Wees veilig voor jou rekenaar
Pieter Labuschagne

deur Pieter Labuschagne




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Alhoewel die basiese voorsorgmaatreëls voor die handliggend is, doen baie rekenaargebruikers nie die moeite om die veiligheid van hul rekenaars, inligting en familie genoegsaam te beskerm nie. Hier is egter 'n gratis aflaai-program wat dit baie maklik maak.

RekenaarveiligheidEk gesels nou onlangs met Bill Jones, 'n konsultant in Atlanta wat spesialiseer in rekenaarsekerheid (computer security) oor die mens se onvermoë om "social engineering" baas te raak as dit kom by die verspreiding van rekenaarvirusse en ander skadelike programmatuur.
Net soos hy, is my gewildste sinsnedes as ek met kliënte praat, verreweg die volgende: "Waar is jou rugsteun-kopieë?" en "Wanneer laas het jy jou antivirusprogram opgedateer – jy hét mos 'n antivirusprogram, nè?" of "Hierdie e-pos kom nie van jou bank af nie!"
Klink dit vir jou bekend?

Basiese sekerheid in die rekenaar-omgewing is vir rekenaarspesialiste geen nuwigheid nie, maar vir die tuisgebruiker is dit ongelukkig nie tweede natuur nie. Alhoewel die basiese voorsorgmaatreëls voor die handliggend is, doen baie gebruikers nie die moeite om die veiligheid van hul rekenaars, inligting en familie genoegsaam te beskerm nie.
Baie van my kliënte is gereelde oortreders: Die verskoning wat ek dan gewoonlik kry klink iets soos "ek het vergeet!" Dit is dan ook die grootste rede hoekom ek maar my oë oophou as ek iets raaksien op die internet om hierdie belangrike – en basiese – beginsels van veilige rekenaargebruik op 'n meer "verteerbare" manier aan te bied. Die ideaal natuurlik, is om die hele gesin hierby te betrek. Al die rekenaargebruikers in die huis behoort op dieselfde vlak te wees wat rekenaarsekerheid aanbetref.

Die United States Computer Emergency Readiness Team is 'n baie goeie bron vir die meer tegniese kenners van rekenaars onder ons. Hierdie bron is vir my goud werd, maar is ongelukkig teks-gebaseerd.
Toe ek nou onlangs verneem dat Microsoft daaraan dink om 'n webwerf te ontwikkel wat spesifiek op rekenaar-veiligheid gemik is en die gebruik van hierdie basiese grondbeginsels bevorder, het ek nogal uitgesien na hul poging.
In teenstelling met US-CERT se webwerf, is Microsoft se webwerf baie multimedia-ryk.
Kinders gaan sekerlik nie geïnteresseerd wees in US-CERT se teksinligting nie, maar ek is seker hulle sal nie omgee om saam met ma en pa na 'n 2-minuut videogreep met animasie en klank te kyk nie. Dit is egter nie net kinders wat sal voordeel trek uit Microsoft se webwerf nie, maar almal wat gou ongeduldig raak met 'n lang relaas oor iets wat hulle nie regtig verstaan nie, sal ook Microsoft se werk waardeer. Al wat die rekenaargebruiker moet doen is om dit wat hy gesien het, toe te pas.

Wat is goed omtrent Microsoft se rekenaarsekerheid-webwerf?

* Microsoft gee 'n goeie en deeglike oorsig oor die beste praktyke.
* Die multimedia-inhoud maak die advies wat aangebied word maklik om te volg, ongeag die ouderdom, vaardigheidsvlak en manier van leer van die gebruiker.
* Daar is stap-vir-stap instruksies wat verduidelik hoe om die funksies, beskikbaar in MS Windows, te gebruik. Soos byvoorbeeld die rugsteun- (backup) en brandmuur- (firewall) toepassings.

Wat kan Microsoft verbeter op hierdie webwerf?

* Microsoft kan gerus die webwerf makliker maak om te vind. Daar is geen skakel vanaf Microsoft se webwerf nie.
* Die media, soos die musiek en illustrasies lyk op die oog af 'n bietjie verouderd.
* Heeltemal te min aandag word gevestig op die gereelde opdatering van programme en bestuurstelsels, soos MS Windows self. Vir 'n maatskappy wat weekliks opgraderings (patches) beskikbaar maak, is dit nogal 'n groot leemte.

Gaan kyk gerus na hierdie webwerf van Microsoft by http://www.microsoft.com/protect.

Pieter Labuschagne is 'n internasionale IT bestuurskonsultant.
Skryf vir hom met al jou rekenaarnavrae en kommentaar.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend