RESEPTE: KOEBAAI KOUE

Neem afskeid van dié winter deur vir oulaas jou gaste op lekker warm kasserolgeregte te trakteer. jouwêreld se kok het vier nuwe resepte spesiaal vir jou beplan!


Dit was eers vir my verbasend dat meeste van die geregte wat ek graag kook van my gunsteling drinkgoed bevat. Maar nou weet ek hoe dit gebeur: Vir my gaan kook ewe veel oor die kos as die kuier. Daarom dat ek dikwels met 'n glasie sjerrie of wyn, 'n cider of 'n beker warm koffie in die hand staan en kuierkook. So vat ek nog 'n slukkie en skielik is dit net die bestanddeel om die dis in 'n dish te verander. Dis hoe dit dan gekom het dat hier resepte volg wat van jou gunsteling drankies gebruik om aandete in iets spesiaals om te tower:

Braaisous-hoender met groenbone, olywe en fetakaas
Varktjops in koffie- en uiesous
Romerige appelciderhoender met spek en sampioene
Klappermelkkerrie met lensies en groente 

Komaan, gee jou vir oulaas aan warm kasserolgeregte oor – voor die winter finaal vaarwel roep! Al die resepte maak genoeg kos vir 4 mense, wat baie honger is.
 

Braaisous-hoender met groenbone, olywe en fetakaas

Hierdie gereg is op die sterk Mediterreense geure van roosmaryn, olywe en tamatie gebaseer. Met 'n tikkie fetakaas om dit op te jazz!

1 – 1.2 kg gemengde hoenderstukke
1 groot ui, fyngekap
3 selderystingels, in dun skywe gesny
2 medium wortels, in klein blokkies gesny
45 – 60 ml olie
50 ml brandewyn
50 ml blatjang
25 ml balsemieke asyn
25 ml bruinsuiker
25 ml sojasous
15 ml Worcester-sous
1 blik (400g) gekapte tamaties
15ml vars roosmaryn (ongeveer 3 takkies afgestroop)
250 ml hoender-aftreksel
400 g groenbone, punte afgesny
sout & swart peper
6 – 8 olywe, ontpit en gehalveer
50 – 100 g fetakaas

· Verhit ongeveer 30 ml olyfolie in 'n kastrol. Braai die hoenderstukke tot goudbruin. Hou eenkant.
· Gooi nog olie in dieselfde kastrol, indien nodig, en braai die ui, seldery en wortels tot sag en verbruin. As dit drooggebraai het gooi die brandewyn by en laat 2 - 3 minute lank vinnig kook.
· Meng blatjang, balsemieke asyn, bruinsuiker, sojasous, Worcester-sous en tamaties. Voeg die mengsel by die groente in die kastrol saam met 250 ml hoender-aftreksel, die groenbone, roosmaryn en die gebraaide hoenderstukke. Geur met sout en varsgemaalde swart peper. Prut vir 45 – 60 minute. Die hoender moet gaar en sag wees. Indien jy 'n dikker sous verkies, meng 'n hoogvol teelepel meel met water en dan met van die sous, roer dit by en kook vir nog 5 minute.
·
 
Voeg nou die olywe by en roer deur om hulle net te verhit. Skep in 'n opdienbak en strooi fetakaas oor. Dien op met rys of koeskoes.
 

Varktjops in koffie- en uiesous:
bedien met korrelmosterdkapokaartappels en spesery-croutons

Hierdie ete het omtrent 'n intimederende lys bestanddele, maar dit is maklik om te maak . Aangesien dit ryk is, is dit heerlik saam met die vinnige lemoen- en sultanaslaai wat onderaan die resep verskyn. Maak altyd meer filterkoffie as wat die resep vra, daar is niks so erg as om op jou kos jaloers te wees nie!

