|
Opsoek na 'n selfgemaakte kersgeskenk? Dan is
hierdie artikel net die regte ding vir jou!
Dié sak is baie veelsydig – gebruik dit vir 'n
strandsak of 'n inkopiesak.
Benodighede:
1. 'n Inkopiesak. Koop een by 'n supermark.
2. 'n Motief of prentjie uit 'n inkleurboek. 'n
Prentjie met eenvoudige buitelyne werk die
maklikste.
3. Verf - Jy kan enige materiaalverf (tekstielverf)
gebruik.
Koop basiese verfkleure as jy begin, soos rooi,
blou, wit, groen, geel en swart. Jy kan meeste
ander kleure daarmee meng.
4. Kwaste – Jy kan kwaste by dieselfde winkel
koop waar jy die verf koop. Indien die prentjie
klein is, gebruik 'n kleiner kwas. Maak seker jy
gebruik 'n kwas waarmee jy gemaklik is.
5. Swart / wit omlyner ("liner")
6. 'n Sagte potlood, verkieslik 6B
7. Bakkie vir water
8. 'n Ou lap of handdoekrol
9. Ekstra houer om die verf in te meng
Onthou: Jy kan enige kleur gebruik – dit
is die lekkerte van die projek - jy kan nie 'n
fout maak nie! Ons het wit, pers, oranje en geel
gebruik vir die sak met die kat op.
Maak só:
1.
Nadat jy jou prentjie gekies het, plaas jy dit
binne in die sak en trek die lyne met 'n 6B
potlood af.
2.
Haal die prentjie uit en plaas papier, bv.
koerant, binne in. Dit is om te verhinder dat
die kleur op die agterkant van die sak deurslaan.
3.
Begin nou verf – ons het die kat se ore eerste
geverf en daarna die strepe. Gaan so aan totdat
jy die hele prentjie geverf het. Indien die
agtergrond te veel deurslaan, verf nog lae om
dit digter te kry.
Was elke keer jou kwas voordat jy 'n ander kleur
verf gebruik.
4.
Die buitelyne van die kat, asook die snorbaard,
word met die merker ingeteken.
5.
Jy kan die sak in die son plaas of met 'n
haardroër droogblaas. Sodra die verf droog is,
versier dit met krale en 'n strikkie op die kat
se stert.
Onthou:
1.
Indien jy die sak wil was, vergewis jou eers van
die instruksies op die sak.
2.
Nog maklike idees is om 'n strandbal op te verf
of 'n emmertjie en grafie. Jy kan ook met die
vryhand blomme of 'n ander prentjie op jou sak
verf. |