Lente uit die oudedoos
Skop jou skoene uit en hardloop kaalvoet oor die gras – dis uiteindelik lente! Om die lente behoorlik welkom te heet, kan jy 'n hele span vriende nooi, dié pragtafel dek en dan die eenvoudige doen-dit-self-lentekos vir hulle maak.
Die lente moet met helder kleure en blomme gevier word. Loer na ons foto’s om te sien hoe ons al die helder kleure in 'n vintage-waas gebruik het. Die tafel kan met reg as vrolik en vroulik beskou word. Saam met linte, baie kolletjies, oudtydse glase, blomme uit materiaal en vlaggies uit vintage-papier, kom hierdie tafel reg uit die oudedoos.
Wapper in die wind
Die grootste pret van die tafel is om die aankope te doen. Sleep 'n vriendin saam en gaan besoek 'n handwerkwinkel, maak seker dit is een met scrapbooking-benodighede. Om jou tafelidee af te skop en ons vlaggies te maak, moet jy nou mooi papier uitsoek.
Ons het agt verskillende papiere gebruik, maar jy hoef jou natuurlik nie hierdeur te inhibeer nie. Kies papiere in groen en pienk skakerings met aksente in oranje en blou. Kyk uit vir 'n verskeidenheid patrone, soos kolletjies, klein blommetjies en groter blommotiewe, maar hou die ou-wêreldse gevoel in gedagte.
Knip dan reghoeke uit die papier van ongeveer 10 x 15 cm uit. Jy sal gewoonlik ongeveer drie reghoekies langs mekaar uitkry, en oorblyfsels hê. Die agt papiere sal jou minstens 24 reghoeke gee om mee te werk.
Gebruik 'n gaatjiepons om gaatjies in die kort kant van die reghoeke te druk. Ryg dan 'n dun lint deur die gaatjies van die reghoeke. Rangskik die papier in enige volgorde, onthou – hoe bonter, hoe beter. Hou die lint lekker lank want dan het jy beheer oor hoe laag die vlaggies oor jou tafel gaan hang.
Lawwe linte
Tydens jou inkopietog skaf ook 'n verskeidenheid linte aan om jou tafeldoek op te helder. Onthou net om jou tafel voor die tyd te meet, en voeg minstens 15 cm vir elke kant by vir die oorhang.
Daar is regtig 'n wye verskeidenheid linte beskikbaar. Kyk byvoorbeeld na die lint met kolletjiespatrone en gehekelde rante op ons foto’s. Só kan jy 'n paar linte bymekaarsit wat by jou kleurskema pas.
Ons het 'n blou denimtafeldoek gebruik, hoewel jy met ewe veel sukses 'n effe roomwittafeldoek sou kon gebruik. Stryk die linte en drapeer hulle oor die tafel. As jy baie daarvan hou, kan jy dit verewig en vaswerk aan jou tafeldoek.
Denimbloeisels
Omdat dit lente is, het mens beslis 'n dubbeldosis blomme nodig. Hulle hoef egter nie almal lewendige plante te wees nie. Maak hierdie blomme uit verskillende teksture materiaal. Ons het denim en suède gebruik. Jy kan ook een of twee blaartjies uit vintage-geblomde lap maak.
Wat jy benodig:
* Verskeidenheid materiaal, met interessante teksture of patrone
* Skêr
* Naald en garing
* Knope, een vir elke blom
Knip die blomblaarpatrone uit. Sny vyf van die groot blare, en ongeveer 12 tot 15 van die kleiner blare vir elke blom.
Sny ook 'n sirkel van ongeveer 3 cm in diameter uit die een effe kleur uit, dit is die basis van die blom.
Spasieer die vyf groter blomblare om die sirkel se rand, dat hulle net-net oorvleuel. So kan jy 'n idee vorm van hoe naby hulle aan mekaar moet wees.
Werk dan met jou naald en garing die blomme vas, net so twee steke deur elkeen, en dan een steek deur die opeenvolgende blom en die sirkel onder. Trek die garing tussen deur styf dat die blare effe regop staan. Begin dan om die kleiner blare tussen die ander vas te werk, wissel tussen jou verskillende materiale. Trek steeds tussenin die garing stywer.
Eindig af met drie blaartjies wat eweredig in die middel gespasieer is.
Maak dan 'n knoop in die middel vas.
Bêre dan jou blommetjie in 'n klein glas, of ander klein holte, dit sal help om vorm daaraan te gee sodat dit later mooi op jou tafel lyk.
* Wenk: Werk 'n borsspeldjie aan die onderkant van elke blom vas, en gee dit vir jou gaste as 'n dankie sê-geskenkie.
Getooi in glas
As fokuspunt, en om hoogte vir die tafel te skep, het ons groot, glaskoepels gebruik wat oor gousblomme staan. Viooltjies sal net so goed werk. Indien jy nie mooi potjies het om die blomme in te plant nie, kan jy van jou oorblywende papier om die houer draai.
Vrolik gevou
Vou 'n lapservet saam met 'n mooi geblomde papierservet wat albei in jou kleurskema pas. Bind met 'n lint vas, en maak 'n strikkie. Jy kan geblomde servette in verskeie bypassende kleure gebruik, herhaal net elkeen minstens een keer om nie te veel van 'n bont spul te veroorsaak nie. Die servet is 'n goeie metode om jou tema te vestig en nog kleur in jou tafel te kry. Dit skep ook 'n gevoel van eenheid want dit is 'n herhaling van die linte wat op die tafeldoek is.
Skink blomtee
Plant angeliere, of ander klein blommetjies, in jou geblomde teekoppies. Daardie wat jy by jou ouma geërf het is ideaal. Saailingbakkies, met ses plantjies in, se grootte is net perfek om net so in 'n teekoppie te pas. Gooi bietjie water oor net nadat jy dit oorgeplant, die saailinge sal net ongeveer 2 dae in die koppie oorleef, voor jy dit moet uitplant.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na jouleefstyl volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?

