November 2008
Jaargang 1 Uitgawe 4

 

   Sewe pret dae om die ontbyttafel

jouleefstyl
hoofinhoud
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel


deur
Wilna Myburgh

E-pos die skrywer

Ontbyt is die belangrikste maaltyd van die dag, maar ook die een waarmee mense die meeste sukkel! Daar is egter geen verskoning dat dit verbeeldingloos hoef te wees nie – kikker dit op met kleur en geur met ons 7 unieke resepte.

Ontbyt ís sekerlik die belangrikste maaltyd van die dag. Sou die Engelse daar in 1463 verkeerd gewees het toe hulle die woord "breakfast" gemaak het? Dit beteken tog letterlik "breek die vas" – menende dat jy die nag van vas moet stop deur te eet. En dis presies hoekom jy ontbyt móét eet . . . om die vas te stop en die liggaam weer "wakker" te maak vir die dag wat voorlê.
Tog is dit die ete waarmee mens die meeste sukkel. Vroeg in die môre het ek, net soos baie ander mense, mos geen wilskrag of inisiatief om te besluit wat om voor te berei nie!

Maar hier is 'n paar idees – 7 resepte om presies te wees! Jy kan elkeen op sy eie maak, of kombineer: Maak byvoorbeeld die roosgegeurde vrugteslaai in kleiner bakkies en bedien dit as 'n voorgereg voor een van die ander keuses. Die kruiemuffins kan weer met koue vleis, kase en vars vrugte voorgesit word. 

Hulle wissel mekaar af van eenvoudig maar gesond, na meer kompleks tog begeerlik. Hou dit dan ook maar so in jou agterkop dat ontbyte eintlik ‘n wonderlike maaltyd is om aan te bied as jy vriende of familie vir ete wil oornooi. Dis boonop goedkoper as aandete – aangesien jy baie minder vleis en kos nodig.

Geniet dit hierdie maand om elke oggend die vas te breek!

 

Ons 7 ontbyt-resepte vir die maand is:

Geurige soetrissie-roereierpakkies met avokado en suurroom

Kruiemuffins

Eierbrood-ham-en-kaas-toebroodjies

Roosgegeurde vrugteslaai met granola en joghurt

Uitsmijter

Nektarien-, kaneel- en heuninghawermout

Omelet met gerookte salm en avokado-suurroom

Geurige soetrissie-roereierpakkies met avokado en suurroom

Maak genoeg vir 4 persone.

Hierdie ontbyt, met sy spicy roereier in tortillas met avokado en suurroom, toon so ‘n effense Meksikaanse-neiging. Maak dit so "warm" as wat jy daarvan hou, die avokado en suurroom dien mos as verkoelers. Jy kan ook 'n vars rissie kap en saam met die groente braai. Dié kan jy maklik vir gaste vir ontbyt maak. Laat elkeen sy eie pakkie maak. Gerasperde Cheddarkaas om ook in die pakkie te sit, is heerlik!

6 eiers
50 ml melk
5 ml mielieblom (Maizena)
5 ml varsgekapte Italiaanse pietersielie of koljander (opsioneel)
1 mediumgrootte ui, fyngekap
1 mediumgrootte rooi soetrissie, in klein blokkies gekap, so groot soos die uie
15 ml ligte olyfolie
5 ml Ras el Hanout of 2.5 ml ligte kerriepoeier en 2.5 ml borrie
gedroogde rissies (opsioneel)
sout en varsgemaalde swartpeper
4 tortillas of wraps (verkieslik nie die heel groottes nie, of is jy só honger?)
1 avokadopeer
15 ml suurlemoensap
nog sout en varsgemaalde swartpeper
suurroom

Braai die gekapte ui en soetrissie in die olie vir 7 tot 10 minute. Maak seker die braaipan is groot genoeg om later die 6 eiers te akkommodeer. Voeg die Ras el hanout by, maal gedroogde rissies oor. Bepaal maar self hoeveel jy van brandgoed hou! Geur met sout en peper.

