OUTsurance
jouleefstyl

Petro Greeff
deur Petro Greeff




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Servette kry 'n hoër status

Maak interessante huisitems uit servette – soos hierdie teenette, plekmatjies en skinkbordlappies.






Kliek op 'n foto vir 'n groter weergawe.

Servette het al lankal die lippe-en-hande-afvee status afgeskud en kan nou met verbeelding op vele artikels pryk. Dit is te kry in supermarkte, skryfbehoefte- en kunswinkels, en soms selfs in winkels waar jy dit die minste verwag.  Maar oe, daardie lekkerte darem om deur die pakke en pakke servette te kuier en om net agterna te wonder of jy nie tog maar 'n ander ontwerp moes kies nie, net om gou-gou weg te glip om nog 'n paar te gaan koop! Vriendinne kom gou agter as jy 'n servetjagter is en is meer as bereid om jou voorraad aan te vul. Ek het geleer om net die binnekant van 'n mooi servet te gebruik, dis mos nie nodig om die hele ding op te frommel nie! Selfs my man weet al om dit te doen as ons kuier en die gasvrou moeite gedoen het met prentjiemooi servette.

Uit servette kan allerhande interessante dinge gemaak word – soos teenette, plekmatjies en skinkbordlappies. Dit kan ook op daardie oulike winkel se sakke geplak word en selfs op rugsakke en voorskote. Die moontlikhede is legio – net soos die wonderlike ontwerpe wat daar te kry is! 

Maak 'n teenet

Jy benodig:
servet met 'n mooi ontwerp 
magic applique-papier
Dala se Waterproofing Medium vir materiaal.
Kwas en skêr
Net of organza of fyn gordynkant (sonder patroon)
strykyster en wit materiaal

Sny die materiaal net effens groter as wat die skinkbord is, besluit hoeveel dit moet oorhang en bepaal waar die ontwerp gaan kom – die grootte en kleur gee altyd 'n goeie aanduiding.
Sny die prentjie uit al die lae van die servet, maar dis nie nodig om op die lyne te sny nie. Vat twee stukkies wondergom tussen duim en voorvinger van albei hande en druk weerskante van die ontwerpie en trek die lagies papier los van mekaar. Maklik nè? Stryk die prentjie op die “magic applique paper” vas, nie met stoom nie, dit wil sê op die gomkant, maar wees versigtig om nie te hard te druk of die strykyster te warm te maak nie. Knip die prentjie versigtig uit, met die papier (van die applique papier) nog steeds aan die agterkant. Die ontwerpie is redelik stewig en sny maklik uit.

Trek die papier versigtig af en nou kan die ontwerpie op die net/organza/fyn kantgordyn vasgestryk word, natuurlik met die gomkant onder. Wees weereens versigtig vir die hitte en moenie te hard druk nie.

Smeer die medium met die kwas oor die hele ontwerpie aan en maak seker dit word oor die rand van die prentjiegesmeer. Wag tot dit heeltemal droog is voordat jy dit vir 3 minute aan die agterkant en voorkant stryk. Onthou om dit tussen twee stukkies lap te stryk, dit kan maar ou sakdoeke wees of enige ander wit materiaal.
Stik 'n mooi kant om die rand en siedaar, jy het 'n oulike teenet vir jouself gemaak waarop jy meer as trots kan wees.

Plekmatjie en skinkbordlappies

Vir 'n plekmatjie kan jy dieselfde metode gebruik, maar die materiaal en ontwerp kan soms anders uitwerk as wat jy beplan het. Ek gebruik graag gingham daarvoor maar het al gesukkel omdat die ontwerpie deurskynend word. 'n Stewige sterk kleur in die ontwerp is 'n goeie besluit. Hier is dit beslis 'n geval van oefen en probeer en weer probeer. Dit is egter so bevredigend om te maak en algaande leert men. Die plekmatjie is stewiger as dit met 'n voering afgewerk word, maar vir 'n skinkbordlappie kan 'n stukkie fraai kantjie 'n fyn afwerking wees.

So 'n fyn materiaaltjie word verkieslik met die hand gewas, maar enigiets anders kan in die wasmasjien gegooi word. Maarmoenie op die ontwerpie stryk nie, behalwe as jy 'n stryklappie bo-oor gesithet.

Wenke

Nuttige idees vir die gebruik van servette op materiaal en ander mediums. 

1. As die ontwerpie nie uitgesny kan word nie, gebruik 'n kwassie en maak rondom die ontwerpie nat, dan skeur dit maklik uit. So 'n ongelyke randjie kan baie mooi lyk.

2. As jy niedie magic applique gebruik nie, kan die ontwerpie net so op die net of materiaal geplak word met Dala se Waterproofing Medium. Die papier maak dit net makliker en die kans om te verbrou is ook minder.

3. Om servette op winkelsakke te plak, gebruik servette podge wat spesiaal daarvoor gemaak is. Dit kan met verskillende verf en omlynings versier word. Krale is ook altyd 'n wonderlik moontlikheid.

4. 'n Wonderlike manier om 'n organzalappie te bêre, is om dit op 'n stywe stuk karton op te rol. Bêre die harde rolle van die foelie, waspapier of kleefplastiek daarvoor. Of gebruik sommer enige papier, wat 'n lekker rol kan maak, om die werk te doen.

5. Nog 'n wenk wat nou niks met mooimaak te doen het nie, is om servette wat gaste net effens gekreukel het, in die plek van handdoekpapier te gebruik. Jy spaar op duur handdoekpapier en die servet word nie sommer net weggegooi nie.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?