|
|
|

September 2008 |
 |
 |
 |
 |
 |
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|

deur
Wilna Myburgh
|
|
Trakteer jou vriende op 'n
heerlike pienk lente-ete, waar
die
dekor
én die kos pienk is! Maar die
belangrikste is: moenie terug
hou nie – wees uitspattig en
vrolik dié maand! |

(foto's deur Rozanne Myburgh) |
|
|
|
Ek twyfel of enigiemand my hiérna gaan glo –
maar ek moet dit nogtans van my hart afkry:
Pienk is nié my gunsteling kleur nie.
Inteendeel, ek het altyd gedink ek haat dit!
Maar – nie meer nie . . . nie na hiérdie
uitspattige pienk lente-ete nie!
Ek is gek daaroor om vir mense te kook en saam
om 'n mooi gedekte tafel die kos te geniet en te
kuier. Maar, dikwels móét mens 'n verskoning
daarvoor uitdink!
Ek reken die lente is 'n goeie een. Net so 'n
goeie verskoning was die toets en fotosessie van
hiérdie pienk lente-ete. Maar, liewe leser, as
ek sê pienk ete, moenie net aan 'n ou pienk
tafeldoekie en "dis heerlike lente"-slaaie dink
nie. O nee, kom ons wees meer kreatief – dit is
die kos wat pienk moet wees! En voordat jy nou
hardloop om te gaan kyk of jy nog pienk kleursel
in die kas weggebêre het – lees voort. Want ons
gebruik nét kossoorte wat natuurlik pienk is -
daar is baie wat 'n pienk skynsel het. Wanneer
jy die inkopies hiervoor gaan doen, raak jy
sommer opgewonde van al die pienk bestanddele in
jou waentjie! Maar ek wil nou ook nie hê dat
alles pienk moet wees nie: dit moet aptytwekkend
bly.
Dis baie lekker om met 'n tema vir 'n partytjie
of ete te werk. Dit sluit die dekor ook in –
lees hier ons idees vir tafeldek- en
tafelversierings wat by die pienk ete pas. Ander
kleure kan natuurlik ook werk, soos geel, groen
en rooi. Die beste manier om dit te beplan is om
'n lysie van ál die kossoorte, waaraan jy kan
dink, wat in die kleurskema van jou keuse
voorkom, neer te skryf. Dit help ook om deur die
supermark te stap en te kyk wat beskikbaar is.
Steel gerus hier by my lysie as jy aan die
spyskaart wil verander – onthou, daar is geen
reëls nie! Dit kan ook in 'n buffet-ete verander
word.
Tessa Kiros se boek, Apples for Jam,
is wonderlik vir idees, aangesien elke hoofstuk
resepte met 'n ander kleur het.
|
|
Hier is my pienk
lysie:
radyse
beet
bosbessies
frambose
aarbeie
vis en seekos: salm, crabsticks,
shrimps, prawns
enige rooivleis (wild, bees, skaap) wat
medium-gaar is
gammon
(meeste gerookte ham)
spek
pienk appels – Pink Lady of Pink Cripps
rosé
koeldrank (sap, Sparletta sparberry en Fanta
Strawberry)
rabarber
patats, met die skil aan |
Hier is my pienk spyskaart:
Gemmer-vonkelwyn
Koue Beetsop met gedraaide
blaardeeg-stokkies
Pienk pons
Hoender in spek met
bosbessie-rosé-sous
Radys- en fetakaasslaai
Framboos- en
appelkrummelpoeding met aarbei-marmer-roomys
Koffie met
sjokoladetjies
|
|
En nóú kan ons begin kook! |
 |
Gemmer-vonkelwyn
Hierdie is 'n heerlike drankie om die partytjie
mee af te skop! Een bottel kan gerek word om tot
agt glasies te skink. Die idee is om een glasie
per persoon te gee – net as 'n verwelkomende
versnapering.
