daar is wit gousblomme, wit alyssum, pienk angeliere en wit en pienk floksies.

 

Baie van die eenjariges kom in pienk voor - hier is nog 'n pot met pienk-skakerings, dié keer met pienk angeliertjies, saam met 'n pienk petunia en wit alyssum.
Die monochromatiese kleurskema werk baie goed, veral as dit met wit gekombineer word. Ons het ook 'n vaatjie met wit gousblomme (gazanias), floksies in verskillende skakerings van pienk, 'n pienk hanekam en wit alyssum geplant.

Die pienk en wit angeliertjies en pers alyssum wat na ons plant-aksie oorgebly het, maak 'n uitstekende verjaardaggeskenk in 'n rottangmandjie.

Eenjarige plante se behoeftes is baie dieselfde as die van kinders. Die enigste (ooglopende) verskil is dat hulle net 1 jaar oud word en dat hulle nie met woorde nie, maar met talle kleurryke blomme, terugpraat.

Gun hulle 'n plekkie onder die son

Meeste eenjariges wil in die vol son staan. In sonnige Suid-Afrika kan die vol son egter in die namiddag bloedig warm raak, maak dus seker dat hulle nat genoeg is, of, nog beter, plaas hulle op ‘n plek waar hulle net die oggendson gaan sien.

Skep vir hulle 'n tuiste

Jy kan dié plante in blombeddings, potte, hangmandjies en vensterkassies plant. Die plante kan ook gebruik word as randakkers en om weerskante van tuinpaadjies te plant.

Voed hulle

Eenjarige plante het nie eintlik baie kos nodig nie. Die grond waarin hulle geplant word moet aan die begin genoeg voeding bevat. Koop 'n goeie potgrond en werk 'n bietjie kompos by. Hou egter die plante dop: ongeveer 6 – 8 weke nadat hulle geplant is, kan hulle doen met 'n skoot kunsmis. Dit sal nodig wees as hulle traag groei en nie meer blomme stoot nie.

Les hulle dors

Dis belangrik om die plantjies water te gee direk nadat hulle geplant is. Gee daarna eerder af en toe baie water, as om herhaaldelik net 'n bietjie water te gee. Die blomblare moet droog gehou word om blomblaarsiektes te voorkom. Aangesien dit dikwels moeilik is, word daar aanbeveel dat jy in die oggend water moet gee, sodat die blom deur die dag kan droog word.

Beskerm hulle

Boombas of ander soorte deklae kan tussen die plantjies gegooi word. Dit lyk nie net mooi nie, dit help ook om die water langer binne die grond te hou, dit hou die grond koel en dit verminder die groei van onkruid.

Hou die vyand van hulle af weg

Onkruid is kompetisie vir die kos en water wat jou plante ontvang. Daarom moet jy onkruid uittrek terwyl dit nog klein is. Gelukkig sal onkruid nie 'n groot probleem wees as jou blomme eers begin groei en die grond bedek nie. 'n Deklaag wat die bolaag beskerm sal ook onkruid beveg.

Vat hulle haarkapper toe

Eenjarige plante het nie baie onderhoud nie. Meeste blomme val sommer vanself af as hulle doodgaan, terwyl ander soos petunias, salvia, geranium, zinnias en afrikanertjies se blomme afgepluk moet word wanneer hulle dood is. Dit sal help om die plantjies se blomtydperk te verleng en meer blomme te vorm.

Nou is jy gereed om jou kindertjies by die kwekery te gaan op laai – onthou om te betaal - en dan kan jy begin speel!
 

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel

joukommentaar

joubesluit beoordeel dié artikel

jou naam*

jou e-posadres*

jou  lewer kommentaar oor dié artikel
* nie verpligtend

     

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jouwereld tuisblad ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

 

 



 



Lees ons ander uitgawes
Augustus

September
Oktober
November
Desember