|
"Wat moet ek nou weer vandag aantrek?"
Of: "Hier is ook niks in hierdie kas om aan te
trek nie!"
Hiérdie is woorde wat die manne kort-kort moet
aanhoor, want baie vroue staan mos gereeld voor
'n kas – vol klere – met hul hande in die hare
omdat daar niks is om aan te trek nie!
Humeure ontvlam, baie tyd word gemors en dan is
daar ook gewoonlik groot frustrasie. Dalk kan jy
met een van hiérdie situasies identifiseer:
·
Manlief sit al in die motor en wag en jy
hardloop op die laaste oomblik terug om jou nuwe
swart skoene vir die oues met die plat hakke te
verruil, en om nóg 'n draai voor die spieël te
maak, met die hoop dat die prentjie meer
positief as vyf minute gelede sal wees.
·
Jy kom terug van 'n aandjie uit en dan lê dié
onaangename taak voor: om die reuse hoop klere
op jou bed (wat vroeër die aand aangepas is,
maar nie die toets geslaag het nie) op te vou en
op te hang.
·
Jy is hopeloos laat vir werk, want niks wou
vanoggend reg lyk nie en jy voel heeldag effens
ongemaklik want jy voel nie so goed oor die
prentjie wat jy in die spieël gesien het net
voor jy uit die huis is nie.
Ons kwel onsself só oor wat ons moet aantrek
terwyl Mattheus 6:25 duidelik sê: "Moenie julle
kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat
julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat
julle sal aantrek nie."
Is die rede vir die bekommernis dalk omdat ons
klerekas in 'n swak toestand is? Ek het goeie,
praktiese riglyne gekry om my klerekas se
toestand te verbeter tydens 'n aanbieding deur
Louise van Hees, 'n senior Chata Romano
voorkomskonsultant. Baie van hierdie riglyne het
gehelp dat ek my nou glad nie meer so baie oor
my klerekas kwel nie.
Die eerste groot taak – wat baie moed en durf
kos – is om van al daardie kledingstukke ontslae
te raak wat jy lanklaas gedra het, of glad nie
dra nie. Ook daardie items wat jy bêre ingeval
jy dalk weer eendag so maer is soos op jou
matriekafskeid!
Met heelwat meer plek in jou kas kan jy dan
begin om Van Hees se nuttige riglyne oor
figuuranalise, lengtes en proporsies en selfs
skoene en bykomstighede toe te pas. Dit is
belangrik om te besef dat hierdie metamorfose
van jou klerekas nie in 'n dag, week of selfs
maand hoef te gebeur nie - volgens Van Hees is
dit 'n stelselmatige proses. Soms staan 'n mens
in 'n winkel en is dol oor 'n bloes, maar jy het
niks in jou kas waarby jy dit kan aantrek nie.
Op die ou end hang daardie splinternuwe bloes in
jou kas en word dit net een of twee keer 'n jaar
aangetrek.
Nog 'n sensitiewe sakie is wanneer dit vakansie
is en almal se bagasie nie in die kattebak inpas
nie - omdat joune amper driekwart van die plek
in beslag neem. Herinneringe van my met my
yslike groot groen tas flits deur my gedagtes.
Enige persoon wat my tas optel om in of uit te
pak, steun en kla gewoonlik só hard dat almal
kan hoor. Ook hiervoor het ek handige riglyne by
Van Hees se praatjie gekry. Sy het gedemonstreer
dat 'n mens met 15 kledingstukke vir 45 dae op
reis kan gaan en elke dag anders kan lyk –
natuurlik moet die 15 stukke goed gekies word.
Dit kan dan, saam met twee of drie paar skoene,
in 'n tassie die helfte so groot soos my groen
tas pas.
My klerekas help nou dat ek kommervry kan wees;
my aandag kan fokus op belangriker dinge, maar
ook gelukkig voel met myself – van binne en
buite.
|