1 bottel vonkelwyn, van jou keuse
Gepekelde gemmerskywe (pickled ginger)
·
Plaas een skyfie gemmer in elke glas en vul met
vonkelwyn.
·
Cheers!
|
|
Koue Beetsop
Ja ja, ek weet dit klink vreeslik, maar
selfs die mees geharde sop-haters is
genees na hulle hiérdie resep geproe
het. Ek het dit op die beste manier wat
ek ken getoets – op dié wat nie van sop
óf beet hou nie! Moet egter nou nie jou
grootste sopbakke hiervoor uithaal nie –
dié hoeveelheid hier aangegee maak agt
fatsoenlike porsies.
1 ui, in skywe gesny
15 ml olie
10 ml fyn gemmer of 15 ml vars
gerasperde gemmer
5 ml fyn komyn
5 ml fyn koljander
knypie neutmuskaat
450 - 500 g aartappels, geskil en in
blokkies gesny
200 g beet, geskil en grofgerasper
1l flou hoender-aftreksel (15 ml
hoender-aftrekselpoeier met 1l water)
5 ml suiker
5 ml sout
1 ml wit peper
150 ml melk
15 ml suurlemoensap
suurroom, vir opdiening
varsgemaalde swart peper, vir opdiening
·
Verhit die olie en braai die ui tot sag
en deurskynend. Voeg die speserye by en
braai vir 1 - 2 minute. Voeg die
aartappelblokkies en gerasperde beet by.
·Gooi
die aftreksel by. Kook vir ongeveer 30
minute.
·
Maak die sop met 'n voedselverwerker
fyn. As jy verkies kan jy dit ook deur
'n sif werk om dit 'n gladder tekstuur
te gee.
·
Gooi suiker, sout, peper en melk by.
Voeg ook die suurlemoensap by. Proe – en
speel dan met die smaakmiddels (sout,
peper, suiker, suurlemoensap) totdat dit
vir jou reg smaak.
·
Laat in die yskas afkoel. (Dit kan ook
warm bedien word.)
·
Dien op met 'n skeppie suurroom en
varsgemaalde swart peper.
|
 |
|
 |
Gedraaide blaardeeg-stokkies
Hierdie resep is wonderlik saam met meeste soppe
of sommer net as peuselhappie. Dit is so maklik
om te maak, dis amper 'n skande!
1 rol gevriesde blaardeeg, ontvries
Geurselsout, bv. pesto en parmesan
·
Voorverhit die oond tot 200 °C.
·
Sny die blaardeeg in die helfte om 2 lang stroke
met 'n breedte van ongeveer 11 cm elk te kry. Sny
nou strokies van 1 cm breed. (Die strokies is
dus 11 cm x 1 cm elk.) Sprinkel die geurselsout,
van jou keuse, bo-oor die deeg. Sny genoeg vir
die hoeveelheid gaste - ongeveer 3 per persoon.
·
Hou een punt vas en draai die deegstrook in die
rondte. Plaas op 'n gesmeerde bakplaat .
·
Bak vir 10 – 12 minute.
|
|
Pienk-Pons met wyn
Elke pienk partytjie het 'n pienk pons
nodig! Om dit alkoholvry vir die
jongspan te maak, meng net bessie- of
aarbeisap met Sprite of lemonade.
Hierdie is genoeg vir so 6 – 8 mense. Ek
sal egter voorstel dat jy dit sommer van
die begin af dubbel aanmaak – net vir
die wis en die onwis – dalk met meer
Sprite vir die tweede sarsie!
1 bottel (750 ml) rosé
250 ml rooiwyn
250 ml bessie- of aarbeisap (verkieslik
met 'n ligte pienk kleur)
30 ml suurlemoensap
1 Pink Cripps of Pink Lady appel, in
blokkies gesny, met die skil aan
500 ml Sprite of Lemonade
·
Meng die wyne, sappe en appelblokkies.
Jy kan dit sommer vroeg al doen – dit
hou goed en maak die appels effens
"dronk".
