|
|
|

Mei
2009
Jaargang 1 Uitgawe
10 |
 |
 |
 |
 |
 |
|
|
|
|
|
|
 |
|
 
Dis glad nie toeval wat gemaak het dat pomelo se
ander naam bitterlemoen is nie – dis die
waarheid!
Maar as jy nou so bietjie suikertjies
oorstrooi en dit bak is dit heerlik. Die
granola-joghurtroomys komplimenteer die bitter
smaak perfek. En moenie bekommer om dié roomys
vir ontbyt te eet nie – dis eintlik gesond! Jy
kan dit natuurlik as nagereg ook bedien – dit
werk alkante toe! Ek besef dat roomys nie die
beste wintervoorgereg is nie, maar aangesien die
sonnetjie al goed skyn teen twaalfuur se kant is
dit nie werklik 'n probleem nie. Veral nie saam
met die warm pomelo nie.
3 pomelo's, in die helfte gesny
30 ml bruinsuiker
granola-joghurtroomys*
Verhit die oond tot 180 °C.
Nadat jy die pomelo's in die helfte gesny het,
vat 'n klein, skerp mes en sny rondom elke
wiggie. Jy hoef dit nie heeltemal los te sny nie,
sny net die drie kante van elke wiggie. Dit maak
die pomelo baie makliker om te eet met 'n
teelepel. Besprinkel elke pomelo-helfte met
ongeveer een teelepel bruinsuiker. Die hele
bokant moet bedek wees, so jy kan maar meer ook
gebruik.
Bak dan vir 5 – 8 minute in die voorverhitte
oond totdat die suiker gesmelt is en dit net
deurwarm voel.
Skep vir elke persoon 'n halwe pomelo en 'n
skeppie of twee roomys in.
*Vir die granola-joghurtroomys:
200 g granola of muesli met vrugte en neute in,
of gewoon as verkies**
100 g gemengde bestanddele 20 g klapper
35 g pekanneute, gekap
35 g sultanas
10 g rosyne
50 g heuning
500 ml vanieljejoghurt (indien jy gewone joghurt
gebruik, kan jy nog heuning byvoeg)
250 ml melk
Verhit die oond tot 180 °C.
Sprei die granola of muesli, klapper, pekanneute,
sultanas en rosyne op 'n bakplaat uit. Rooster
vir 5 minute in die voorverhitte oond. Gooi dan
die heuning oor en roer deur. Plaas terug in die
oond vir nog 3 minute om die heuning te smelt.
Roer weer sodat alles gemeng is.
Laat eenkant om af te koel.
Wanneer die mengsel afgekoel het, kan jy die
joghurt en melk meng en dit daarby voeg. Meng
goed deur.
Gooi nou die mengsel in jou roomysmaker, of
plaas dit in die vrieskas en roer elke halfuur
om die yskristalle te versprei totdat dit
gevries is.
** In totaal is daar 300 g gemengde bestanddele
wat jy by die roomys voeg – jy kan dit dus met
gemengde muesli of granola maak, of jy kan soos
ek klapper, pekanneute, sultanas en rosyne in
enige kombinasie van hoeveelhede byvoeg om 100 g
op te maak.
[terug
na bo] |
 
"I love toppings. I've always loved toppings.
Sometimes I go to restaurants and I just ask for
toppings. You know, I say, the more toppings the
merrier." Dis een van my gunsteling aanhalings
uit die fliek
Tortilla Soup, bloot net omdat ek so absoluut
daarmee saamstem. Jy kan vir my enige gereg gee
en dan sê ek moet self toppings byvoeg –
ek is gek daaroor! In hierdie geval het jy 'n
gebakte aartappelgereg met groente en 'n
verskeidenheid bolae, soos bros spek, biltong,
avokado, gegeurde maaskaas, hardgekookte eiers
en worsies. Dan gooi elkeen sy eie kombinasie
van hierdie bestanddele op die aartappels.
Sodoende eet jy al die tradisionele
noenontbyt-bestanddele op 'n nuwe manier!
Vir die aartappelwiggiegebak
12 medium aartappels
sonneblomolie
sout en varsgemaalde swart peper
1 rooi ui, in skyfies gesny
1 rooi soetrissie, in repies gesny
200 g sampioene, in skyfies gesny
Besluit self of jy die aartappels wil skil of
nie – soms verbeel ek my dis baie gesonder as jy
dit met die skil gaarmaak. Sny elke aartappel in
8 wiggies en kook dié wiggies vir 10 minute.
Skakel intussen die oond aan – 200 °C.
Dreineer die aartappelwiggies en gooi in 'n
oondpan. Gooi 30 – 50 ml sonneblomolie oor,
strooi sout en peper oor die aartappels en bak
vir 45 minute.
Voeg die rooi ui, soetrissie en sampioene by.
Roer om te meng en plaas terug in die oond vir
15 – 30 minute totdat die aartappels gaar en
bruin is. Jy kan nog olie ook byvoeg as dit te
droog lyk.
Jy kan die aartappels in 'n opdienbak skep en
nog in die oond hou totdat julle reg is om te
eet.
Vir die bolae:
Maak die bolae terwyl die aartappels bak. Jy
hoef nie almal te maak nie, maar onthou "variety
is the spice of life"! Die groter verskeidenheid
maak dat elke persoon na hartelus kombinasies
kan saamvoeg. Jy kan enige ander bestanddele
hier toevoeg – gerasperde kaas, geurige
maalvleis, geroomde spinasie, fetakaas, gerookte
salm – net waaraan jy kan dink! Vegetariërs is
ook welkom aangesien elkeen as't ware sy eie kos
maak en kan besluit wat hy wil eet.

