OUTsurance
jouleefstyl

 Janie Oosthuysen
deur Janie Oosthuysen




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Die suksesvolste storielyn ooit

En jy het gedink monsterverhale is vir kinders.

Jy het waarskynlik al gehoor dat daar net 'n sekere aantal basiese storielyne bestaan wat oor en oor in die letterkunde gebruik word. Kyk 'n mens na die geweldige verskeidenheid storieboeke om jou is dit moeilik om hierdie stelling sonder meer te aanvaar. Maar dis glad nie so vergesog soos wat dit dalk met die eerste oogopslag lyk nie. Die wiel is lankal uitgevind, ook wat stories betref. In die praktyk word sekere basiese storielyne inderdaad oor en oor gebruik, telkens met ander karakters en insidente wat die onderliggende storielyn soms só goed verbloem dat dit amper onherkenbaar is. Met 'n bietjie oefening sal jy gou leer om die verskillende storielyne uit te ken. Jy sal ook sien dat dieselfde storielyne in boeke vir kinders, jongmense en volwassenes voorkom.

Voel jy nou heeltemal ontmoedig? Het jy gedink jou stories gaan vars en nuut wees en die boekewêreld oorrompel? Wel, hulle gaan! Die geheim is om die bestaande storielyne nuut en vars te maak met uitdagende karakters, opwindende plekke en insidente wat aangrypend, boeiend en anders is. Kortom, die idee is nié om jou storie rigied in 'n bepaalde storielynvorm te giet nie, maar wel om nie jou kop in die sand te steek en al die navorsing wat al oor stories gedoen is te ontken nie. Nee, dis baie produktiewer om te gaan kyk hoe die verskillende storielyne in die teorie werk en in die praktyk aangewend word en dan daardie kennis te benut en te verfris.

Die uitwerking sal tweeledig wees: eerstens sal jy elke nuwe boek wat jy lees met groter begrip benader; tweedens sal jy riglyne en hulpmiddels ontdek waarmee jy jou eie stories kan verbeter en verdiep.  

Kom ons kyk na die suksesvolste storielyn ooit: Die Verslaan-die-monster-storielyn word opgebou uit ses stappe wat logies op mekaar volg.

Stap 1: Afwagting en oproep tot aksie (The Call). Die leser raak geleidelik bewus van 'n bedreiging, maar veraf, op 'n afstand, 'n dreigende skaduwee wat oor die karakters se wêreld hang. In sommige boeke saai die monster met die intrapslag verwoesting, maar in die meeste gevalle loop sy reputasie hom vooruit: hy word oor gepraat, ook deur ooggetuies wat sy magte bewend aanskou het. Wanneer die aard van die monster goed in die verbeelding van die leser gevestig is, kom die oproep tot aksie: die held word geroep om die bose mag te konfronteer.

Stap 2: Die droomfase. Die held berei hom voor op sy taak en ontvang die nodige toerusting (talente en/of wapens) by 'n mentor of kundige. Hy gaan die monster tegemoet. Aanvanklik voel alles vir hom soos 'n droom, asof alles glad en moeiteloos sal verloop.

Stap 3: Die ontnugtering. Eindelik ontmoet die held die monster van aangesig tot aangesig. In kontras met die monster is die held klein, onskuldig en weerloos. Dit lyk asof die held in die monster se kloue gaan beland en asof alles dan verlore sal wees.

Stap 4: Die nagmerriefase. Die held raak gewikkel in 'n stryd tot die dood toe wat toeneem in intensiteit en op 'n krisis afstuur. Dit lyk asof die oormag so groot is dat hy met sy lewe sal boet.

Stap 5: Die noue ontkoming. Op die heel laaste oomblik word die monster gedood en die donker mag afgeskud. Die gemeenskap wat in die monster se skaduwee geleef het, is bevry.

Stap 6: Die held word beloon. Die held ontvang die koninkryk en die beeldskone prinses se hand.

Hierdie storielyn kom voor in verhale so uiteenlopend soos Jaws, The Guns of Navarone, Bessie Hemelbesem en die skat van Smokkelaarsbaai én Jan en die boontjierank. Talle sielkundige rillers steun ook sterk op hierdie basiese intrige. Ook jy kan dié verskillende stappe aanwend om jóú verslaan-die-monster-verhaal meer oortuigend en intenser te maak.

Janie Oosthuysen is 'n bekroonde Afrikaanse kinderboekskrywer wat sowat 200 kinder-, tiener- en skoolboeke geskryf, vertaal en geredigeer het. Sy is ook as vertaler van die eerste vyf Harry Potter-boeke in 2002 met die Akademieprys bekroon.

Het jy enige vrae oor die skryfkuns? Kontak Janie by janie@skryfgeheime.co.za of besoek www.skryfgeheime.co.za.


Wil jy 'n kinderstorie skryf maar weet nie waar om te begin nie? Lees ook die vorige artikels in jouwêreldin Janie Oosthuysen se reeks Skryfgeheime:

Skryfgeheime 1 (Januarie 2010): Hou jou potlood skerp
Dis dáárdie skrywers wat skryf as 'n lewenslange leerskool beskou – 'n ambag wat jy nooit ten volle bemeester nie – wat op die ou end die suksesvolste is, al voel hulle dalk hulle het met 'n agterstand begin.

Skryfgeheime 2 (Februarie 2010): Vergeet van vervelige raksitters
Suksesvolle skrywers weet hoe om hul lesers se sielkundige en emosionele leesbehoeftes te bevredig.

Skryfgeheime 3 (Maart 2010): Laat waai . . . en skep nuwe storiemateriaal
Die tegniek van free writing beteken dat jy jou verbeelding vrye teuels moet gee – en dan kyk jy wat gebeur.

Skryfgeheime 4 (April 2010): Skep 'n prikkelende skurk

'n Opwindende skurk of monster is die sleutel tot skryfsukses.

Skryfgeheime 5 (Mei 2010): Tower jou storie om met 'n prikkelende plek
Kikker 'n vaal storie op met 'n interessante plek met interessante storie-moontlikhede.

Skryfgeheime 6 (Junie 2010): Slaag die Neersit-toets
Boei jou lesers met die intrapslag met 'n sterk, opwindende intro.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?