|
jouleefstyl
Maak hierdie lente vriende met
jou kwekery
Eet jou tuin Daar is geen groter vreugde as om die spreekwoordelike vrugte te pluk nie. Kruie, groente en vrugtebome kan met groot sukses in die tuin geplant word. Jy hoef nie baie spasie te hê nie - veral as jy net vir jou gesin plant. Ek plant nie sommer enigiets van saad af nie – dis waarvoor kwekerye daar is, dan nie? Hulle versorg die saadjies tot hul mooi plantjies is wat jy kan oorplant – ek het baie meer sukses, en minder stres, daarmee. Kruie werk wonderlik in potte, waar jy dit naby die kombuis kan hou. Maak net seker dat daar goeie grond is, genoeg son en baie water. Kruie moet daagliks water kry – op baie warm dae kan jy hulle tot twee keer 'n dag water gee. Verskillende kruisoorte kan ook saam in een groot pot geplant word – 'n goeie kombinasie en van die kruie wat mens die meeste in die kombuis gebruik is Italiaanse pietersielie, origanum, grasuie, basielkruid en tiemie. Koop klein plantjies – net een van elke soort en plant dit dan saam in 'n groot pot. Roosmaryn en 'n lourierboom sal ook 'n definitiewe aanwins vir jou tuin en jou kombuis wees.
Wat 'n vreugde is dit nie om groente vars uit
die tuin te haal nie? As jy dit nog nie beleef
het nie, ry sommer nou dadelik na jou naaste
kwekery! Kersietamaties, groen soetrissies, uie
en eiervrug is van my gunstelinge. Die geur van
vars groente is onverbeterlik – ek het nooit
voorheen eens besef dat eiervrug na iets moet
ruik nie. Lééf jou tuin
Nee, jý hoef nie buitekant te gaan bly nie – kry
lewe in jou tuin deur 'n waterval te installeer
of dalk 'n dam met visse en waterplante, en lok
voëls en skoenlappers na jou tuin.
Die green, green grass of home
As jy sien dat die gras op 'n sekere area nie
wil groei nie, moenie dit forseer nie. Gras wil
dikwels nie onder groot bome of skadukolle groei
nie, en al wat jy gaan hê is 'n modderige
skaatsbaan. Plavei daardie areas. Nie net sal
jou tuin minder verwaarloos lyk nie, dit sal ook
minder water gebruik.
Geniet jou tuin Alles wat jy in jou tuin insit, sal jy weer kan terugkry – kos, suurstof én vreugde! |