jouleefstyl

 Wilna Myburgh
deur Janie Oosthuysen




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Bemeester pratende diere

Kies die regte dierekarakters vir jou kinderverhaal om jou storie te laat slaag.

Die tegniek om van pratende diere in kinderstories gebruik te maak, kom en gaan – net soos modes. Op die oomblik is dit weer baie gewild, veral in prenteboeke, wat goeie nuus is indien hierdie soort verhaal tot jou spreek. Maar daar is slaggate waarvoor jy op die uitkyk moet wees.

Veral moet jy wegbly van diere soos hase, muise en bere wat al tot vervelens toe gebruik is en uitgewers tot die dood toe frustreer. Die kuns is om 'n dier te kies wat nog nie oor en oor in die letterkunde gebruik is nie, maar wat vars en anders is en ook tot lesers sal spreek. Dink byvoorbeeld aan iets soos Pietersielie die seekoei in die Bessie Hemelbesem-reeks (Lapa Uitgewers).

Jy moet ook besef dat 'n bekkige pikkewyn of 'n heldhaftige krokodil nie 'n flou storie gaan red nie. Nee, dierekarakters moet, nes mensekarakters, oortuigend en uniek wees en die storielyn moet deeglik ontwikkel wees met 'n sterk spanningslyn en groot hoogte- en laagtepunte.

Basies manifesteer pratende diere op een van drie maniere in die kinderliteratuur. Eerstens is daar daardie boeke waar die dierekarakters sodanig vermenslik is dat hulle, behalwe wat voorkoms betref, eintlik nie as diere herkenbaar is nie. Nes enige menslike karakter is hulle deel van 'n gesin en 'n groter gemeenskap. Hulle dra klere, gaan skool toe, speel met speelgoed en het menslike probleme, hoewel tipies kinderlik van aard. Die feit dat die karakters diere is, maak hulle ouliker vir die jong lesers, maar wat gedrag betref, is hulle tipies mens. Hierdie soort dierekarakters tref ons veral in ouer stories aan.

Tweedens is daar daardie boeke waar die diere soos mense optree, maar met behoud van sekere dierlike eienskappe. So slaap Franklin die seeskilpad ('n reeks deur Paulette Bourgeois) in sy dop en is ontevrede omdat hy nie tande het nie en dus nooit iets by die tandemuis sal kry nie. Lesers vereenselwig met die karakter omdat hulle met sy behoeftes en begeertes identifiseer, en leer terselfdertyd iets oor die diersoort se ware aard. In hierdie verhale dra die diere gewoonlik nie klere nie.

Derdens is daar diere wat kan praat, maar verder nog heeltemal hulself is. Gewoonlik tree hulle soos gewone diere op wanneer hulle tussen mense is en gesels gevolglik nie met die menslike karakters nie. Hoewel hulle probleme het waarmee kinders kan identifiseer, los hulle dit binne die raamwerk van hul eie wêreld op. 'n Goeie voorbeeld is Charlotte’s Web deur E.B. White.

Natuurlik is daar variasies op die tema, maar hierdie raamwerk wys hoe die meeste skrywers dit doen. En natuurlik kan jy, wanneer jy hierdie “reëls” eers bemeester het, begin om dit te verbreek.

Wil jy 'n kinderstorie skryf maar weet nie waar om te begin nie? Lees ook die vorige artikels in jouwêreldin Janie Oosthuysen se reeks, Skryfgeheime:

Skryfgeheime 1 (Januarie 2010): Hou jou potlood skerp
Dis dáárdie skrywers wat skryf as 'n lewenslange leerskool beskou – 'n ambag wat jy nooit ten volle bemeester nie – wat op die ou end die suksesvolste is, al voel hulle dalk hulle het met 'n agterstand begin.

Skryfgeheime 2 (Februarie 2010): Vergeet van vervelige raksitters
Suksesvolle skrywers weet hoe om hul lesers se sielkundige en emosionele leesbehoeftes te bevredig.

Skryfgeheime 3 (Maart 2010): Laat waai . . . en skep nuwe storiemateriaal
Die tegniek van free writing beteken dat jy jou verbeelding vrye teuels moet gee – en dan kyk jy wat gebeur.

Skryfgeheime 4 (April 2010): Skep 'n prikkelende skurk

'n Opwindende skurk of monster is die sleutel tot skryfsukses.

Skryfgeheime 5 (Mei 2010): Tower jou storie om met 'n prikkelende plek
Kikker 'n vaal storie op met 'n interessante plek met interessante storie-moontlikhede.

Skryfgeheime 6 (Junie 2010): Slaag die Neersit-toets
Boei jou lesers met die intrapslag met 'n sterk, opwindende intro

Skryfgeheime 7 (Julie 2010): Die suksesvolste storielyn ooit
En jy het gedink monsterverhale is vir kinders!

Skryfgeheime 8 (Augustus 2010): Boeiend van begin tot einde
Eerste indrukke tel en laaste indrukke is blywend.


Het jy enige vrae oor die skryfkuns? Kontak Janie by janie@skryfgeheime.co.za of besoek www.skryfgeheime.co.za

 

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | joumening 
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?