|
|
|
|
Wil jy 'n storie skryf maar weet nie of jy die talent het nie? Een van Suid-Afrika se veelsydigste skrywers deel haar geheim hoe om suksesvol te wees.
|
|
|
Onlangs het 'n nuwe skrywer aan my gevra of sy 'n boek sal kan skryf wat gepubliseer word, al is sy nie 'n goeie skrywer nie.
Dit het my in 'n moeilike situasie geplaas: aan die een kant wou ek nie haar droom vernietig nie, maar aan die ander kant wil ek nie vir iemand vals hoop gee nie. Ek het op twee gedagtes gehink. Die eerste was of iemand wat totaal talentloos is hoegenaamd sou wou leer skryf. Ek het besluit dat die kans skraal is.
Die tweede was of iemand met 'n middelmatige skryftalent wel 'n publiseerbare manuskrip sou kon lewer.
Hierdie innerlike debat het veroorsaak dat ek harde vrae oor my eie sogenaamde skryftalent aan myself begin vra het. Waaraan is die mate van sukses wat ek behaal het te danke? Aan talent of aan swoeg en sweet? Of dalk aan 'n ietsie van albei?
Dit ly geen twyfel dat my skryfwerk oor die jare aansienlik verbeter het nie – maar dit het nie vanself gebeur nie. Ek was vas van plan om die skryfkuns onder die knie te kry en het hard aan my uitdrukkingsvermoë, skryfstyl en taalkennis gewerk. Elke boek oor die skryfkuns het ek verslind. Elke sin het ek geskaaf tot dit glad op die tong lê. Elke woord het ek geweeg om seker te maak dis presies reg.
En ek doen dit steeds.
My stories lees ek oor en oor: soms hardop, soms sag, maar altyd met my leser voorop in my gedagtes. Hoe my leser 'n spesifieke stukkie skryfwerk ervaar, is 'n vraag wat altyd in my gemoed draai. Is hierdie gedeelte boeiend, prikkelend en duidelik geskryf, of is ek besig om my leser te verveel of te verwar?
Dis dié soort passie wat jy moet hê as jy suksesvol wil wees, al voel jy dalk jy het nie baie natuurlike talent nie. Die rede is dat skryf nie net 'n kunsvorm is nie, maar ook 'n ambag. Selfs skrywers met hope natuurlike talent moet hul talent gedurig slyp.
Dis dáárdie skrywers wat skryf as 'n lewenslange leerskool beskou – 'n ambag wat jy nooit ten volle bemeester nie – wat op die ou end die suksesvolste is, al voel hulle dalk hulle het met 'n agterstand begin.
Janie Oosthuysen word as een van Suid-Afrika se veelsydigste Afrikaanse kinderboekskrywers beskou.
Sy is 'n bekroonde skrywer wat al amper twee honderd kinder-, tiener- en skoolboeke geskryf, vertaal en geredigeer het.
Sy is ook die vertaler van die eerste vyf Harry Potter-boeke waarvoor sy in 2002 met die Akademieprys bekroon is.
Het jy enige vrae? Kontak Janie by janie@skryfgeheime.co.za.
Besoek ook www.skryfgeheime.co.za.
|
|
|