Varktjops in koffie- en uiesous:
4 varknektjops, oortollige vet afgesny
60 ml meel
2 ml sout
2 ml varsgemaalde swartpeper
5 ml mosterdpoeier
30 ml olyfolie
1 groot of 2 medium uie, in skywe gesny
5 ml gedroogde salie
30 ml koffielikeur (opsioneel)
250 ml filterkoffie, sterk en swart
250 ml hoender-aftreksel
125 ml witwynasyn en 125 ml appelwynasyn*
125 ml gouestroop
1 klein kaneelstok
2 lourierblare

Korrelmosterdkapokaartappels:
4 groot of 6 medium aartappels, geskil
100 ml melk, verhit tot lou-warm
10 ml heelkorrelmosterd
sout en witpeper, na smaak
gekapte pietersielie
 

Spesery-croutons**:
2 snye wit-, bruin- of volkoringbrood, korsies verwyder, gesny in 1 cm-blokkies
2 lourierblare, geskeur
1 klein kaneelstok
1 ml fyn neutmuskaat
5 ml komynsaad
5 ml koljandersaad
1 steranyssaad
6 kardemompeule, gestamp sodat hulle net oopbars
60 ml ligte olyfolie

· Verhit 'n kleefvrye-pan. Braai die speserye vir die croutons, sonder olie, totdat jy die geure daarvan kan ruik. Afhangend van die hitte neem dit tussen 5 en 10 minute. Hou dit dop sodat die speserye nie brand nie. Verwyder van die hitte, gooi in 'n klein glasbakkie of koppie en voeg die olie by. Laat dit eenkant staan om te geur terwyl jy die vark voorberei.
· Meng die meel met die sout, peper en mosterdpoeier. Bedek die varktjops met die meelmengsel en braai in 30 ml verhitte olie in 'n kastrol tot goudbruin. Hou eenkant.
· Verhit nog olie in dieselfde kastrol.  Braai die uie en salie vir 8 – 10 minute totdat die uie deurskynend en tog bruin is. Voeg die koffielikeur by, indien gebruik. Laat dit wegkook.
· Gooi die koffie by en laat dit ongeveer 3 minute vinnig kook om met 'n derde te verminder.  Voeg nou die res van die bestanddele, wat onder Varktjops in koffie- en uiesous gelys word, by. Laat hierdie sous vir ten minste 10 minute kook voordat jy die varktjops byvoeg. Prut vir 30 – 40 minute – tot sag. Verwyder die lourierblare en kaneelstok. Indien jy die sous wil verdik, kan jy 'n hoogvol teelepel van die gegeurde meel met water meng en dan van die sous byvoeg. Maak seker dat daar geen klonte is nie. Voeg die mengsel by die sous in die pot en kook vir nog 5 minute.
· Kook intussen die aartappels tot sag. Dreineer en druk die aartappels fyn. Voeg die melk, mosterd, sout en peper by. Meng alles met die aartappeldrukker, sodoende sal die aartappels geen klonte bevat nie. Gebruik meer of minder melk om die kapokaartappels se dikte te beheer.
· Om die croutons te maak: Verwyder die speserye uit die olie. Braai die broodblokkies in die gegeurde olie.
· Bedien die varktjops met koffie- en uiesous en kapokaartappels. Strooi warm croutons en gekapte pietersielie bo-oor. 

Lemoen- en sultanaslaai
Verhit 30 ml sultanas in 15 ml witwyn- of rooiwynasyn en 25 ml sjerrie net tot kookpunt. Hou eenkant. Meng 15 ml heuning en 15 ml olyfolie, voeg die sultanas in sous by. Skil 1 lemoen en sny in skyfies. Voeg nog ongeveer 15 ml lemoensap by die slaaisous. Meng nou al die bogenoemde met vars slaaiblare vir 'n vinnige bygereg.

* As jy net witwynasyn gebruik verminder die hoeveelheid tot 200 ml aangesien dit andersins te sterk is. 'n Mengsel van mout-, witwyn- en appelasyn werk ook goed. Indien dit aan die einde te suur is, voeg nog hoender-aftreksel by en kook 'n paar minute.
** Probeer die croutons – dit is nie verpligtend nie, maar maak die gereg uniek. Moenie bekommerd wees as jy nie al die speserye het nie – dit smaak heerlik met enige kombinasie van die speserye wat in die resep genoem is. 'n Ander opsie, alhoewel dit nie so treffend soos die selfgemaakte olie is nie, is om 'n klaarvoorbereide spesery- of kruie-olie te gebruik.
 

Romerige appelciderhoender met spek en sampioene


Hierdie hoendergereg is heerlik romerig sonder dat jy enige room byvoeg. Cannellini-bone is Italiaanse wit, langwerpige bone met 'n sagte neutsmaak. Dit maak die gereg nog lekkerder, interessant én rek dit om meer mense kos te kan gee.

