Lees ook:
jouwêreld se nuutste uitgawe

die oorspronklike artikel - met foto's
 

 

jouleefstyl

  

  
Eet uitspattig pienk!

 

Trakteer jou vriende op 'n heerlike pienk lente-ete, waar die dekor én die kos pienk is! Maar die belangrikste is: moenie terughou nie – wees dié maand vrolik en uitspattig!


deur
Wilna Myburgh
 

Ek twyfel of enigiemand my hiérna gaan glo – maar ek moet dit nogtans van my hart afkry: Pienk is nié my gunsteling kleur nie. Inteendeel, ek het altyd gedink ek haat dit! Maar – nie meer nie . . . nie na hiérdie uitspattige pienk lente-ete nie!
Ek is gek daaroor om vir mense te kook en saam om 'n mooi gedekte tafel die kos te geniet en te kuier. Maar, dikwels móét mens 'n verskoning daarvoor uitdink!
Ek reken die lente is 'n goeie een. Net so 'n goeie verskoning was die toets en fotosessie van hiérdie pienk lente-ete. Maar, liewe leser, as ek sê pienk ete, moenie net aan 'n ou pienk tafeldoekie en "dis heerlike lente"-slaaie dink nie. O nee, kom ons wees meer kreatief – dit is die kos wat pienk moet wees! En voordat jy nou hardloop om te gaan kyk of jy nog pienk kleursel in die kas weggebêre het – lees voort. Want ons gebruik nét kossoorte wat natuurlik pienk is - daar is baie wat 'n pienk skynsel het. Wanneer jy die inkopies hiervoor gaan doen, raak jy sommer opgewonde van al die pienk bestanddele in jou waentjie! Maar ek wil nou ook nie hê dat alles pienk moet wees nie: dit moet aptytwekkend bly.

Dis baie lekker om met 'n tema vir 'n partytjie of ete te werk. Dit sluit die dekor ook in – lees hier ons idees vir tafeldek- en tafelversierings wat by die pienk ete pas. Ander kleure kan natuurlik ook werk, soos geel, groen en rooi. Die beste manier om dit te beplan is om 'n lysie van ál die kossoorte, waaraan jy kan dink, wat in die kleurskema van jou keuse voorkom, neer te skryf. Dit help ook om deur die supermark te stap en te kyk wat beskikbaar is. Steel gerus hier by my lysie as jy aan die spyskaart wil verander – onthou, daar is geen reëls nie! Dit kan ook in 'n buffet-ete verander word. Tessa Kiros se boek, Apples for Jam, is wonderlik vir idees, aangesien elke hoofstuk resepte met 'n ander kleur het.

Hier is my pienk lysie:   
radyse
beet
bosbessies
frambose
aarbeie
vis en seekos: salm, crabsticks, shrimps, prawns
enige rooivleis (wild, bees, skaap) wat medium-gaar is
gammon (meeste gerookte ham)
spek
pienk appels – Pink Lady of Pink Cripps
rosé
koeldrank (sap, Sparletta sparberry en Fanta Strawberry)
rabarber
patats, met die skil aan

 

Hier is my pienk spyskaart:

Gemmer-vonkelwyn

Koue Beetsop met gedraaide blaardeeg-stokkies

Pienk pons

Hoender in spek met bosbessie-rosé-sous

Radys- en fetakaasslaai

Framboos- en appelkrummelpoeding met aarbei-marmer-roomys

Koffie met sjokoladetjies

 

Gemmer-vonkelwyn

Hierdie is 'n heerlike drankie om die partytjie mee af te skop! Een bottel kan gerek word om tot agt glasies te skink. Die idee is om een glasie per persoon te gee – net as 'n verwelkomende versnapering.

1 bottel vonkelwyn, van jou keuse
Gepekelde gemmerskywe (pickled ginger)

· Plaas een skyfie gemmer in elke glas en vul met vonkelwyn.
· Cheers!

 

Koue Beetsop

Ja ja, ek weet dit klink vreeslik, maar selfs die mees geharde sop-haters is genees na hulle hiérdie resep geproe het. Ek het dit op die beste manier wat ek ken getoets – op dié wat nie van sop óf beet hou nie! Moet egter nou nie jou grootste sopbakke hiervoor uithaal nie – dié hoeveelheid hier aangegee maak agt fatsoenlike porsies.

1 ui, in skywe gesny
15 ml olie
10 ml fyn gemmer of 15 ml vars gerasperde gemmer
5 ml fyn komyn
5 ml fyn koljander
knypie neutmuskaat
450 - 500 g aartappels, geskil en in blokkies gesny
200 g beet, geskil en grofgerasper
1l flou hoender-aftreksel (15 ml hoender-aftrekselpoeier met 1l water)
5 ml suiker
5 ml sout
1 ml wit peper
150 ml melk
15 ml suurlemoensap
suurroom, vir opdiening
varsgemaalde swart peper, vir opdiening

· Verhit die olie en braai die ui tot sag en deurskynend. Voeg die speserye by en braai vir 1 - 2 minute. Voeg die aartappelblokkies en gerasperde beet by.
·Gooi die aftreksel by. Kook vir ongeveer 30 minute.
· Maak die sop met 'n voedselverwerker fyn. As jy verkies kan jy dit ook deur 'n sif werk om dit 'n gladder tekstuur te gee.
· Gooi suiker, sout, peper en melk by. Voeg ook die suurlemoensap by. Proe – en speel dan met die smaakmiddels (sout, peper, suiker, suurlemoensap) totdat dit vir jou reg smaak.
· Laat in die yskas afkoel. (Dit kan ook warm bedien word.)
· Dien op met 'n skeppie suurroom en varsgemaalde swart peper.

 

Gedraaide blaardeeg-stokkies

Hierdie resep is wonderlik saam met meeste soppe of sommer net as peuselhappie. Dit is so maklik om te maak, dis amper 'n skande!

 
1 rol gevriesde blaardeeg, ontvries
Geurselsout, bv.
pesto en parmesan

· Voorverhit die oond tot 200 °C.
· Sny die blaardeeg in die helfte om 2 lang stroke met 'n breedte van ongeveer 11 cm elk te kry. Sny nou strokies van 1 cm breed. (Die strokies is dus 11 cm x 1 cm elk.) Sprinkel die geurselsout, van jou keuse, bo-oor die deeg. Sny genoeg vir die hoeveelheid gaste - ongeveer 3 per persoon.
· Hou een punt vas en draai die deegstrook in die rondte. Plaas op 'n gesmeerde bakplaat .
· Bak vir 10 – 12 minute.

 

Pienk-Pons met wyn

Elke pienk partytjie het 'n pienk pons nodig! Om dit alkoholvry vir die jongspan te maak, meng net bessie- of aarbeisap met Sprite of lemonade. Hierdie is genoeg vir so 6 – 8 mense. Ek sal egter voorstel dat jy dit sommer van die begin af dubbel aanmaak – net vir die wis en die onwis – dalk met meer Sprite vir die tweede sarsie!

1 bottel (750 ml) rosé
250 ml rooiwyn
250 ml bessie- of aarbeisap (verkieslik met 'n ligte pienk kleur)
30 ml suurlemoensap
1 Pink Cripps of Pink Lady appel, in blokkies gesny, met die skil aan
500 ml Sprite of Lemonade

· Meng die wyne, sappe en appelblokkies. Jy kan dit sommer vroeg al doen – dit hou goed en maak die appels effens "dronk".
· Voeg die Sprite of Lemonade net voor opdiening by.

 

Hoender in spek met bosbessie-rosé-sous

Hierdie is 'n ligte hoofmaal – net reg vir die lente. Die rokerige smaak van die spek wat om die hoender gedraai word saam met die mosterd in die aartappels en die bosbessies in die sous is vir my die perfekte kombinasie. Hierdie resep maak genoeg vir 8 mense, maar kan sommer baie maklik aangepas word.

Vir die hoender:
8 Hoenderborsies, ontvel en ontbeen
8 repe strepiespek
25 ml olie
5 ml gedroogde of 15 ml vars tiemie
5 ml sout
swart peper
15 ml olie, om te braai

Vir die kapokaartappels:
1 – 1.1 kg aartappels, saggekook
5 ml sout (en nog na smaak)
75 – 100 ml melk
10 ml heelkorrelmosterd
50 ml gekapte vars pietersielie 

Vir die sous:
15 ml olyfolie
2 mediumgrootte rooi uie, fyngekap
500 ml rosé, van jou keuse
30 ml wynasyn met framboossap (of rooiwynasyn)
150 g bosbessiejellie (cranberry jelly)
50 g gedroogde bosbessies (cranberries)
30 – 45 ml bruinsuiker
5 – 10 ml meel 

Vir die hoender:
· Meng die olie met die tiemie, sout en varsgemaalde peper. Doop elke hoenderborsie in die mengsel.
· Draai dan 'n stukkie spek om elkeen – kyk dat die opdieningskant se spek mooi vertoon. Jy kan die hoender nou eers in die yskas laat wag, of direk aangaan.
· Verhit die olie in 'n groot braaipan. Ek gebruik nog olie omdat die spek onder geen omstandighede in die pan moet vassit nie, anders rol dit van die hoender af. Braai die hoender weerskante om die spek te verbruin en bros te maak. Plaas in 'n skottel of oondpan.
· Bak vir ongeveer 10 minute in 'n oond voorverhit tot 180 °C. Dit sal langer of korter duur afhangend van die hoenderborsie se dikte.

Vir die kapokaartappels:
· Wanneer die aartappels sag is, druk dit fyn en meng met die ander bestanddele.

Vir die sous:
· Verhit die olie in 'n braaipan (jy kan die hoender se braaipan ook gebruik) en braai die gekapte uie vir ongeveer 5 minute om effens te versag.
· Voeg die rosé en asyn by. Bring tot kookpunt en kook vinnig vir nog 5 minute.
· Voeg die bosbessiejellie, bosbessies en bruinsuiker by. Kook nog 10 minute, dit moet so lekker vinnig kook.
· Ek hou daarvan om my sous met 'n bietjie meel te verdik – meng so teelepel meel met 'n bietjie water tot 'n pasta – gooi van die warm sous by – gooi by die sous in die pan en kook nog 5 minute om te verdik.
· Die sous is effens soet en effens wynerig – dit hang egter alles af van die suikerinhoud van jou rosé, daarom begin ek eers met minder jellie en suiker en voeg nog by soos benodig. Proe tot dit vir jou lekker smaak!

 

Radys- en fetakaasslaai

Ek vermoed dat hierdie meer 'n slaai-idee as 'n slaai-resep is. Moenie gebind voel nie, ek wou net baie graag radyse gebruik het en dis toevallig lekker saam met fetakaas! Komkommer sal ook lekker in die slaai smaak. Kyk of jou van daardie pakkies blaarslaai met die kruie en eetbare blommetjies in kan kry – dit sal nog wonderliker wees as daar pienk blomme in is!

Vir agt mense het ek die volgende gebruik:

1 pak gemengde blaarslaai (150 g)
5 radyse, in dun skyfies gesny
100 g fetakaas, in blokkies gesny

Slaaisous:
15 ml suurlemoensap
15 ml rooiwynasyn of wynasyn met framboossap
5 ml heelkorrelmosterd
30 ml ligte olyfolie

· Meng al die slaaibestanddele.
· Meng al die slaaisousbestanddele. Hou eenkant en meng net voor opdiening met die slaai.

 

Framboos- en appelkrummelpoeding

Hierdie resep maak genoeg vir 12 klein ramekins. Jy kan dit ook in een groot bak maak. Die frambose en appels is net een idee – meeste vrugte werk goed. My hoofdoel hier was om 'n pienk vulsel te maak! 

350 g frambose (gevriesde frambose werk baie goed)
650 g groen of pienk appels, geskil en in klein blokkies gesny
5 ml suurlemoensap
30 ml strooisuiker
125 ml meel
100 g botter of margarien, in klein blokkies gesny
125 ml klapper
125 ml hawermout
125 ml bruinsuiker 

·  Terwyl jy die appels sny, plaas dit in 'n mengbak en meng met die suurlemoensap sodat dit nie verbruin nie. Meng met die frambose.
·  Voeg die suiker by. Soms is die frambose te suur, jy kan na smaak nog suiker byvoeg. Deel die vrugte tussen die ramekins.
· Vryf die margarien by die meel met jou vingerpunte in – tot dit krummelrig is. Gooi die res van die bestanddele by. Deel die krummel ook tussen die ramekins. Moenie dit plat druk nie – dit moet so losserig lê.
· Bak by 180 °C vir 25 – 30 minute.
· Dien op met vanieljeroomys of die onderstaande aarbei-marmer-roomys.

Aarbei-marmer-roomys

Maak jou eie roomys, gegeur met rooswater. Vir 'n mooi marmer-effek meng dit liggies met aarbeipuree!

200 g aarbeie
10 ml strooisuiker
250 ml room
250 ml suiker
750 ml melk
10 ml rooswater (opsioneel)

· Puree die aarbeie en voeg die suiker by. Meer suiker kan bygevoeg word indien die aarbeie nie soet genoeg is nie. Gooi in 'n klein bakkie en plaas in die vrieskas tot net voor dit gevries is – dit moet nog loperig, maar yskoud wees.
· Klits die room en suiker, ongeveer 3 minute, op volspoed tot dit sagte punte vorm. Voeg die melk by en klits tot gemeng. Voeg die rooswater by.
· Vries dit volgens die instruksies van jou roomysmaker of gooi dit in 'n bak en plaas in die vrieskas. In die tweede geval, moet jy dit ongeveer elke halfuur roer om die yskristalle wat vorm te versprei.
· Wanneer die roomys yskoud, maar nog vloeibaar is, gooi een derde daarvan in 'n bak, wat groot genoeg is om tussen 1 en 1.5 l te hou. Gooi dan een derde van die aarbeimengsel bo-oor – maak strepe en draaie, moenie dit egalig versprei nie. Herhaal met die res van die roomys- en die aarbeimengsel. Vat nou 'n vurk of poedinglepel en trek die steelkant 'n paar keer deur die bak. Dit is hoe mens die marmer-effek kry. Moet egter nie te veel meng nie – dan verloor jy die marmer. Plaas dit terug in die vrieskas totdat dit behoorlik gevries is.

Koffie met sjokoladetjies

Ek gaan beslis nie vir julle vertel hoe om koffie te maak nie – maar onthou: maak dit net sterk! Sit enige gekoopte truffles of likeursjokolades (wat rond is) in klein pienk houertjies om die ete behoorlik af te sluit. Almal gaan sê dat hulle te vol is om nog iets in te neem – maar kyk net – dit verdwyn altyd so stil-stil!








 
Custom Search