·
Voeg die Sprite of Lemonade net voor
opdiening by.
|
 |
|
|

|
Hoender in spek met
bosbessie-rosé-sous
Hierdie is 'n ligte hoofmaal – net reg vir die
lente. Die rokerige smaak van die spek wat om
die hoender gedraai word saam met die mosterd in
die aartappels en die bosbessies in die sous is
vir my die perfekte kombinasie. Hierdie resep
maak genoeg vir 8 mense, maar kan sommer baie
maklik aangepas word.
Vir die hoender:
8 Hoenderborsies, ontvel en ontbeen
8 repe strepiespek
25 ml olie
5 ml gedroogde of 15 ml vars tiemie
5 ml sout
swart peper
15 ml olie, om te braai
Vir die kapokaartappels:
1 – 1.1 kg aartappels, saggekook
5 ml sout (en nog na smaak)
75 – 100 ml melk
10 ml heelkorrelmosterd
50 ml gekapte vars pietersielie
Vir die sous:
15 ml olyfolie
2 mediumgrootte rooi uie, fyngekap
500 ml rosé, van jou keuse
30 ml wynasyn met framboossap (of rooiwynasyn)
150 g bosbessiejellie (cranberry jelly)
50 g gedroogde bosbessies (cranberries)
30 – 45 ml bruinsuiker
5 – 10 ml meel
Vir die hoender:
·
Meng die olie met die tiemie, sout en varsgemaalde peper. Doop elke hoenderborsie in die
mengsel.
·
Draai dan 'n stukkie spek om elkeen – kyk dat die opdieningskant se spek mooi vertoon. Jy
kan die hoender nou eers in die yskas laat wag,
of direk aangaan.
·
Verhit die olie in 'n groot braaipan. Ek gebruik
nog olie omdat die spek onder geen omstandighede
in die pan moet vassit nie, anders rol dit van
die hoender af. Braai die hoender weerskante om
die spek te verbruin en bros te maak. Plaas in
'n skottel of oondpan.
·
Bak vir ongeveer 10 minute in 'n oond voorverhit
tot 180 °C. Dit sal langer of korter duur
afhangend van die hoenderborsie se dikte.
Vir die kapokaartappels:
·
Wanneer die aartappels sag is, druk dit fyn
en meng met die ander bestanddele.
Vir die sous:
·
Verhit die olie in 'n braaipan (jy kan die
hoender se braaipan ook gebruik) en braai
die gekapte uie vir ongeveer 5 minute om effens te
versag.
·
Voeg die rosé en asyn by. Bring tot kookpunt en
kook vinnig vir nog 5 minute.
·
Voeg die bosbessiejellie, bosbessies en
bruinsuiker by. Kook nog 10 minute, dit moet so
lekker vinnig kook.
·
Ek hou daarvan om my sous met 'n bietjie meel te
verdik – meng so teelepel meel met 'n bietjie
water tot 'n pasta – gooi van die warm sous by –
gooi by die sous in die pan en kook nog 5 minute
om te verdik.
·
Die sous is effens soet en effens wynerig – dit
hang egter alles af van die suikerinhoud van jou
rosé, daarom begin ek eers met minder jellie en
suiker en voeg nog by soos benodig. Proe tot dit
vir jou lekker smaak!
|
|
Radys- en fetakaasslaai
Ek vermoed dat hierdie meer 'n
slaai-idee as 'n slaai-resep is. Moenie
gebind voel nie, ek wou net baie graag
radyse gebruik het en dis toevallig
lekker saam met fetakaas! Komkommer sal
ook lekker in die slaai smaak. Kyk of
jou van daardie pakkies blaarslaai met
die kruie en eetbare blommetjies in kan
kry – dit sal nog wonderliker wees as
daar pienk blomme in is!
Vir agt mense het ek die volgende
gebruik:
1 pak gemengde blaarslaai (150 g)
5 radyse, in dun skyfies gesny
100 g fetakaas, in blokkies gesny
Slaaisous:
15 ml suurlemoensap
15 ml rooiwynasyn of wynasyn met
framboossap
5 ml heelkorrelmosterd
30 ml ligte olyfolie
·
Meng al die slaaibestanddele.
