jouleefstyl
  


  Skep só ruimte

 

Skep ruimte in jou kas – vir 'n gelukkiger jy

 


deur
Elbie Els
 

"Wat moet ek nou weer vandag aantrek?"
Of: "Hier is ook niks in hierdie kas om aan te trek nie!"
Hiérdie is woorde wat die manne kort-kort moet aanhoor, want baie vroue staan mos gereeld voor 'n kas – vol klere – met hul hande in die hare omdat daar niks is om aan te trek nie!
Humeure ontvlam, baie tyd word gemors en dan is daar ook gewoonlik groot frustrasie. Dalk kan jy met een van hiérdie situasies identifiseer: 

·  Manlief sit al in die motor en wag en jy hardloop op die laaste oomblik terug om jou nuwe swart skoene vir die oues met die plat hakke te verruil, en om nóg 'n draai voor die spieël te maak, met die hoop dat die prentjie meer positief as vyf minute gelede sal wees.

· Jy kom terug van 'n aandjie uit en dan lê dié onaangename taak voor: om die reuse hoop klere op jou bed (wat vroeër die aand aangepas is, maar nie die toets geslaag het nie) op te vou en op te hang.

·  Jy is hopeloos laat vir werk, want niks wou vanoggend reg lyk nie en jy voel heeldag effens ongemaklik want jy voel nie so goed oor die prentjie wat jy in die spieël gesien het net voor jy uit die huis is nie.

Ons kwel onsself só oor wat ons moet aantrek terwyl Mattheus 6:25 duidelik sê: "Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie."

Is die rede vir die bekommernis dalk omdat ons klerekas in 'n swak toestand is? Ek het goeie, praktiese riglyne gekry om my klerekas se toestand te verbeter tydens 'n aanbieding deur Louise van Hees, 'n senior Chata Romano voorkomskonsultant. Baie van hierdie riglyne het gehelp dat ek my nou glad nie meer so baie oor my klerekas kwel nie.

Die eerste groot taak – wat baie moed en durf kos – is om van al daardie kledingstukke ontslae te raak wat jy lanklaas gedra het, of glad nie dra nie. Ook daardie items wat jy bêre ingeval jy dalk weer eendag so maer is soos op jou matriekafskeid!
Met heelwat meer plek in jou kas kan jy dan begin om Van Hees se nuttige riglyne oor figuuranalise, lengtes en proporsies en selfs skoene en bykomstighede toe te pas. Dit is belangrik om te besef dat hierdie metamorfose van jou klerekas nie in 'n dag, week of selfs maand hoef te gebeur nie - volgens Van Hees is dit 'n stelselmatige proses. Soms staan 'n mens in 'n winkel en is dol oor 'n bloes, maar jy het niks in jou kas waarby jy dit kan aantrek nie. Op die ou end hang daardie splinternuwe bloes in jou kas en word dit net een of twee keer 'n jaar aangetrek.

Nog 'n sensitiewe sakie is wanneer dit vakansie is en almal se bagasie nie in die kattebak inpas nie - omdat joune amper driekwart van die plek in beslag neem. Herinneringe van my met my yslike groot groen tas flits deur my gedagtes. Enige persoon wat my tas optel om in of uit te pak, steun en kla gewoonlik só hard dat almal kan hoor. Ook hiervoor het ek handige riglyne by Van Hees se praatjie gekry. Sy het gedemonstreer dat 'n mens met 15 kledingstukke vir 45 dae op reis kan gaan en elke dag anders kan lyk – natuurlik moet die 15 stukke goed gekies word. Dit kan dan, saam met twee of drie paar skoene, in 'n tassie die helfte so groot soos my groen tas pas.

My klerekas help nou dat ek kommervry kan wees; my aandag kan fokus op belangriker dinge, maar ook gelukkig voel met myself – van binne en buite.

Van Hees doen persoonlike konsultasies, groepskonsultasies, inkopie-afsprake en het ook handige kleurkaarte en boeke beskikbaar. Vir meer inligting of 'n afspraak kontak haar by louisevanhees@absamail.co.za.