Petro Greeff

deur Petro Greeff




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Laat jou skoene in styl reis en jou klere met grasie hang met hiérdie tuisgemaakte bykomstighede.

Skoensakkies vir die langpad
Oorgetrekte klerehangers

Skoensakkies vir die langpad

Troetel jou skoene want hulle sorg vir jou voete! So maklik word skoene sommer net ingedruk of in 'n sak gegooi, maar dit kan anders gedoen word. Maak netjiese sakkies: dit laat jou gemoed sommer lekker lig voel en terselfdertyd word jou klere beskerm.

Benodigdhede vir een skoensak
* Materiaal van 38 cm x 40 cm
* Garing
* Koord of lint

Metode
Vou die materiaal dubbeld en stik naat aan die kort en lang kant toe tot 6 cm van die boonste rant, laat 'n stukkie van 1 cm oop, stik verder toe.
Kap rou rante om, en ja, dis nodig om die sakkie se innerlike netjies te maak! Vou die boonste rand 4 cm na verkeerde kant toe om en stik vas. Dop om, en stryk indien nodig.
Ryg 'n koord of lint in die opening en siedaar, jy het netjiese sakkies vir jou skoene.
terug na bo

Oorgetrekte klerehangers

Nou vir die klerehangers. As jy nie houthangers te koop kry nie, kyk in jou kas na die wat al 'n leeftyd agter die rug het en wat kan doen met 'n nuwe rokkie. My ma se kas het vir my 'n ryk vonds van hangers gelaat wat in 'n ry staan om oorgetrek te word.

Benodighede
* materiaal
* watteersel
* garingkrale, lint, kant of enigiets anders wat as versiering kan dien.

Metode
Sit die hanger op dubbele materiaal neer en trek die patroon af. Sny met 'n naattoelating van 10 mm uit die materiaal en so ± 50 mm langer as die hanger aan die onderkant, 'n reguit snit. Sny die watteersel dieselfde patroon behalwe 4 mm lank aan die onderkant en nie met 'n naattoelating nie.

Werk die watteersel sommer oorhands vas, aan die bokant sowel as die sykante. Stik die materiaal aan die sy- en bokant toe, maar laat 'n klein opening in die middel waar die haak van die hanger moet deurgaan. Sit die watteersel oor die hanger.

Stryk die boonste naat van die materiaal oop, want dit gee die oortreksel 'n netjiese voorkoms. Nou kan die versiering gedoen word: werk krale op of galon, blommetjies, ag laat jou verbeelding los en doen iets mooi en lekker.

Vou die onderste rant om en stryk dit plat. Werk dit toe met fyn oorhandsteek of werk af met krale of 'n fyn kantjie of net dit waarvoor jy lus. Soms sal die materiaal sommer self sê wat verkies word! Die haak kan omgehekel word, maar daar is 'n plastiekpypie wat by sommige naaldwerkwinkels verkoop word wat die hanger mooi afrond.

Al is Moedersdag nog 'n paar maande weg, maak sommer nou al 'n paar hangers vir die spesiale ma in jou lewe! En moenie haar skoene vergeet nie – haar voete het baie vir jou geloop!
terug na bo

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend