Oktober 2008
Jaargang 1 Uitgawe 3

 

 

   Kruie in die kleine

jouleefstyl
hoofinhoud
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel


deur
Wilna Myburgh

 

 

Moenie 'n klein fortuin op 'n kruietuin spandeer nie – maak eerder 'n kruiepot!

Kruie moet naby aan jou kombuis wees. Dan kan jy sommer so by die agterdeur uithang en 'n takkie pietersielie of 'n blaarslaaitjie pluk!
Wanneer jy daar verbystap, sal jy ook sommer onthou om dit water te gee.
Ons het 'n groot kruietuin in ons agterplaas – maar in die donker is dit bietjie ongemaklik om te gaan pluk. Nou plant ek 'n klomp van my gunsteling kruie saam in een groot pot, wat in die son by die kombuisdeur staan. Dit beteken egter nie dat jy dieselfde roete moet volg deur kruie op meer as een plek te plant nie. Hierdie kruiepot is 'n goeie manier om kruie en hul behoeftes en gebruike te leer ken. Dit sal tot werk as jy nie 'n tuin het nie – die pot kan in die son op 'n balkon staan. Die meeste kruie wil son en baie water hê. Die inligting word gewoonlik op die etiket aangedui.  
Kies jou kruie

Hier is 'n kort opsomming van 'n paar algemene kruie. Jy kan ook ander kruie gebruik en plant. Moenie paniekbevange raak oor die aanduidings van hoogte en verspreiding nie. Dit gee jou net 'n algemene idee van hoe groot die plant gaan word. Wanneer jy egter al die kruie saam in 'n pot plant, word dit nie so groot soos as wat dit kan nie. Jy kan dit as 'n riglyn gebruik om die kruie wat moontlik die hoogste gaan word, agter te plant – maar wag, ons praat later hieroor.
My kruietuin in die kleine het kruisement, grasuie, Italiaanse pietersielie, orego, slaairoket, gemengde slaaiblare en salie in. Ek sou vreeslik graag basiliekruid hierin wou geplant het, maar dit was nog nie by my kwekery beskikbaar nie. Daar is egter 'n groot spasie in die agterplaas net vir basiliekruid gereserveer – dit is immers my gunsteling-gunsteling!
 

Basiliekruid

Daar is verskillende tipes basiliekruid – sweet basil is eenjarig en, volgens my, die een met die lekkerste geur. Basiliekruid is heerlik saam met enige tamatie geregte. Dit vra vir vol son. Die plant word tussen 20 en 60 cm hoog en het 'n verspreiding van 15 – 45 cm.

 

Grasuie of knoffelgrasuie (chives)

Grasuie is wonderlik as jy 'n uierige smaak vir jou kos wil gee, maar nie lus is om te huil nie. Soos die naam aandui, het knoffelgrasuie 'n ligte knoffelgeur. Beide is heerlik opgesnipper in koue aartappelslaai of saam met roereiers. Grasuie word tussen 10 en 60 cm hoog en het 'n 30 cm-verspreiding. Dit kan in vol son staan.

Koljander (coriander / cilantro)

Hierdie is een van daardie kruie wat jy oombliklik liefhet of haat. Moenie dit plant as jy die smaak haat nie! Koljander is lekker in disse van lande van Asië en Suid-Amerika. Dit is 'n tradisionele bestanddeel van guacamole. Saam met olierige diepvet-gebraaide kos is 'n koljanderblaartjie, met suurlemoensap, heerlik.
As jy dit plant en agterkom dat jy nie daarvan hou nie, wag totdat dit saad skiet. Koljandersaad proe nie soos die blare nie. Die saad begin aan die plant droog word. Sny die hele bos af en hang dit buite om heeltemal te verdroog. Oes dan die sade – skud dit net in 'n sif om al die vuiligheid af te kry. Hou dit in 'n lugdigte houer. Braai, sonder olie, totdat jy dit net ruik en dan is dit gereed vir gebruik.
Koljander wil son tot half-skadu hê. Dit word 15 – 70 cm hoog en versprei tussen 10 en 30 cm.