4 Hoenderborsstukke, ontbeen, ontvel en in repies gesny
50 ml koekmeel
5 ml droë mosterdpoeier
5 ml gedroogde salie / origanum
1 ml neutmuskaat of gemengde speserye
5 ml sout & varsgemaalde swartpeper
30 – 50 ml olie
1 rooi ui, in skyfies gesny
125 g spekblokkies
250 g sampioene, in kwarte gesny
200 ml Savanna of ander appelbier
200 ml melk
1 lourierblaar, geskeur
1 blikkie (400g) cannellini-bone (opsioneel) 

· Meng die meel met die geurmiddels. Bedek die hoenderrepies met die gegeurde meel.
· Verhit genoeg olie, ongeveer 30 ml, in 'n kastrol om die hoenderrepies goudbruin te braai.
· Indien nodig, gooi nog olie in die pan en braai die rooi ui tot sag en deurskynend. Voeg die spekblokkies by en braai die spek en uie tot bruin. Voeg die sampioene by en braai vir nog 'n minuut of twee.
· Roer die appelbier eerste by, as dit deeglik deurgemeng is voeg die melk by. Voeg die lourierblaar ook by en laat dit tot kookpunt kom. Prut vir 25 – 30 minute.
· Die hoender moet gaar en sag wees. As jy cannellini bone byvoeg, gooi die bone in 'n vergiettes en spoel deeglik af. Voeg dit by die hoender en roer deur om dit net te verhit.
· Alhoewel daar, vir my, niks lekkerder as varsgebraaide chips hierby is nie, kan jy dit ook opdien met rys of kapokaartappels.
 

Klappermelkkerrie met lensies en groente

Hierdie kerriegereg is baie aanpasbaar: Dis nie uitsluitlik 'n vegetariese gereg nie en die lensies kan dus met hoenderstukke of lamskenkels vervang word. Dit werk ook goed met 'n verskeidenheid van groentes, sien nog opsies onderaan die resep.

30 ml olie
1 ui, in skyfies gesny
10 ml Madras kerriepoeier*
15 ml gerasperde vars gemmer of 5 ml fyn gemmer
200 g rooi- of bruinlensies, afgespoel in vergiettes
1 blik (400g) klappermelk
200 – 250 ml hoender- of groente-aftreksel
groente** 1 mediumgrootte botterskorsie, ongeveer 400 g, in 1 cm-blokkies gesny
150 g klein mielies, gehalveer
2 gedroogde brandrissies (opsioneel)
50 ml hanepoot of 25 ml bruinsuiker
50 g gedroogde pere, in dun repies gesny
sout & varsgemaalde swart peper 

· Verhit olie en braai die ui tot sag en deurskynend. Voeg die kerriepoeier en gemmer by en braai vir 1 minuut voordat jy die lensies en groente byvoeg en verder braai. Wanneer alles warm en goed met die speserye gemeng is, voeg die klappermelk en aftreksel by en bring tot kookpunt.
· Voeg die hanepoot of bruinsuiker en pere by. As jy van 'n warm kerrie hou, gooi ook nou 'n paar gedroogde brandrissies by (onthou net om dit voor opdiening te verwyder, ingeval iemand dit raakhap).
· Kook oor lae hitte vir 25 - 30 minute. (Indien hoender of lam gebruik word moet die kooktyd verleng word.) Roer elke nou en dan, aangesien lensies maklik vassit onder in die pot. Voeg nog aftreksel of water by as dit nodig lyk. Toets of dit gaar is deur 'n happie lensies te vat – dit moet sag wees. Voeg sout en swart peper by.
· Bedien met koeskoes.

 
*Madras-kerriepoeier is baie geel aangesien dit 'n groot hoeveelheid borrie bevat. Dis egter 'n uitsoekproduk, so indien jy dit nie sien nie, soek net 'n kerriepoeier wat meer na geel toe neig. Jy kan dit ook self maak of gewone masala gebruik en 5 ml borrie byvoeg. 

**Buiten botterskorsie en mielies, is daar nog hope ander groentesoorte wat jy kan gebruik. Eiervrugblokkies, red pepper en mielies is nog een van my gunstelingkombinasies. Maak ook gebruik van sneeu-ertjies (of mange tout) en mielies saam met hoender. Groenboontjies is ook 'n opsie. Speel gerus met jou eie kombinasies.