|
jouleefstyl
Val pens en pootjies vir Paella
Met hierdie paella-resep kan jy 'n Griekse tragedie keer en die Kaap weer Hollands maak! Hopelik sal dit geen Spanjaard in sy graf laat omdraai nie!
deur Wilna Myburgh
Paella is 'n dis wat sy ontstaan in die Spaanse platteland in Valencia gesien het. Dit is vernoem na die Spaanse woord vir pan, paella en paellera in Valencia. Dit kom van die Latynse woord, patella, af. Die oorspronklike paella van Valencia is in die 18e eeu van vars groente, rys, hoender, konyn, eend en slakke gemaak – nie soos daar gewoonlik aangeneem word dat dit seekos moet inhê nie. Gemengde paella (die oorspronklike resep met seekos by) en seekospaella is deur die Spanjaarde aan die kus begin. Noudat daar totale Babelse verwarring onder die Spanjaarde is, kan ons maar elkeen ons eie gunsteling variasie van paella maak. Hier is hoe ek daarvan hou – hopelik sal dit geen Spanjaard in sy graf laat omdraai nie! Die rys aan die onderkant van die pan moet so effens bros word, om 'n toasty gekaramelliseerde geur te gee. Dit word die socorrat genoem. Jy hoef nie regtig 'n spesiale paella-pan te koop nie, dit werk ewe goed in 'n kastrol – maar dis tog 'n nuttige pan om in die kas te hê!
Maak genoeg vir 4 – 6 mense.
600 g hoenderborsstukke of varktjops, in blokkies gesny of 8 hoenderdye- en boudjies 5 ml borrie 5 ml paprika, gerookte paprika indien moontlik 25 ml ligte olyfolie sout, peper 50 ml olyfolie 1 groot uie 1 klein groen soetrissie 1 klein rooi soetrissie 5 tamaties 2 koppies rys 4 - 6 koppies hoender-aftreksel ½ ml saffraan (los op in die hoender-aftreksel) 1 pakkie (250 g) gemengde gevriesde seekos* 200 g steurgarnale (opsioneel) 2 hande vol ertjies (opsioneel) 1 klontjie botter 15 ml vars, gekapte pietersielie suurlemoenwiggies
Hierdie is die tipe resep waar jy al die bestanddele voor die tyd gereed kan kry. Daarna staan jy luilekker by jou gaste en kook en lyk ewe koel en kalm. Dis nou om van bewondering af te dwing!
Verhit olie – bedek net die pan – en braai die hoender- of varkstukkies bruin, nie gaar nie. Haal uit en hou eenkant. Braai die ui en soetrissies totdat dit ook bruin begin raak. Gooi die tamatieblokkies en rys by - meng en braai vir 1 minuut. Voeg nou 4 koppies hoender-aftreksel met saffraan by. Bring tot kookpunt. Die vleis en gemengde seekos kan nou terug in die pan gaan. Meng alles. Bedek die pan dig met foelie, of 'n deksel as dit een het – en kook vir 20 minute voordat jy kyk of die rys gaar is. Gooi nog hoender-aftreksel by as dit nodig blyk. Dit kan tot 30 minute duur vir die rys om gaar te kom. Indien jy ertjies gebruik, voeg dit by vir die laaste 3 minute.
As jy steurgarnale insit: Begin ongeveer 20 minute nadat die rys begin kook het om die steurgarnale in 'n aparte pan te braai. Voeg 'n klontjie botter en bietjie olyfolie by en braai totdat hulle gaar en pienkerig word. Sprinkel die sap van 'n halwe suurlemoen oor en geur met sout en peper. Strooi 15 ml gekapte pietersielie oor. Wanneer die paella gaar is – skep die geurige steurgarnale bo-op. Sit voor met suurlemoenskywe en, veral as jy baie gaste het, 'n vars brood. Die broodvlegsel-resep met vars kruie, suurlemoenskil en mozzarellakaas in die Oktober-uitgawe van jouwêreld is absoluut heerlik saam met die paella.
*Seekos: Koop pakke gemengde seekos, of kies twee of drie van jou gunsteling seekossoorte. Mossels en garnale of steurgarnale is byvoorbeeld heerlik op hul eie. Jy kan ook die hoeveelheid aanpas, soos jou smaak verlang.
|