 

 

Kruisement

Kruisement is amper oorbekend. Daar is verskillende soorte ment – pynappelment, appelment, sjokoladement en tuinment is maar net 'n paar van die beskikbare tipes. Ment word tradisioneel saam met ertjies, klein aartappeltjies en skaapboud geniet. Menttee is ook heerlik – gooi kookwater oor vars mentblare, laat dit vir 5 minute trek en gooi deur 'n sif. Dis smaaklik en baie goed vir spysvertering. Probeer ook dié Ment- en koffieroomys.
Kruisement word ongeveer 60 cm hoog, die verspreiding is egter grensloos. Daar is geen keer aan hierdie plant se wortels nie – as jy nie keer nie kom daar naderhand oral kruisement op. As jy besluit om dit deel te maak van jou kruiepot of kruietuin, plant dit in 'n plastiek pot en plant die hele pot in die grond. Maak seker dat die water by die pot uitkom as jy die kruie natgooi. 

 

Marjolein (marjoram)

Marjolein is 'n familielid van orego – beide het die familienaam, origanum. Die geure is naby aan mekaar, alhoewel marjolein se geur soeter en nie so sterk soos orego s'n is nie. Marjolein het ook baie kleiner blaartjies. Jy kan dit oral gebruik waar jy gewoonlik orego sal gebruik. Dit het 'n hoogte en verspreiding van 45 cm en wil in die vol son staan.

 

Orego

Orego word veral in Italiaanse, Griekse en Meksikaanse kookkuns gebruik. 'n Mengsel van vars gekapte oregano, ligte olyfolie, baie suurlemoensap, growwe sout en swart peper is heerlik as 'n marinade vir varktjops en –sosaties. Wanneer jy aartappels kook, voeg 'n takkie oregano by die water. Dis nou presies hiervoor waar mens by die agterdeur uithang. Orego vra vir vol son en die hoogte en verspreiding daarvan is 45 cm.

 

Pietersielie

Hierdie is ook een van die kruie wat baie algemeen is. Ek verkies Italiaanse pietersielie – dit word ook platblaar- (flat-leaf) pietersielie genoem. Die geur daarvan is nie so oorweldigend soos die van krullerige pietersielie nie. Italiaanse pietersielie groei altyd lekker vinnig. Dit moet in die vol son tot halfskadu staan en word tussen 38 en 60 cm hoog.

 

Roosmaryn

Gooi dit saam in die pan as jy gebakte aartappels maak, maak focaccia met hope roosmaryn en growwe sout of gooi dit op die kole terwyl jy braai. Die sterk geur van roosmaryn is 'n treffer! Roosmaryn kan in die vol son tot 1.2 m hoog word, met 'n verspreiding van 1 m. As jy dit saam in die kruiepot plant, snoei dit as dit blyk dat dit te groot word.

 

Salie

Salie word nie dikwels gebruik nie, maar dit is 'n definitiewe treffer in kalkoenvulsel en saam met hoender en varkworsies. Dit word 60 – 80 cm hoog, en versprei tot 1 m en kan in die vol son staan.

 

 

Slaaiblare

Dis absoluut wonderlik om jou eie slaai in die tuin te hê. Ons plant altyd botterblaarslaai en rooi frilly blaarslaai. Die tipe blaarslaai, meer na die gourmet-kant toe, is meestal baie duur in winkels. Dis die beste om die blaarslaai vroeg in die oggend te pluk. As jy dit later pluk kan jy dit in 'n bak met yswater laat lê om knarsvars te word. Jy kan deurentyd pluk – dit bevorder die groei. Blaarslaai word 20 – 30 cm hoog. Dit kan in die vol son staan, maar moet beskerm word teen swaar reën en wind. Dis ook belangrik om blaarslaai baie water te gee – dit bestaan immers uit by die 70% water

 

Slaairoket

Roket is 'n acquired taste! So effens bitter – maar heerlik saam met ander blare in slaai met 'n skerp slaaisous. Slaairoket kan blaar-vir-blaar gepluk word soos benodig, terwyl die blare nog klein is. Dit hou van vol son en kan tot 60 cm hoog word (maar sjoe, dan gaan dit bitter raak) en versprei tussen 15 en 20 cm.

