jouLEEFSTYL

 RESEP: Plaatkoekies – met ‘n verskil

 

Kikker die tradisionele plaatkoekie op met dié lekker variasies

 

deur Wilna Myburgh

 

Ek is vas oortuig daarvan dat elke persoon 'n plaatkoekie-resep moet hê. Dis so maklik om te maak en kan enige tyd van die dag 'n holte vul! Dié resep maak tussen 10 en 15 plaatkoekies, afhangend van die grootte. Plaatkoekies is heerlik, al bedien jy dit net met stroop, maar hiérdie resep en sy variasies maak dit nog meer van 'n plesier om te eet.

 

Vir die plaatkoekies:

250 ml koekmeel

5 ml bakpoeier

5 ml suiker

1 ml sout

1 eier

200 ml melk

 

Vir die spek, piesang en stroop:

250 g skouer-spek

2 piesangs, in ½ cm-skyfies gesny

25 ml margarien

50 ml heuning / stroop

 

Plaas die droë bestanddele in 'n mengbak. Maak 'n holte daarin en gooi die eier en melk in. Meng alles met 'n draadklitser tot die deeg glad is.

 

Verhit ongeveer 15 ml olie in 'n braaipan. Skep die deeg met 'n eetlepel in die pan. As daar borreltjies aan die bokant vorm en die onderkant stewig lyk, draai die plaatkoekie om en braai vir nog 'n minuut of 2. Om te toets of dit gaar is kan jy 'n toetspen gebruik of een oop sny. Verplaas die wat gaar is na die kouer kante van die pan en braai die res.

 

In 'n ander pan braai die spek tot bruin en bros. Hou eenkant. In dieselfde pan gooi 5 ml margarien en braai die piesangskyfies vir 1 minuut. Gooi die res van die margarien en die heuning by en braai vir nog 2 – 3 minute.

 

Maak 'n stapel van plaatkoekies, spek en piesang en bedruip dit met die sous.

 

Variasies:

·        Vir die sout-tand: Laat die piesang en sous weg en bedien die spek met roereier.

·        Vir die soet-tand: Laat die spek weg, voeg bietjie kaneel by die piesangs en bedien dit met joghurt.