|
Ons noem dit 'n manvang-romp omdat daar nie 'n
manier is wat jy nie in dié kleurvolle skepping
raakgesien gaan word nie!
Die romp is gemaak vir enige grootte tot by
large. Soos hulle altyd sê: dit fit all
sizes! Jy kan egter jou heupe meet en
vergelyk met die strook van 58 cm x 2 (dus 116
cm) en dit daarvolgens aanpas. Die romp is 88 cm
lank. Werk nog stroke aan om die lengte aan te
pas.
Hoe vreemd dit ook al mag klink: dit is baie
moeiliker om neer te skryf hóé om die romp te
maak as wat dit is om die hele romp te maak.
As jy na die
foto van die romp kyk, kan jy nie verkeerd gaan nie. Al
wat jy hoef te verstaan is dat die stroke
twee-twee saamloop. (Soos die diere in die ark!)
Elke kleurvolle lappie-strook en die
daaropvolgende swart strook moet dieselfde
lengte wees.
Benodighede
1 meter swart materiaal
25 cm elk van 8 kleure materiaal (Kies self jou
kleurvolle kombinasie.)
Breë rek, volgens jou middelmate
Werkswyse
Knip eers die
swart materiaal
2 stroke van 58 cm x 13 cm
2 stroke van 74 cm x 13 cm
2 stroke van 88cm x 13 cm
2 stroke van 104 cm x 13cm
Las nou die 8 stroke aan mekaar vas sodat dit 4
lang stroke vorm. Jy het nou 1 strook van 116
cm, 1 van 148 cm, 1 strook van 176 cm en een van
208 cm.
Nou knip jy die
bont materiaal
Knip klein blokkies van die verskillende kleure.
Ons het ongeveer 70 blokkies gesny! Jy kan self
besluit hoe breed die blokkies moet wees. Die
lengte moet egter deurentyd 13 cm wees. Las die
blokkies aan mekaar vas, sodat jy 4 stroke het:
1 strook van 116 cm, 1 van 148 cm, 1 strook van
176 cm en een van 208 cm.
Werk aanmekaar
Begin by die boonste strook van 116 cm. Werk al
die swart stroke aan al die bont stroke vas,
volgens hulle grootte. Van agt bane het jy nou
vier, elkeen is bo bont en onder swart.
Werk 'n rygsdraad aan die bontkant (bokant) van
elk van die onderste 3 bane. Trek effens in
sodat die bont op die voorafgaande swart sal pas
en werk dit dan vas.
Werk die synaat toe.
Stik dan 'n omkapsteek bo-aan die rant. Vou om
die rek en werk met naaldwerkmasjien vas.
Sit die soom in. Pars.
Nou kan jy met jou mooi manvang-romp by jou
vriende spog! Of eerder op die straat staan en
vir jou man – toekomstig of huidig – wag en die
romp uittoets!
|