* Spek: Braai spek bros en breek
in hapgrootte-stukkies.
* Worsies: Maak enige worsies van jou
keuse gaar en sny in kleiner stukke.
* Biltong: Alhoewel ek eers
biltongskyfies gebruik het, was daar 'n
eenparige stemming dat fyn biltong baie lekker
in die plek van biltongskyfies sal wees. En met
die dat hierdie noenontbyt op verkiesingsdag
beproef is, sou ek die stem glo!
* Avokado: Sny 1 – 2 avokado's in
klein blokkies. Voeg suurlemoensap na smaak by,
asook sout en baie varsgemaalde swartpeper. Meng
dit dan met 'n vurk en proe tot dit reg is. Ek
meng dit altyd met 'n vurk want dan druk mens
tegelykertyd fyn.
* Gegeurde maaskaas: Gebruik 1 bakkie
ongegeurde maaskaas. Voeg daarby 30 ml gekapte
sprietuie (wit en groen dele), 7.5 ml
heelkorrelmosterd, sout en peper. Die maaskaas
is heerlik as binding vir al die ander
bestanddele.
* Eier-"slaai": Kook 4 eiers vir ongeveer
8 minute – hardgekookte eiers, met ander woorde.
Haal die doppe af en sny in klein blokkies. Voeg
daarby ongeveer 2 eetlepels mayonnaise, 2
fyngekapte agurkies en 1 fyngekapte sprietui.
Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.

[terug
na bo] |
|
 
Mens het altyd 'n ou soetigheidjie nodig saam
met koffie aan die einde van 'n maaltyd! Hierdie
klein, soet wieletjies is vinnig om te maak en
net die ding vir 'n klein gaatjie!
50 g botter of margarien
2 eetlepels (30 ml) stroop
1 eetlepel (15 ml) bruinsuiker
skilferkorsdeeg
kaneelsuiker
Plaas die botter of margarien in die
mikrogolfoond vir ongeveer 20 sekondes op hoog –
dit moenie smelt nie, dit moet net sag word.
Voeg die stroop en bruinsuiker by en roer tot
dit goed gemeng is.
Smeer nou 18 holtes van 2 klein muffinpanne.
Verdeel die stroopmengsel tussen die 18 holtes.
Sny 12 cm van die skilferkorsdeeg af. Dit maak
nie werklik saak wat die lengte is nie.
Besprinkel die deeg met kaneelsuiker. Rol op
sodat jy 'n lang, dun rol het.
Gebruik nou 'n skerp mes en sny 1 cm-wiele af.
Plaas nou 'n wiel in elkeen van die
stroopgevulde muffinholtes. Nou kan jy dit in
die yskas hou tot dit nader aan die tyd van
opdiening is, of dadelik bak.
Bak vir 10 – 12 minute by 180 °C. Pasop wanneer
jy dit uit die pan verwyder aangesien die stroop
ongelooflik warm word. Dis ook gevaarlik om
dadelik een te probeer – dit moet eers ophou
borrel en effens afkoel! Dit kan warm of koud
bedien word.
[terug
na bo] |
|
|
e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy
uit
het
jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
|
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel
Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n
vriend
|
|
|
|
Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!
[ jouapplous ] [ joufiksie ] [ jouhoofstories ] [ jougeskenke ] [ joukontrei ] [ jouleefstyl ] [ joumenswees ] [ joupolitiek ] [ jourubrieke ] [ jouse ] [ joutuisblad ] |
|
|
|
|
|
Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier! |
|
|
|