Sit neer daai foon!
Meeste motoriste het geen benul van die gevaar wat hulle vir hulself, hul passassiers en hul mede-padgebruikers inhou wanneer hulle te lekker oor die selfoon klets terwyl hulle bestuur nie. Uit 837 bestuurders wat met selfone bestuur, ry amper die helfte in die ander baan in, 23% ry in die persoon voor hulle vas, 21% sny 'n ander motor af en 18% is amper in botsings betrokke terwyl hulle oor die foon praat. Dit is wat 'n internasionale meningspeiling van Arrive Alive onlangs gevind het.
Ondanks hierdie skokkende statistiek, én wette wat dit verbied, is daar steeds mense wat lustig op hul selfone kuier terwyl hulle bestuur.
Maar hoekom slaan mense nie ag op die gevare van gesels-en-bestuur nie? Behalwe dat die meeste mense aan hul selfone verslaaf is, kan die rede hiervoor ook in die geskiedenis van ons kommunikasiestelsel gevind word.
Sellulêre tegnologie is nou maar vir die laaste 15 jaar in Suid-Afrika teenwoordig, wat beteken dat 'n groot gedeelte van die huidige selfoongebruikers uit 'n tydperk kom waar daar net by die huis en op kantoor 'n telefoon was.
Dit hou twee belangrike implikasies in: Die eerste is dat die generasie van 50 jaar en ouer daaraan gewoond is om die foon onmiddellik te beantwoord, anders mis hulle dalk 'n belangrike oproep, boodskap of sosiale geleentheid. Toe hierdie generasie jonk was, was daar nog nie eens antwoordmasjiene nie. Dit gaan teen hul grein in om nie dadelik 'n telefoon te beantwoord nie.
Die ander implikasie is dat die ouer generasie ook nie hul kinders opgevoed het oor die risiko’s wat ontstaan wanneer jy bestuur en praat of SMS nie.
Onlangs is daar 'n studie aan 'n universiteit gedoen om kwalitatief te toets wat die vlakke van afleiding van selfoongebruikers is. 'n Nar op 'n eenwielfiets, wat nogal iets ongewoons is om te sien, is op die kampus “geplant”. Die reaksies van die studente op die nar is bestudeer en aangeteken. Daar is gevind dat die meerderheid wat op hul selfone gepraat het nie eens die nar raakgesien het nie. Mense wat in pare geloop het, het egter wel die nar gesien, ondanks die feit dat hulle besig was om te gesels.
Aangesien die klankkwaliteit van 'n selfoon nie so goed is nie, en omdat 'n mens nie die persoon sien met wie jy praat nie, verg selfone meer aandag. Min mense besef dit en dink dat hulle ten volle gefokus bly op die pad terwyl hulle hul fone gebruik – statistiek en ware verhale gee egter 'n ander prentjie. SMS’e is nog erger as oproepe, aangesien die bestuurder kort-kort van die pad moet wegkyk, en dit kan katastrofiese gevolge dra.
Die onus rus op die industrie om verbruikers in te lig oor die gevare van bestuur en selfoongebruik, veral in 'n gemeenskap waar mense nie oorbewus van risiko’s is nie. Selfoonnetwerkoperateurs en ander mense in die selfoonindustrie moet meer verantwoordelikheid neem om veiligheid te verseker terwyl mense hul produkte gebruik.
Natuurlik lê die besluit steeds by die verbruiker, maar die industrie moet ten minste sy deel tot opvoeding bydra.
- Maak gebruik van 'n handvrye- of Bluetooth-stel in jou motor.
- Hou jou oproepe kort en kragtig. Indien jy verwag dat 'n oproep langer as 'n paar sekondes gaan neem, wees op die uitkyk vir 'n plek om van die pad af te trek.
- As jy wel vanaf jou handvrye-foon 'n oproep moet maak terwyl jy bestuur, vra 'n passassier om die nommer in te tik.Moet ook nooit notas neem, of SMS’e tik of lees, terwyl jy bestuur nie.
- Wanneer die verkeer erg besig is en jy 'n oproep ontvang, kan jy eerder vir die persoon sê dat jy later sal terugskakel wanneer dit veiliger is.
- Indien jy nie oor 'n handvrye-stel beskik nie, moenie jou selfoon antwoord nie. Dis beter om die oproep te mis as wat jy jouself en jou passassiers in gevaar stel.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na jouleefstyl volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?