 

Tiemie

Tiemie is ook heerlik saam met gebraaide aartappels. Dit werk goed in disse wat lank en stadig kook. Suurlemoentiemie is 'n goeie alternatief – dit het 'n ligter, meer vrugtige smaak as gewone tiemie. Tiemie word tussen 15 en 23 cm hoog en versprei tussen 10 en 15 cm. Plant tiemie in die vol son.

 

 

Plant jou kruie

Dis belangrik om vir die kruie 'n "lekker" tuiste te skep: werk potgrond by jou gewone tuingrond in. Die grond moet losserig en grof wees, sodat dit goed kan dreineer. As die grond nie los genoeg is nie, voeg nog kompos by.
Wanneer die grond gereed is, pak die kruie, nog in hul bakkies, uit soos wat jy hulle wil plant.
Dis nou hier waar die getalle wat hier bo aangegee word vir hoogtes en verspreiding gebruik word. Geen getal is die offisiële wet en orde nie – dis maar net 'n beraming om jou naastenby 'n idee van die groottes te gee.

As die pot teen 'n muur gaan staan, plant die krui wat die hoogste word agter en laat die ander dan van al twee kante af 'n Mexican wave na voor maak. Die slaaiblare werk goed voor omdat hulle nie baie hoog word as jy hulle voortdurend pluk nie. Jy kan hulle tussen die ander kruie ook plant.
Indien jou pot nie teen 'n muur gaan staan nie, maar van alle kante af besigtig kan word, kan jy die potensieel-hoogste plant in die middel plant. Dan is dit van alle kante af 'n fokuspunt.

Wanneer jy tevrede is met hoe jou kruiepot gaan lyk, kan jy een-vir-een vir die kruie 'n holte maak. Die gat moet diep genoeg wees om die plant te akkommodeer, gooi dan die wortels toe met grond en druk dit stewig vas. Die wortels moet heeltemal onder die grond wees. Onthou om daai kruisement in 'n pot te hou.

Sodra al die kruie geplant is, gee dit 'n ligte sproei met water.

Versorg jou kruie

Wanneer dit baie warm is, moet jou kruie ten minste een keer per dag water kry. Gee vroeg in die oggend of in die laatmiddag water. Kyk dat die grond nie dalk heeltemal uitgedroog is nie. Plante in potte benodig meer dikwels water as die in die tuin.

Alhoewel die meeste kruie baie sonlig moet kry, beteken dit nie dit moet die héle dag in die son staan nie: net middag- of net oggendson is voldoende. Veral omdat die son se hitte in 'n pot gekonsentreer is en dit dan langer warm bly as in die grond.

Gee die kruie kans om te vestig voor jy begin blare pluk. Onthou om nooit al die blare tydens die groeityd af te pluk nie. Dan sukkel die arme krui om weer te groei.

Wanneer die kruie blomme stoot, pluk hulle af. Dit verseker dat al die plant se energie gebruik word om die essensiële olies in die blare, wat die geur verskaf, nog geuriger te maak. Dit help ook dat meer blare groei.

Meerjarige kruie, soos roosmaryn, salie en tiemie, moet in die herfs teruggesny word. Eenjarige plante kan in die volgende lente vervang word.
 

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel

joukommentaar

joubesluit beoordeel dié artikel

jou naam*

jou e-posadres*

jou  lewer kommentaar oor dié artikel
* nie verpligtend

     

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joutuisblad ] stuur 'n e-pos ] joufiksie ] jouhoofstories ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jouse ] jougeskenke ]