|
Sakslim met herwonne materiaalmonsters
|
|
|
Wees innoverend en maak jou eie sak uit klein stukkies materiaalmonsters – en ontlok die groen monster by jou buurvrou.
|
|
|
Almal wil 'n sak hê – maar gekoopte sakke kan soms so verbeeldingloos wees! Voeg daarby: duur ook, en nie altyd presies volgens jou smaak en spesifikasies nie.
Nou wees dan slim en maak jou eie sak met goedkoop stukkies materiaalmonsters wat jy vir 'n appel en 'n ui by jou naaste materiaalwinkel kan kry. En maak jou buurvrou groen van jaloesie met jou innoverende sak – en persoonlikheid.
Voordat jy nou opgewonde wegspring om 'n sak te maak, moet jy eers besluit vir wie dit gaan wees of hoe dit gebruik gaan word. Byvoorbeeld: Vir jou ma of jou eie breiwerk? Vir 'n vriendin se biblioteekboeke of vir inkopies? Vir jou kind se speelgoed?
Die grootte word dan hierdeur bepaal, asook die moeite wat jy gaan doen.
Nou om daardie stukkies materiaal in die hande te kry: Alle gordynwinkels en binneversierders het materiaalmonsterboeke (samples) as voorbeelde van die materiaal wat hulle verkoop – maar as die spesifieke reeks onttrek word, word die boeke teen 'n bekostigbare prys verkoop.
Dis 'n fees om daardeur te blaai, en die versoeking bestaan natuurlik om meer boeke te koop as wat jy kan verwerk. Die materiaalmonsters is in verskeie groottes te kry en dit maak projekte meer interessant en die moontlikhede groter. Onthou om ook voeringmateriaal volgens die grootte van jou sak te koop.
Maak jou sak só:
1. Haal die materiaalmonsterboek uitmekaar; miskien met manlief se hulp.
2. Trek die gomstroke agter af. Soms sit dit erg vas en dan kan dit sommer afgesny word.
3. Meng en pas ontwerpe tot jy tevrede is.
4. Stik blokke of stroke aan mekaar en stryk naatjies oop.
5. Stik synate toe.
6. Maak handvatsels: sny twee lang stroke van ± 40 cm. Vou lang rou rante om, vou dubbeld en stik toe.
'n Ander metode om die handvatsel te maak is om stroke te sny, toe te werk en om te dop. Dit is 'n langdradige proses en baie van die materiale wil nie so maklik omdop nie.
1. Stik handvatsels aan die regte kant van die sak, op die boonste rou rant.
2. Maak 'n voering om dit mooi netjies af te rond.
3. Sit die sak en voering soos volg inmekaar: sit die sak in die voering met regte kante teen mekaar. Stik die bokante toe. Laat 'n klein opening vir die omdop.
4. Dop om, werk 'n bo-stiksel om die voering netjies binne te hou en gee so 'n laaste bietjie strykwerk waar nodig.
Die sak kan baie mooi versier word. As jy baie tyd het en versierings wil doen, doen dit voordat jy by punt 5 kom. Sierstiksels met 'n masjien, appliekwerk en blomme van lint is maar van die vele ekstras wat gedoen kan word. Soms is die materiaal reeds mooi geborduur en dan het jy nie dit nodig nie.
Geniet jou sak, of geniet dit om een weg te gee!
|
|
|