Dié romp
is so kleurvol en uniek dat geen man jou kan miskyk nie!
deur Rosa Myburgh
Ons noem dit 'n manvang-romp omdat daar nie 'n manier is wat jy nie
in dié kleurvolle skepping raakgesien gaan word nie!
Die romp is gemaak vir enige grootte tot by large. Soos hulle
altyd sê: dit fit all sizes! Jy kan egter jou heupe meet en
vergelyk met die strook van 58 cm x 2 (dus 116 cm) en dit daarvolgens
aanpas. Die romp is 88 cm lank. Werk nog stroke aan om die lengte aan te
pas.
Hoe vreemd dit ook al mag klink: dit is baie moeiliker om neer te skryf
hóé om die romp te maak as wat dit is om die hele romp te maak.
As jy na die foto van die romp kyk en die diagram volg, kan jy nie
verkeerd gaan nie. Al wat jy hoef te verstaan is dat die stroke
twee-twee saamloop. (Soos die diere in die ark!) Elke kleurvolle
lappie-strook en die daaropvolgende swart strook moet dieselfde lengte
wees.
Benodighede
1 meter swart materiaal
25 cm elk van 8 kleure materiaal (Kies self jou kleurvolle kombinasie.)
Breë rek, volgens jou middelmate
Werkswyse
Knip eers die swart
materiaal
2 stroke van 58 cm x 13 cm
2 stroke van 74 cm x 13 cm
2 stroke van 88cm x 13 cm
2 stroke van 104 cm x 13cm
Las nou die 8 stroke aan
mekaar vas sodat dit 4 lang stroke vorm. Jy het nou 1 strook van 116 cm,
1 van 148 cm, 1 strook van 176 cm en een van 208 cm.
Nou knip jy die bont
materiaal
Knip klein blokkies van
die verskillende kleure. Ons het ongeveer 70 blokkies gesny! Jy kan self
besluit hoe breed die blokkies moet wees. Die lengte moet egter
deurentyd 13 cm wees. Las die blokkies aan mekaar vas, sodat jy 4 stroke
het: 1 strook van 116 cm, 1 van 148 cm, 1 strook van 176 cm en een van
208 cm.
Werk aanmekaar
Begin by die boonste
strook van 116 cm. Werk al die swart stroke aan al die bont stroke vas,
volgens hulle grootte. Van agt bane het jy nou vier, elkeen is bo bont
en onder swart.
Werk 'n rygsdraad aan die bontkant (bokant) van elk van die onderste 3
bane. Trek effens in sodat die bont op die voorafgaande swart sal pas en
werk dit dan vas.
Werk die synaat toe.
Stik dan 'n omkapsteek bo-aan die rant. Vou om die rek en werk met
naaldwerkmasjien vas.
Sit die soom in. Pars.
Nou kan jy met jou mooi
manvang-romp by jou vriende spog! Of eerder op die straat staan en vir
jou man – toekomstig of huidig – wag en die romp uittoets!