 |
Bestanddele:
Vir die skons:
1½ koppies (225 g) meel
15 ml bakpoeier
25 ml strooisuiker
½ ml sout
75 g botter / margarien, in blokkies gesny
150 ml melk
1 eier
15 ml melk / water
Vir die aarbeikonfyt:
300 g aarbeie
250 ml / 240 g suiker
2 suurlemoenskywe, met skil en wit
|
 |
Metode:
Meng al die droë bestanddele in 'n mengbak. Vryf
met jou vingerpunte die margarien in. As jy die
bak skud kom die groter stukkies margarien op –
dan kan jy hulle ook invryf.
Gooi die melk by – begin met 100 ml en gooi die
res stelselmatig by – mens het nie altyd al die
melk nodig nie. Die deeg moenie taaierig wees
nie. Knie dit liggies vir 'n half minuut sodat
dit 'n gladde deeg vorm. Bedek met kleefplastiek
en laat in die yskas vir 10 minute.
Voorverhit die oond tot 220 °C.
Nou vir daai konfyt! Moenie dat prentjies van
tannies, wat heeldag voor die stoof staan en
sweet, jou kop binneskiet nie. Die konfyt kook
tussen 5 en 10 minute en jy hoef dit nie te
bottel nie, want jy maak net wat jy benodig –
nie vir ál die bure, vriende en familie nie.
Plaas solank 'n piering in die vrieskas om die
konfyt later mee te toets.
Sny die stingels en enige
slegte plekke uit die aarbeie uit. As hulle
klein is, halveer dit, terwyl die groot aarbeie
in kwarte gesny moet word. Dit moet 300 g weeg,
nádat jy al die uitsny- knipwerk gedoen het.
Druk ongeveer die helfte van die aarbeie met 'n
vurk fyn.
Sny twee kante van die suurlemoen oor die lente
reguit af – ongeveer 'n half-sentimeter breed -
sodat jy 'n stuk kry met baie skil en wit, maar
min vesels.
Meng die aarbeie, suiker en suurlemoenstukke in
'n klein kastrol. Laat die suiker oor 'n lae
hitte smelt. Bring tot kookpunt – die suiker
moet heeltemal gesmelt wees voor dit kook. Dit
moet vinnig kook – al borrelend. Haal die konfyt
na 5 minute van die hitte af. Vat 'n teelepel
vol en gooi dit in die verkoelde piering. Plaas
in die vrieskas vir 'n minuut. Druk dit nou met
jou vinger – as dit plooie maak moet dit nog 'n
bietjie kook. Laat dit nog 2 – 3 minute kook.
Die doel van die piering-toets is om te sien hoe
jou konfyt gaan wees as dit heeltemal afgekoel
is. Die beste manier is egter om te besluit hoe
jý daarvan hou. 7 minute werk gewoonlik perfek
vir my – dan is die konfyt sag, amper soos 'n
jellie. Dit behoort nie langer as 10 minute te
kook nie – na 5 minute kan jy dit elke minuut of
2 toets – haal dit net telkens van die hitte af.
Êrens tydens die kook van die konfyt sal die
skons se 10 minute rustyd verby wees. Strooi
meel oor jou werkoppervlak – druk die deeg met
jou hande plat totdat dit so 1 ½ cm dik is. Nou
– hier is 'n belangrike "geheim" – kry 'n
koekiedrukker en druk hom binne-in die meelbak
sodat hy mooi bedek is. Druk nou met mening
reguit 'n skon uit – moenie die drukker draai of
skud nie – druk net af en tel die drukker op.
Vat dan 'n platlem- of tafelmes – druk ook in
die meel – lig die skon op en plaas op 'n
gesmeerde bakplaat. Moenie aan die kante vat nie.
Druk elke keer die drukker weer in die meel voor
jy 'n skon uitdruk. Meng die eier en die melk of
water en smeer die bokant van elke skon daarmee.
Met 'n 6 cm – drukker maak die resep 8 skons, 'n
drukker van 5 cm maak 10 – 12.
Bak vir 10 – 12 minute.
Wanneer jou konfyt na wense is, kan jy sommer
die hele batch in 'n bak in die vrieskas
sit om 'n bietjie af te koel – alhoewel dit warm
ook lekker is. Klits nou 'n bietjie room, of
rasper kaas, en geniet jou warm skons met vars,
stroperige, louwarm aarbeikonfyt en dalk 'n vars
aarbei of 2 vir die geheue.
Ons het dit sommer in 'n teeparty verander – en
die tafel met The Sunflower Fund se
bandanas gedek!
|