|
|||||||
'n Doodgewone toneel of storie kan omgetower word deur die plek heeltemal anders te maak as wat jou lesers verwag. Toe ek die Bessie Hemelbesem-reeks ontwikkel het, het ek my toegespits op komiese karakters wat nie net anders as die norm is nie, maar ook in skerp kontras met mekaar. Die Hemelbesem-gesin is besonder lank, maer en verstrooid. Tant Potjierol is weer besonder kort, rond, doelgerig en verbete. Ek het gou besef dat 'n gewone voorstedelike huis nie vir hierdie eksentrieke gesin sal deug nie en het met idees begin speel. Groot was my vreugde toe die gedagte aan 'n krom en skewe toringhuis my te binne skiet. Dis 'n lekker aweregse blyplek met talle komiese storiemoontlikhede, ook vir die illustreerder. Nie net is daar tientalle verdiepings, torings en dakkies waarin geheime vertrekke versteek kan wees nie, daar is ook 'n smal kronkeltrap waarlangs die Hemelbesems gedurig om en om moet draf (terwyl hulle oor hul eie voete val) terwyl Pietersielie die seekoei en tant Potjierol met haar loopraam kort-kort in die kronkels vassit. Dit was geen groot taak om die saak een stap verder te voer en almal op Langeraatsfontein in krom en skewe toringhuise te laat woon nie. Natuurlik hoef die plek wat jý kies nie aweregs en verkeerdom te wees nie. Dit kan ook geheimsinnig en donker wees, of selfs voorstedelik, afhangend van jou storie-idee. Wat belangrik is, is dat jou karakters én jy as skrywer die plek nie net sal bewoon nie, maar dit sal beleef sodat talle storie-moontlikhede uit die plek sal vloei. Om dit reg te kry moet jy as skrywer én jou karakters die plek deur en deur ken en sterk gevoelens daaroor hê, want sterk gevoelens lei tot sterk stories en dis sterk stories wat in aanvraag is. Janie Oosthuysen is 'n bekroonde Afrikaanse kinderboekskrywer wat sowat 200 kinder-, tiener- en skoolboeke geskryf, vertaal en geredigeer het. Sy is ook as vertaler van die eerste vyf Harry Potter-boeke in 2002 met die Akademieprys bekroon.
Het jy enige vrae oor die skryfkuns?
Kontak Janie by janie@skryfgeheime.co.za of besoek www.skryfgeheime.co.za. Wil jy 'n kinderstorie skryf maar weet nie waar om te begin nie?
Lees ook die vorige artikels in jouwêreldin Janie Oosthuysen se reeks Skryfgeheime: Skryfgeheime 1 (Januarie 2010): Hou jou potlood skerp Dis dáárdie skrywers wat skryf as 'n lewenslange leerskool beskou – 'n ambag wat jy nooit ten volle bemeester nie – wat op die ou end die suksesvolste is, al voel hulle dalk hulle het met 'n agterstand begin. Skryfgeheime 2 (Februarie 2010): Vergeet van vervelige raksitters Suksesvolle skrywers weet hoe om hul lesers se sielkundige en emosionele leesbehoeftes te bevredig. Skryfgeheime 3 (Maart 2010) Laat waai . . . en skep nuwe storiemateriaal Die tegniek van free writing betekendat jy jou verbeelding vrye teuels moet gee – en dan kyk jy wat gebeur. Skryfgeheime 4 (April 2010) Skep 'n prikkelende skurk 'n Opwindende skurk of monster is die sleutel tot skryfsukses. |
|||||||
|
Kommentaar aangedryf deur Disqus
|
|||||||
|
|||||||
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jousê | joufiksie | jougeskenke | Kopiereg © 2008-2010 |
|||||||