Jy kan gou die eiermengsel en avokado regkry terwyl die groente braai.

Meng die melk sluk-sluk by die mielieblom in sodat dit nie klonte vorm nie. Gooi dit by die eiers en klits alles saam.

Gooi die eiermengsel by die groente in die pan en roer voortdurend oor hitte totdat die eier net-net gaar is. Hou in gedagte dat die eiers nog gaar word nadat jy dit van die hitte af verwyder het.

Maak die avokado: Druk die avokado fyn en geur dit met sout, swartpeper en suurlemoen.

Maak nou die tortillas of wraps warm, jy kan dit in foelie toedraai en 5 minute by 180 °C in die oond "bak" of in 'n vadoek toedraai en vir 30 sekondes in die mikrogolf plaas.

Daar is 2 manier waarop jy die pakkies kan maak:

Skep die gegeurde roereier op een kwart van die tortilla en vou dan in kwarte. Of skep die roereier in die middel, laat ongeveer 5 cm oop aan die onderkant. Vou dan die 5 cm-stuk oor die eier en vou dan die kante om. As dit uitmekaarval kan jy 'n tandestokkie strategies indruk om dit vas te hou tot jy eet.

Skep voor opdiening die avokado en suurroom bo-op die pakkie en bedien nog on the side vir die eters om hulself te help.

Kruiemuffins

Maak 15 muffins

Muffins is wonderlik vir ontbyt. Jy kan dit die vorige aand maak en dan saam met die kinders skool toe stuur, saam werk toe vat, of sommer deur die dag eet. Die ding is, mens is nie altyd vir 'n soet muffin lus nie – en dis nou waar die kruiemuffins die dag red! Kyk ook na die variasies.

 500 ml (2 koppies) koekmeel
15 ml bakpoeier
15 ml suiker
2 ml sout
30 g (125 ml) gemengde vars kruie (orego, basiliekruid, salie, grasuie, pietersielie), fyngekap
1 eier
250 ml (1 koppie) melk
100 ml gesmelte margarien of sonneblomolie

Voorverhit oond tot 190 °C.

Meng die droë bestanddele in 'n groot mengbak. Voeg die gekapte kruie by en meng deur die meelmengsel. Klits die nat bestanddele saam. Voeg dit by die droë bestanddele en roer vinnig saam om deur te meng.

Skep lepelsvol in muffinhouertjies – tot ¾ vol. Bak vir 15 minute.

Variasies

Hierdie is 'n baie basiese kruiemuffin.

Vir kaas- en kruiemuffins: Voeg 100 g (250 ml) gerasperde Cheddar by die droë bestanddele.

Vir kaas-, kruie- en songedroogde tamatiemuffins: Voeg 100 g (250 ml) Cheddar en 8 tot 10 gekapte songedroogde tamaties by die droë bestanddele.

Jy kan ook gekrummelde fetakaas byvoeg. Gaan mal! Deel die deeg op en maak verskillende geure; as jy dit gaan verdeel, gooi jou gekose geurmiddel by nadat jy die nat en droë bestanddele gemeng het.

Eierbrood-ham-en-kaas-toebroodjies

'n Gewone ham- en kaastoebroodjie word in eier gedoop en gebraai totdat dit goudbruin is en die kaas uitlokkend smelt. Die oorspronklike Italiaanse weergawe hiervan word "mozzarella in carozza" genoem, wat mozzarella in 'n wa / voertuig beteken. Jy kan dit met doodgewone brood maak en dan in driehoekies of vingertjies sny nadat jy dit gebraai het, maar ek hou daarvan om 'n Franse brood te gebruik – moet net nie vir die Italianers daarvan sê nie.

Franse brood
Ham, van jou keuse, of gebraaide spek
Mozzarellakaas (of ander kaas wat maklik smelt)
2 eiers
sout en varsgemaalde swartpeper
15 ml gemengde vars kruie (orego, grasuie, pietersielie, salie, ens.), fyngekap
25 ml olie

Maak toebroodjies met die mozzarella, ham en brood.

