Augustus 2008

 

 


 


"Besoek www.kinderwerf.co.za vir gratis leeskaarte, alfabetkaarte, speletjies en nog vele meer. Word ook deel van ons Loebi- leesklub en geniet stories en aktiwiteite in jou moedertaal!" 


 Rooiwarm Bemarking. Peppor.com

South Africa Online




MODE: Terug in die verlede vir 'n stylvolle jy   

jouleefstyl

deur Leoui Janse van
Rensburg

As jy elegant en sjiek by 'n formele funksie wil opdaag, gaan leen stuitig by die 1940's vir 'n klassieke styl wat die koppe sal laat draai. 

Baie kenners beskou tot vandag toe nog die 1940's as van die meer stylvolle modetydperke van die afgelope 100 jaar. Dit is juis daarom glad nie verbasend dat talle elemente van dié styl vandag weer hul inslag in moderne style vind nie!

Deur die 1940-styl ten volle te verstaan en dan elemente daaruit te vat en met moderne uitrustings te meng, kan daar 'n baie klassieke en elegante voorkoms geskep word.

Dit het so ontwikkel
Net so stylvol as wat die 1940-modes was, net so interessant is die ontwikkeling van dié ontwerpe – so het die Tweede Węreldoorlog byvoorbeeld 'n onuitwisbare invloed daarop gespeel.

Gedurende die oorlog was algemene hulpbronne skaars, en materiale was 'n luukse – beslis nie 'n alledaagse en maklik-bekombare item nie!

Alle beskikbare sy en nylon is byvoorbeeld deur die weermag benodig om valskerms te vervaardig; patriotiese vroue het selfs hul eie sykouse aan die weermag geskenk. Dié tekort het tot gevolg gehad dat vrouens minder, en in baie gevalle glad nie meer, sykouse kon dra nie. Sommige wat nog die voorkoms van sykouse as onontbeerlik beskou het, het vir dié tekort vergoed deur "soomlyne" met grimeerpotlode op hul bene te teken. Die meeste vroue het egter in dié tyd kort wit sokkies gedra.

Materiaal moes baie spaarsamig gebruik word: 'n algemene praktyk van vroue in dié tyd was om hul mans, wat toe in die oorlog was, se pakke klere te omskep in vroue-uitrustings. Hieruit het die klassieke broekpakke ontwikkel.

Daar is verder gekompenseer deur met kleurgebruik te speel – baie gewild was diep, donker en ryk kleure – soos maroen, roes-oranje, indigoblou en turkoois.

Gedurende die 1940's het 'n groot verandering sedert die vorige dekade ingetree, en silhoeëtte het nou die natuurlike vroulike figuur nageboots. Om 'n meer vleiende voorkoms aan die draer te gee, was uitrustings swaarder aan die bo-kant.

Die vroulike silhoeët het die vorm van 'n onreëlmatige uurglas aangeneem: die skouers was die wydste met die borsbreedte effens smaller; die middel was die nouste met die heupe weer effens wyer.

Skoenstyle is natuurlik ook deur die materiaaltekort beďnvloed. Aangesien leer nie geredelik beskikbaar was nie, is al hoe meer van hout in skoenontwerpe gebruikgemaak.

Wigskoene, waarvan die wig uit hout gemaak is, was veral baie gewild. Die hakke was ongeveer 5 cm hoog. Skoene het oor die algemeen meer van die voet gewys.

Hare is gekrul en min of meer skouerlengte gedra met bybehore soos blomme, strikke en juwele. Hoede was ook populęr. Grimering het sedert die 1930's egter min veranderings ondergaan en oë is steeds met maskara met behulp van 'n oogpotlood beklemtoon.

Aangesien wenkbroue in meer natuurlike vorms gehou is, was dit nie meer nodig dat vroue hul oorspronklike wenkbroue moes afskeer om plek te maak vir vals- of getekende wenkbroue nie. In 'n poging om 'n meer perfekte lyn te kry, het sommiges egter wel hul wenkbroue gepluk.

Lipstiffiekleure het donkerder geraak, met maroen en bloedrooi as die gewildste keuses.

Trek die 1940's nader
Hoewel die basis van die stylvolle 1940-modes vandag weer net so gewild is as jare gelede, besef min mense werklik dat hul "moderne" styl eintlik maar uit die 1940's kom!

Wees hulle een voor: as jy elegant en sjiek by 'n formele funksie wil opdaag, gaan leen stuitig by die 1940's vir 'n klassieke styl wat die koppe sal laat draai.

Alhoewel die 2008-uitrusting nie meer skouerkussings het nie, is die basiese uurglasvorm terug.

Dra 'n oorbindrok met 'n tipiese 1940's-drukpatroon, met 'n hoë-kwaliteit leergordel om die middel te beklemtoon. (Na my mening kan hiérdie rokke wel weer van sy gemaak word – ons is mos nie tans in 'n oorlog gewikkel nie!)

Ewe suksesvol is 'n bloes of hemp in 'n aangrypende ryk kleur, soos diep-pers of ou-goud. Vir formele dagdrag is 'n besigheidspak net die ding – verkieslik met 'n broek, maar as jy bietjie been wil wys is 'n romp die aangewese kledingstuk.

Grimeerstyle het ook baie min verander met helder rooi lippe wat deurentyd die klassieke styl gebly het. Maak dus kwistig gebruik van donkerrooi lipstiffie en maroen naellak, en trek jou gunsteling maskara en oogpotlood nader.

Vir 'n 1940-haardos sonder om jou hele styl te verander, probeer die volgende:

Dra jou hare reguit bo en krul dit aan die onderkant. 'n Krultang is natuurlik 'n belegging wat voorwaar nuttig is – dit is die sleutel tot jou eie 1940's-haarstyl!

As bybehore, wat 'n noodsaaklikheid is, kan 'n blom of 'n klein juweelstuk in die hare ingewerk word. Unieke haarknippies werk net so goed. En as jy 'n uitgaande persoonlikheid het, kan hiérdie bybehore maar lekker groot wees om die nodige aandag te trek.

'n Goeie voorbeeld vir leiding, is die haarstyle van Audrey Hepburn: hoewel sy eers in die 1950's in films verskyn het, is haar styl die wese van enige klassieke styl.

Onthou om nie jou voete af te skeep nie – asemrowende ooptoonskoene (peeptoes) kan hier nét die ding doen!

Geniet al die aandag wat jy gaan trek!
 

 

 Druk hierdie bladsy uit
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

 

 

 Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

tuis ] joufiksie ] jouhoofstories ] joukontrei ] jouleefstyl ] medewerkers ] joumenswees ] joupolitiek ] jouvermaak ] vertel jou vriende ] teken in ] adverteer ] e-pos die webmeester ]