10 stappe na 'n plat beursie
Christo du Plessis

deur Helen Ueckermann




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend
Is 'n vol en dik beursie effens ongemaklik vir jou? Volg dan hiérdie stappe en maak so seker dat jou beursie leeg en plat sal bly.

Is 'n vol en dik beursie baie ongemaklik vir jou? Volg dan hiérdie stappe en maak so seker dat jou beursie leeg en plat sal bly.

1. Gee meer uit as wat jy verdien
Wanneer jy bo jou vermoë leef, sal dit jou die een of ander tyd inhaal en sal jy die verskil moet betaal. Glo my, jy sien nie uit na daardie dag nie!

2. Oorleef van salaristjek tot salaristjek
Op hierdie manier sal jy beslis geen finansiële doelwitte bereik nie. En as daar onverwagse uitgawes opduik, is jy onmiddellik in jou peetjie in.

3. Probeer ander die loef afsteek
Mnr. Jones of jou buurman is nie jou mededinger nie, en jy hoef hulle nie ten alle koste op materiële gebied die loef af te steek nie. As wat hy doen of het, jou afgunstig maak, beteken dit bloot dat jy jou eie geldplan nog nie in werking gestel het nie.

4. Leef sonder finansiële doelwitte
As jy nie weet waarheen jy op pad is nie, is die kans uitstekend dat jy nooit daar sal uitkom nie.

5. Moenie in beheer van jou geldsake wees nie
Om die slagoffer van jou geldsake, pleks van in beheer daarvan te wees, is fataal. Skrik wakker! Geld is 'n middel tot 'n doel – en jý is die een wat besluit hoe jy jou doel gaan bereik met dit wat jy tot jou beskikking het.

6. Wees onwillig om jouself te verbeter
Selfverbetering is 'n nimmereindigende proses wat ook na jou finansiële welvaart sal oorspoel.

7. Laat ander mense jou geldsake beheer
Wil jy jou finansiële pad sommer maklik byster raak? Laat ander mense dan in beheer van jou geldsake sonder dat jyself 'n aktiewe rol speel. Niemand stel méér in jou geldsake belang as jyself nie. Bly altyd aktief betrokke selfs al stel jy 'n kenner aan om sake namens jou te hanteer.

8. Belê in projekte wat jy nie verstaan nie
Al maak ander mense groot geld uit projekte, moenie dit blindelings navolg nie. Doen jou eie navorsing totdat jy genoeg weet om 'n ingeligte besluit te neem oor wat jy met jou swaarverdiende geld gaan doen.

9. Wees vreesbevange
Om beangs te wees oor geldelike risiko's kan net so nadelig wees as om oorentoesiasties aan die belê te gaan. Daar is altyd risiko's betrokke as jy jou geld wil laat groei, maar maak seker dat daardie risiko ten minste lyk of dit oor 'n tydperk in jou guns sal swaai.

10. Ignoreer jou geldsake
Dit sal nie beter gaan as jy maak of dit nie bestaan nie. Ignoreer dit, en jy is sonder twyfel op pad die finansiële afgrond in!

Kies só 'n finansiële adviseur

Die keuse is joune – en niemand anders s'n nie: volg die bogenoemde advies en verseker dat jou beursie lekker plat bly. Of doen iets daaraan. As jy voel jy benodig 'n finansiële adviseur, maak seker dat jy die regte een kry. Volg hiérdie raad:

1. Kry aanbevelings by familie en kennisse. Die tydperk van die verhouding wat hulle met hul adviseur het, is 'n baie belangrike aanduiding van hul tevredenheid met die persoon.

2. Kry die adviseur se registrasienommer as finansiëlediensteverskaffer en gaan dit na by die Raad op Finansiële Dienste. Hy is verplig om so 'n registrasienommer te hê om te kan sake doen.

3. Voer onderhoude met twee of drie adviseurs en vergelyk voor jy besluit. Onthou dat mense met ervaring oor die jare die op-en-af van die finansiële markte ervaar het.

4. Wees versigtig vir mense wat gratis dienste aanbied. Die top-ouens lewer nie gratis dienste nie – kyk maar na dokters en prokureurs!

5. Vergelyk gerus die koste en pryse, maar pasop vir te goedkoop – dit bly maar meestal duurkoop.

6. Vra 'n afskrif van die adviseur se blootleggingsdokument soos voorgeskryf deur die Wet op Finansiële Adviseurs en Tussengangers.

7. Vra om 'n skriftelike finansiële ontleding en aanbeveling vir jou omstandighede.

8. Vermy produksmouse wat aan spesifieke instellings soos versekeraars gekoppel is en bloot daarop uit is om aan jou finansiële produkte soos polisse te verkoop.

9. Verbondenheid aan 'n bank of 'n versekeringsmaatskappy is nie noodwendig 'n waarborg van sekuriteit nie.

10. Moenie oorhaastig wees nie. Jy wil 'n belangrike – en verkieslik lewenslange – verhouding met die adviseur aangaan.

Bronne:
www.pfadvice.com
Kruger Internasionaal

Hierdie wenke het oorspronklik verskyn in die Mei 2007-uitgawe van die tydskrif Manwees.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend