|
|
|
|
|
Hierdie slaaie praat elkeen
hard en duidelik vir homself – hulle het skaars
'n inleiding nodig. Al wat wag, is dat jy moet
wegspring om die bestanddele te koop en die
slaai te maak!
Hier is drie slaairesepte om die laaste
somermaande mee te verlig:
●
Pomelo- en avokadoslaai met gepeperde steak
●
Hoender-, appelkoos- en koeskoesslaai met
kruisement en sitrus
●
Geroosterde groenteslaai met
basiliekruidslaaisous en pekorinokaas |
 |
Pomelo en avokado is vir my 'n ongelooflike
lekker kombinasie. Dit hou van baie peper –
daarom is die gepeperde steak regtig lekker
hierby. As jy egter gesonder wil voel of wees,
kan jy dit met gemak sonder die vleis maak. Die
enigste ding wat jy in gedagte moet hou wanneer
jy dié slaai maak, is dat dit smeek vir 'n
glasie yskoue witwyn! Wat kan 'n mens nou doen?
As 'n slaai gepraat het, het hy gepraat!
Hierdie resep maak genoeg vir 2 - 3 mense.
Vir die slaai:
●
gemengde babaslaaiblare (mesclun: jong
spinasieblare, slaairoket, mizuna, waterkers en
ander)
Rangskik die blare op 'n groot slaaibord en
rangskik dan die volgende bestanddele bo-op,
voordat jy dit met die slaaisous besprinkel.
●
1 avokado
Sny in skyfies, besprinkel met 'n squeeze
of twee suurlemoensap, sout en varsgemaalde
swartpeper.
●
1 pomelo
Sny skyfies deur eers die bo- en onderkant af te
sny en dan met 'n skerp mes van bo na onder die
skil te verwyder. Nou kan jy die skyfies uit hul
huisies sny. Hou 'n bakkie onder die pomelo
terwyl jy werk om die sous op te vang. Nadat jy
al die skyfies verwyder het, druk die laaste sap
ook in die bakkie in. |
|
●
¼ komkommer
Sny dun skyfies komkommer. Jy kan dit selfs met
'n groenteskiller in lang, dun repies sny.
●
1 steak van jou keuse
Besprinkel die steak aan beide kante met sout en
baie – ek bedoel régtig baie – varsgemaalde
swartpeper. Braai dan in 'n pan tot die gaarheid
wat jy verlang. Laat vir 5 – 10 minute eenkant
staan, voordat jy dit in dun repies sny.
Vir die slaaisous:
90 ml joghurt
45 ml pomelosap (sien bo by pomelo hoe om die
pomelosap te kry, as jy nie genoeg het nie,
gebruik suurlemoensap)
10 ml bruinsuiker
15 ml olyfolie
5 ml heelkorrelmosterd
sout en varsgemaalde swartpeper
1 sprietui
Meng al die slaaisousbestanddele saam. Gooi in
'n klein bekertjie om oor die slaai te gooi,
asook om ekstra te hou vir elkeen om self nog
oor hul slaai te gooi.
|
 |
Dié resep is nou wat ek
sou noem 'n mond vol. Dit bestaan uit 3 dele:
die koeskoes met komkommer, sitrussap en
kruisement, die hoender wat in joghurt en
kruisement gemarineer word en dan die blaarslaai,
appelkose, rooi uie en amandels. As jy dit nou
so deel-vir-deel volg, sal jy sien dis glad nie
ingewikkeld of langdradig nie. Die koeskoes kan
jy ook allenig as bygereg bedien – dis
verfrissend-vullend. Jy kan ook die hoender
weglaat as jy vegetaries wil eet. In plaas van
appelkose kan jy ook ander vrugte, soos perskes
of nektariens, probeer. Of selfs gedroogde
appelkose as dit buite seisoen is. Wat ook al jy
doen – geniet dit!
Dié resep maak genoeg vir 4 honger mense.
Vir die koeskoes:
200 ml water
sout of hoenderaftrekselpoeier / -blokkie
200 ml koeskoes
15 ml olyfolie
25 ml suurlemoensap
50 ml lemoensap
5 ml suurlemoenskil
5 ml lemoenskil
15 ml vars, gekapte kruisementblare
½ koppie gerasperde komkommer (opsioneel)
Bring die water tot kookpunt. Gooi die sout of
hoenderaftreksel by om geur te gee. Sodra die
water kook kan jy die pot van die hitte aftrek
en die olie en koeskoes bygooi. |
|
Laat staan vir ongeveer 5 minute met die deksel
op. Roer dan met 'n vurk om enige klonte los te
maak. Hou eenkant om af te koel.
Wanneer die koeskoes koud is, kan jy die res van
die bestanddele bygooi.