Klits die 2 eiers met 'n vurk. Geur met sout en peper en voeg die vars kruie by. Dis ook baie smaaklik sonder die kruie, indien jy dit nie tot jou beskikking het nie.

Bedek die bodem van 'n braaipan met olie en verhit. Doop die toebroodjies vinnig aan weerskante in die eier en plaas in die pan. Wanneer dit goudbruin is aan die onderkant, draai om. Jy kan dit so bietjie met die eierspaan platdruk om te verseker dat alles "jel". Loer of die kaas gesmelt is - dan is dit gereed.

Sny die broodjies in vorms van jou keuse en smul!

Roosgegeurde vrugteslaai met granola en joghurt

Maak genoeg vir 2.

Die dag wanneer mense nie meer vrugteslaai eet nie, gaan ek uit die lewe bedank. Die wonder is dat mens dit regdeur die jaar kan eet, met 'n verskeidenheid van vrugte wat jou gelukkig maak. Met granola en joghurt by word dit 'n substansiële ontbyt. En die rooswater en roosblare gee dit 'n bietjie andersheid.

250 g gemengde vrugte (soos papaja, aarbei, piesang, nektariens)
15 ml heuning
5 ml suurlemoensap
5 ml rooswater*
blare van 1 roos (geen gif gespuit) (opsioneel)
60 g (100 ml) granola of muesli**
200 ml joghurt (vanielje of gewoon)

Sny vrugte in klein blokkies op en meng. In 'n mikrogolfvaste bak of 'n klein potjie meng die heuning en suurlemoensap. Laat die heuning oor lae hitte loperig word. Verwyder van die hitte en voeg die rooswater by. Gooi die mengsel oor die vrugte en meng deur. Skeur van die roosblare in klein stukkies en voeg ook by die vrugte.

Die lyk baie mooi as jy dit in lagies in 'n glas bedien. Maar, don't despair, ek het nie 'n radar wat afgaan wanneer iemand nog deur die slaap dit nie in 'n glas bedien nie!

Versier dit net vir die pret met 'n roosblaartjie of twee.

*Jy kan natuurlik die hele roos-besigheid laat staan, en dit met gekapte kruisementblare vervang. Of met niks!
**Granola of muesli: Enige soort wat jy verkies sal hier reg wees, met of sonder neute; met of sonder vrugte. Probeer ook gerus daardie snack mixes wat sade, vrugte en neute bevat – dis heerlik!

Uitsmijter

Maak 4 broodjies; vir 2 of 4 persone.

Ontspan – uitsmijters het niks met uitsmyters uit te waai nie. Hierdie is 'n Hollandse gereg, wat jy enige tyd van die dag kan geniet. Terwyl jy die eiers braai, smelt jy kaas bo-oor en eet dit dan op 'n broodjie met ham. As jy haastig (of lus) is, kan jy dit ook in 'n rolletjie maak en soos 'n burger verorber.

4 snye volgraanbrood
5 ml grasuie, fyngekap
5 ml aangemaakte / heelkorrelmosterd
15 ml smeermargarien
4 skywe ham
4 eiers
8 – 12 skyfies kaas met mosterdsaad, kaas met komynsaad of Cheddar
sout en varsgemaalde swartpeper

Rooster die brood – net liggies. Dis eintlik opsioneel.

Meng die grasuie, mosterd en margarien. Smeer die brood met die gegeurde margarien. Plaas 'n skyfie ham op elke broodjie.

Verhit ongeveer 15 ml olie in 'n braaipan om die eiers te braai. As die wit net begin gaar word, sit skyfies kaas bo-oor die hele eier. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Sit die braaipan se deksel op (dan smelt die kaas vinniger) en braai die eiers tot hoe gaar jou mense daarvan hou.

Wanneer die eier gereed is, plaas dit bo-op die hambroodjie. Geniet - verkieslik met 'n koppie koffie!

