|
Vir die leek kan die verskillende
skoonheidsbehandelings wat by 'n professionele
praktyk aangebied word, nogal niksseggend wees.
Ek meen: wat is nou so spesiaal aan 'n manikuur
dat ek dit nie by die huis kan doen nie? Is die
produkte wat gebruik word in die
gesigbehandeling regtig beter as die wat ek tuis
gebruik? En wat op aarde is die verskil tussen
'n salon en 'n spa?
jouwêreld het by Jo-Maine van die
River Spa in Parys gaan kers opsteek.
Spa-behandelings
Om mee te begin – 'n spa bied natbehandelings
soos baddens en stoomkamers aan, wat nie by 'n
salon te vinde is nie. Dit is dikwels
komplimentêre spa-behandelings, maar soms kan
dit 'n behandeling op sy eie wees waar daar
water betrokke is.
Die stoomkamer is 'n vertrekkie waar 'n
temperatuur van omtrent 45 grade Celsius
gehandhaaf word. Die stoom is 'n nat hitte wat
veroorsaak dat die liggaam begin sweet en
daardeur word gifstowwe wat in die liggaam
vasgevang is, vrygestel. Stoom is bevorderlik om
'n toe bors oop te maak en is veral goed vir
asmalyers of mense met enige longkwale. Die
hitte help die liggaam se natuurlike
bloedsomloopproses aan, deurdat die are tot by
die vel oopgaan. Dié sessie laat mens gewoonlik
verfris en heerlik ontspanne voel. Dit is ook
voordelig om 'n stoomsessie voor enige ander
behandeling te doen omdat die liggaam dan van
meet af aan ontspanne is.
Die term "Turkse bad" is eeue gelede gebruik
waar klomp mense saam in een kamer bymekaargekom
het om in 'n gesellige groep te stoom en te
reining. By die River Spa word dié beskrywing
gebruik vir die lekker diep sementbad waarin
verskillende kruie en natuurlike olies in die
water geweek word om die vel te voed en die siel
in stilte te laat rus, sodat jy jouself weer vir
die wêreld daar buite kan voorberei.
Alhoewel die klei-wrap soms ook by 'n
salon aangebied word, kan dit eerder as 'n spa-behandeling
gesien word. Hierdie behandeling staan bekend as
die gesigbehandeling vir die lyf. Dit bestaan
gewoonlik uit 'n vollyf-afskilfering om die
bloedsirkulasie te bevorder wat dan gevolg word
deur die klei-wrap om die vel te voed en
terug te sit wat met die afskilferingsproses
weggeneem is. Dié lyfmasker is helend en
vernuwend, verskaf antioksidante en is
fantasties om die vel te voed. Soos met die
gesigsbehandeling word die lyf volgens die
kliënt se behoefte behandel. Daar is onder
andere rooibos wat meer op antioksidante
konsentreer en 'n immuniteitsmasker wat die
limfkliere help om afvalstowwe te verwyder. Dan
is daar die meer bevogtigende masker wat help om
die vel te voed, veral vir gevalle soos ekseem
of 'n droë gebarste vel.
Lyfbehandelings
Dit is van die uiterste belang om na jou lyf te
kyk: net soos 'n gesigbehandeling is dit
noodsaaklik om van al die onsuiwerhede en
gifstowwe ontslae te raak, om die vel te voed en
die liggaam te streel wat so hard werk.
Die hande gee eerste 'n mens se ware ouderdom
weg en dit is waar die manikuur sy plek
volstaan. 'n Ware manikuur bestaan egter nie net
uit die verf van naels nie: met 'n volledige
manikuur word die vel eerstens afgeskilfer om
van alle dooie selle ontslae te raak. Daarna
word dit gevoed om vog terug te sit en laastens
word die naels afgerond.
Wat geld vir die hande, geld natuurlik ook vir
die voete. Daaglikse voetsorg behoort deel van
ons roetine te wees, daarom is dit belangrik om
vir 'n maandelikse pedikuur te gaan om bietjie
dieper op die seer dele te werk, die knoppe op
die voetsole af te skuur en om die ou, dik en
dooie velle te verwyder.
Daar is verskillende variasies op
voetbehandelings. 'n Mens kan gerus 'n
limfdreinering in gedagte hou om van al die
opgeboude vog rondom die enkels en onderbene,
sowel as die voete, ontslae te raak. Dan is daar
behandelings wat dieper as normaal werk, soos om
'n masker op te los, 'n paraffiendip óf
ryk galambotter (shea butter) om die vel net nog
meer te voed. Moenie van netjiese toonnaels
vergeet nie – vir die vrouens is daar niks
mooier as 'n afgeronde voetjie met mooi geverfde
tone nie!
Masserings
Ek glo dat die sukses van 'n spa of salon aan
twee behandelings gemeet kan word, waarvan een
die masserings is. Bo en behalwe dat 'n
massering baie voordele het, moet dit só
uitgevoer word dat maksimum resultate verkry
word terwyl dit terselfdertyd ontspannend moet
wees. Sodra 'n persoon aangeraak word, skei die
liggaam die hormoon, endorfien, af wat die
liggaam se natuurlike pynstiller is en wat die
mens van nature goed laat voel. Tydens die
massering word bloedsirkulasie bevorder terwyl
die spiere aangemoedig word om te ontspan deur
hulle te strek en trek. Vars bloed word
toegelaat om na areas te stroom wat voorheen
geblok kon gewees het en die limfsirkulasie word
ook bevorder om sodoende op 'n natuurlik wyse
van alle gifstowwe ontslae te raak.
Aromaterapie maak gebruik van natuurlike
essensiële olies wat baie diep in die liggaam
geabsorbeer word en sodoende ook in die
bloedstroom op eindig. Die verskillende tipes
olies kan verskeie helende effekte op die
liggaam hê en verskillende kondisies kan
behandel word soos bv. hoë bloeddruk, pyne en
verskeie ander kwale.
Warm vulkaniese klippe word gebruik as die
medium vir warm klip-massering. Hierdie tipe
klip behou sy hitte vir 'n langer tydperk en die
hitte penetreer diep tot in die spier. Sonder om
harder te druk is die effek van dié massering
dus baie dieper as die van 'n normale massering.
Limfdreinering fokus weer daarop om die
limfstelsel te stimuleer in sy taak om
afvalstowwe af te skei. As 'n mens in gedagte
hou dat die limfstelsel normaalweg eers inskop
wanneer ons fisies aktief is, maak dit sin in
ons passiewe samelewing om van tyd tot tyd vir
so 'n behandeling aan te meld.
Wanneer 'n mens dus
in ag neem wat al die voordele van
spabehandelings is, maak dit sin om indien
moontlik elke ses tot agt weke vir 'n
behandeling te gaan. Deel van die lekker is om
elke keer iets anders te probeer totdat jy iets
vind wat in jou smaak val.
|