Vir die hoender:
4 hoenderborsies, sonder vel en been (300 – 400
g)
100 ml gewone joghurt
15 ml vars, gekapte kruisementblare
5 ml vars gemmer, gerasper (opsioneel)
15 ml suurlemoensap
Meng al die bestanddele vir die marinade. Bedek
die hoenderborsies daarmee. Laat die spul nou
marineer vir ten minste 30 minute. Dit kan maar
langer wag as jy vroeër begin.
Haal die meeste van die marinade van die hoender
af. Braai dan die hoenderborsies in 'n pan, maak
seker dat hulle behoorlik gaar is.
Laat staan eenkant. Wanneer dit koud genoeg is,
kan jy hulle in dun skywe sny.
Vir die slaaisous:
15 ml heuning
15 ml olyfolie
15 ml suurlemoensap
Meng al die slaaisousbestanddele saam en hou
eenkant.
Om die slaai te maak:
●
¼ rooi ui
Sny die ui in baie dun skyfies en bedek dit met
suurlemoensap. Dit vat die ergste byt uit. As
dit so dun gesny is, het mens regtig nie baie
nodig nie. Gooi maar die suurlemoensap weg nadat
jy die uie daaruit gevis het.
●
6 appelkose, gehalveer
Braai die appelkose in 'n pan, net tot deurwarm
– hulle moenie papsag word nie. As jy lekker ryp,
sagte appelkose het kan jy selfs los om hulle te
braai.
Steel een derde van die slaaisous, en gooi oor
die appelkose.
●
60 ml gevlokte amandels, liggies in 'n pan
gerooster
●
vars slaaiblare, van jou keuse
Meng die oorblywige slaaisous met die slaaiblare.
Dit moet net voor opdiening gedoen, anders gaan
jou blare pap word.
Nou is dit tyd om – uiteindelik – die slaai saam
te stel:
Gooi die koeskoes onderin die slaaibak. Sit nou
die blaarslaai bo-op. Rangskik die
hoenderskyfies, appelkose, rooi uie en amandels
bo-op die blaarslaai. Sien – dit was nou glad
nie moeilik nie! Smaaklike ete!
|
|
 |
Geroosterde groente is een
van die maklikste geregte om vir enige
hoeveelheid mense te maak, aangesien dit maklik
vermeerder en jy regtig jou inisiatief kan
gebruik om die groentesoorte te verander. Al wat
belangrik is, is dat al jou groente gaar is.
Veral die eiervrug: dit moet so half deurskynend
begin lyk.
Dié resep maak genoeg vir 3 – 4 mense.
●
1 eiervrug
Sny in ronde skywe van 0.5 cm, sprinkel elke
skyf weerskante met sout en laat staan in 'n
vergiettes vir 15 minute. Spoel deeglik af.
●
25 – 50 ml olie
●
sout en varsgemaalde swartpeper
●
1 klein botterskorsie (so 300 g is heeltemal
genoeg)
Sny in blokkies van 1 x 1 cm. Mikrogolf op hoog
vir so 5 minute om net-net sag te maak.
●
aspersies, ongeveer 12
Breek die onderpunte af.
●
1 rooi soetrissie
Sny in blokkies van so 2 x 2 cm.
●
bruin sampioene
●
kersietamaties (opsioneel)
●
swart olywe (opsioneel) |
|
●
25 ml balsamiese asyn
●
½ suurlemoen
●
10 ml gekapte vars basiliekruid
●
vars slaaiblare van jou keuse
●
pecorino- of parmesankaas
Vir
die slaaisous:
30 ml gekapte vars basiliekruid
20 ml olyfolie
10 ml suurlemoensap
10 ml balsamiese asyn
½ ml aangemaakte mosterd
knypie suiker
sout en varsgemaalde swartpeper
Voorverhit die oond tot 200 °C.
Kry 'n lekker groot oondpan. Gooi 'n lagie
sonneblom- of olyfolie in: so 25 – 50 ml. Pak
die eiervrugskywe in 'n enkellaag. Draai elkeen
om sodat hulle aan beide kante olie het.
Sprinkel met sout en varsgemaalde swartpeper.
Bedek die pan met foelie en rooster vir 15
minute.
Draai die eiervrugskywe om en gooi die
botterskorsieblokkies, aspersies, soetrissie en
bruin sampioene by. Rooster vir nog 10 minute.
Verlaag die oond se temperatuur tot 180 °C.
Gooi nou die kersietamaties en olywe by as jy
wil. Gooi ook die balsamiese asyn, suurlemoensap,
basiliekruid en nog sout en swartpeper oor.
Rooster vir 5 minute.
Hou eenkant om effens af te koel.
Meng al die slaaisousbestanddele.
Rangskik die slaaiblare op 'n opdienbord.
Skep die geroosterde groente bo-oor.
Gooi van die slaaisous oor.
Rasper pecorinokaas oor. |
|