|
|
|

deur
Wilna
Myburgh
|
|
Maak hierdie lente vriende met
jou kwekery
en moenie vir plante skrik nie. |
|
|
|
Eet jou tuin
Daar is geen groter vreugde as om die
spreekwoordelike vrugte te pluk nie. Kruie,
groente en vrugtebome kan met groot sukses in
die tuin geplant word. Jy hoef nie baie spasie
te hê nie - veral as jy net vir jou gesin plant.
Ek plant nie sommer enigiets van saad af nie –
dis waarvoor kwekerye daar is, dan nie? Hulle
versorg die saadjies tot hul mooi plantjies is
wat jy kan oorplant – ek het baie meer sukses,
en minder stres, daarmee.
Kruie werk wonderlik in potte, waar jy dit naby
die kombuis kan hou. Maak net seker dat daar
goeie grond is, genoeg son en baie water. Kruie
moet daagliks water kry – op baie warm dae kan
jy hulle tot twee keer 'n dag water gee.
Verskillende kruisoorte kan ook saam in een
groot pot geplant word – 'n goeie kombinasie en
van die kruie wat mens die meeste in die kombuis
gebruik is Italiaanse pietersielie, origanum,
grasuie, basielkruid en tiemie. Koop klein
plantjies – net een van elke soort en plant dit
dan saam in 'n groot pot. Roosmaryn en 'n
lourierboom sal ook 'n definitiewe aanwins vir
jou tuin en jou kombuis wees.
Wat 'n vreugde is dit nie om groente vars uit
die tuin te haal nie? As jy dit nog nie beleef
het nie, ry sommer nou dadelik na jou naaste
kwekery! Kersietamaties, groen soetrissies, uie
en eiervrug is van my gunstelinge. Die geur van
vars groente is onverbeterlik – ek het nooit
voorheen eens besef dat eiervrug na iets moet
ruik nie.
'n Nuwe neiging is om vrugtebome in groot balies
of potte te plant. Die oes sal meer beheerbaar
wees en dit vat nie soveel spasie nie. Dis
belangrik dat groente en vrugtebome ook genoeg
water kry en grond met ekstra voedingswaarde.
|
|
Om plante in 'n pot te plant:
Kry 'n stewige pot, met gaatjies onderin vir
dreinering. Gooi klein klippies of potskerwe
onder in die pot. Dit alles sal help dat die
wortels nie te lank in die water staan nie – en
nie sal vrot word nie – maar ook dat die water
nie te vinnig dreineer nie.
Die pot moenie te klein wees nie – plante werk
soos visse – hulle word so groot soos die bak of
pot hulle toelaat.
|
 |
|
Lééf jou tuin
Nee, jý hoef nie buitekant te gaan bly nie – kry
lewe in jou tuin deur 'n waterval te installeer
of dalk 'n dam met visse en waterplante, en lok
voëls en skoenlappers na jou tuin.
Om skoenlappers na jou tuin te lok, kan jy van
die volgende kruie plant: basielkruid, dille,
vinkel, laventel, suurlemoenverbena, roosmaryn
en viooltjies.
Om voëls na jou tuin te lok: Hou kos en water vir die
voëls in jou tuin. Saad kan in pakkies by meeste
supermarkte gekoop word. Voël-waterbakke kan ook
deel van jou tuindekor wees.
Bring nog meer lewe na jou tuin deur met kleur
te speel. Kies 'n kleurtema en bou daarop voort.
Of laat die tuinmuse jou lei en gaan bont! Alles
gaan oor of jou tuin vir jou plesier verskaf. As
"speel met kleur" vir jou na 'n oorweldigende
konsep klink, kry vir jou 'n kleurwiel en leer
meer oor kleurskemas. Dit kan help om fokuspunte
met maksimale trefkrag in jou tuin te skep.
|
|
Geniet jou tuin
Elke tuin moet 'n gemaklike sitplekkie hê, sodat
jy die natuur en jou handewerk kan bewonder.
Kies die perfekte plek uit waar jy luilekker in
die skadu kan sit en lees. So van lees gepraat,
in verlede maand se uitgawe, kan jy lees hoe om
jou eie
mosaïektuintafel te maak en wenke om
tuinuitleg te doen.
Alles wat jy in jou tuin insit, sal jy weer kan
terugkry – kos, suurstof én vreugde! |
|
|
|