Nektarien-, kaneel- en heuninghawermout

Oat bran is die gekonsentreerde vesel wat in hawermout voorkom. Dit het 'n lae glukemiese indekswaarde en help met die absorpsie van koolhidrate. Kikker die smaak met nektarien, kaneel en heuning op. Jy kan gewone hawermout ook gebruik vir die resep.

250 ml (1 koppie) water
90 ml oat bran (of hawermout)
knippie sout
knypie neutmuskaat
knypie kaneel
1 nektarien, sny in skyfies
5 ml heuning
melk of joghurt, om te bedien

Bring die water tot kookpunt. Gooi die oat bran, sout, speserye en nektarien by. Roer en kook vir 5 minute. Verwyder van die hitte, sit die deksel op en laat staan vir 5 minute.

Skep op en bedien met melk of joghurt en nog heuning.

Omelet met gerookte salm en avokado-suurroom

Vir 2.

'n Omelet is een van my gunsteling ontbyte, want dit bly tog altyd 'n groot bederf! Daar is ontelbare vulsels wat jy kan maak, maar hiérdie salm en avokado-suurroom sit dié omelet in die klas van yslike bederf! Vir die Ystydperk van bederf, bedien dit met kruiemuffins.

1 klein avocado
15 ml suurlemoensap
50 ml suurroom
3 eiers
3 eetl. (45 ml) water of melk
10 ml ligte olyfolie
5 ml botter / margarine
sout, varsgemaalde swartpeper
80 g gerookte salm, in repies of gerookte gepeperde forel, gevlok
vars dille of gedroogde dille

Sny die avokado in blokkies, meng met die suurlemoensap en suurroom. Druk van die avokadoblokkies fyn om dit effens te verdik. Geur met sout en swartpeper.

Klits die eiers en water saam. Verhit die olie in 'n braaipan en voeg die margarien by. Die pan moet baie warm word. Dis gewoonlik gereed as die margarien klaar geborrel het en begin stil word. Gooi die eiermengsel in. Trek dan die eier van die kante af in en laat die lopende eiermengsel daarin loop. Doen dit totdat al die rou eier in is. Geur met sout en varsgemaalde swart peper. Braai totdat dit net-net gaar is.

Skep die gevlokte, of repies, vis op die een helfte. Skep die avokado-suurroom bo-op. (Jy kan van die avokado-suurroom uithou om saam met die omelet te bedien.) Vou die omelet in die helfte. Strooi dille oor. Deel in 2 en dien dadelik, warm op.

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel

joukommentaar

joubesluit beoordeel dié artikel

jou naam*

jou e-posadres*

jou  lewer kommentaar oor dié artikel
* nie verpligtend

     

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jouwereld tuisblad ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 
 

 

 



 



Lees ons ander uitgawes
Augustus

September
Oktober
November
Desember


 
Lees ook Wilna se resepte in ons vorige uitgawes:
 
Spekburger met sampioensous en uieringe
Braaisous-hoender met groenbone, olywe en fetakaas
Varktjops in koffie- en uiesous
Romerige appelciderhoender met spek en sampioene
Klappermelkkerrie met lensies en groente 
Plaatkoekies – met ‘n
verskil

Gemmer-vonkelwyn
Koue Beetsop met gedraaide blaardeeg-stokkies
Pienk pons
Hoender in spek met bosbessie-rosé-sous
Radys- en fetakaasslaai
Framboos- en appelkrummelpoeding met aarbei-marmer-roomys
Koffie met sjokoladetjies
Speserye – te kies, te keur en te geur
Soete plesier: skons en aarbeie
Paptert my ma s'n
Gebraaide tortillawiggies met bokmelkkaas en soetrissie- en tamatierelish
Biefstuk met kruie-suurlemoenbotter
Gebraaide sampioene met suurlemoen-kruiebotter
Spinasie-slaai met spek en avokado
Broodvlegsel met vars kruie, suurlemoenskil en mozzarellakaas
Ment- en koffieroomys
Vegatariese braai