·
Meng al die slaaisousbestanddele. Hou
eenkant en meng net voor opdiening met
die slaai.
|
 |
|
 |
Framboos- en
appelkrummelpoeding
Hierdie resep maak genoeg vir 12 klein
ramekins. Jy kan dit ook in een groot
bak maak. Die frambose en appels is net
een idee – meeste vrugte werk goed. My
hoofdoel hier was om 'n pienk vulsel te
maak!
350 g frambose (gevriesde frambose werk
baie goed)
650 g groen of pienk appels, geskil en
in klein blokkies gesny
5 ml suurlemoensap
30 ml strooisuiker
125 ml meel
100 g botter of margarien, in klein
blokkies gesny
125 ml klapper
125 ml hawermout
125 ml bruinsuiker
·
Terwyl jy die appels sny, plaas dit in
'n mengbak en meng met die suurlemoensap
sodat dit nie verbruin nie. Meng met die
frambose.
·
Voeg die suiker by. Soms is die frambose
te suur, jy kan na smaak nog suiker
byvoeg. Deel die vrugte tussen die
ramekins.
·
Vryf die margarien by die meel met jou
vingerpunte in – tot dit krummelrig is.
Gooi die res van die bestanddele by.
Deel die krummel ook tussen die
ramekins. Moenie dit plat druk nie – dit
moet so losserig lê.
·
Bak by 180 °C vir 25 – 30 minute.
·
Dien op met vanieljeroomys of die
onderstaande aarbei-marmer-roomys.
|
|
|
Aarbei-marmer-roomys
Maak jou eie roomys, gegeur met rooswater. Vir
'n mooi marmer-effek meng dit liggies met aarbeipuree!
200 g aarbeie
10 ml strooisuiker
250 ml room
250 ml suiker
750 ml melk
10 ml rooswater (opsioneel)
·
Puree die aarbeie en voeg die suiker by. Meer
suiker kan bygevoeg word indien die aarbeie nie
soet genoeg is nie. Gooi in 'n klein bakkie en
plaas in die vrieskas tot net voor dit gevries
is – dit moet nog loperig, maar yskoud wees.
·
Klits die room en suiker, ongeveer 3 minute, op
volspoed tot dit sagte punte vorm. Voeg die melk
by en klits tot gemeng. Voeg die rooswater by.
·
Vries dit volgens die instruksies van jou
roomysmaker of gooi dit in 'n bak en plaas in
die vrieskas. In die tweede geval, moet jy dit
ongeveer elke halfuur roer om die yskristalle
wat vorm te versprei.
·
Wanneer die roomys yskoud, maar nog vloeibaar
is, gooi een derde daarvan in 'n bak, wat groot
genoeg is om tussen 1 en 1.5 l te hou. Gooi dan
een derde van die aarbeimengsel bo-oor – maak
strepe en draaie, moenie dit egalig versprei
nie. Herhaal met die res van die roomys- en die
aarbeimengsel. Vat nou 'n vurk of poedinglepel
en trek die steelkant 'n paar keer deur die bak.
Dit is hoe mens die marmer-effek kry. Moet egter
nie te veel meng nie – dan verloor jy die
marmer. Plaas dit terug in die vrieskas totdat
dit behoorlik gevries is.
|
Koffie met
sjokoladetjies
Ek gaan beslis nie vir julle vertel hoe
om koffie te maak nie – maar onthou:
maak dit net sterk! Sit enige gekoopte
truffles of likeursjokolades (wat rond
is) in klein pienk houertjies om die ete
behoorlik af te sluit. Almal gaan sê dat
hulle te vol is om nog iets in te neem –
maar kyk net – dit verdwyn altyd so
stil-stil!
|
 |
|
|
|
e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy
uit
het
jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
|
terug na
jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel |
|
|
|
Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!
|
|
|
|
|
|
|