April 2009
Jaargang 1 Uitgawe 9

 

   Hou 'n Herfsfees!

jouleefstyl
hoofinhoud
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel


deur
Wilna Myburgh





 

Maak hierdie viergangfees vir vriende en familie om die lewe te vier!




Herfs is pragtig! Enigiemand wat te vertel het dat dit vaal en dor is, moet net rondkyk. Dis of al die kleure vir 'n ruk verskerp voor hulle aan die winter oorgee. Dis ook die lekkerste tyd om 'n lang tafel onder die bome te dek en 'n uitgerekte fees te geniet. Met net 'n ligte briesie wat af en toe 'n herfsblaar op die tafel laat aftuimel.

Al hierdie resepte is grootmaat – dit beteken dat elkeen heeltemal genoeg vir 'n feesmaal vir 15 persone maak. Terselfdertyd is dit geen probleem om die resepte kleiner te maak nie. Halveer die resepte of vries as daar iets oorbly.

 

Moenie dat die idee om vir so baie mense kos te maak jou totaal afsit nie. Ek sal nou nie die woord "maklik" hier inbring nie, maar al die geregte is so gemaak dat jy ten minste tussen-in met jou gaste kan kuier. En span sommer die gaste ook in om goed aan te dra en jou te help – dis alles deel van die feestelikheid! Die versierings is ook van so aard dat die gaste aan hul servetringe kan kou terwyl hulle wag! Sien ons idees vir eetbare tafelversierings hier.
Dis net die skottelgoed wat regtig 'n probleem word! Dis nou om genoeg daarvan in die hande te kry – leen maar by vriende en familie of 'n uithuurdiens – en om jou kombuis na die tyd van ondergang te red.

Die geheim van kosmaak vir baie mense, is beplanning. Sommige dele van die geregte kan jy voor die tyd voorberei en net op die laaste minuut verhit of aanmekaarslaan. Maak ook seker dat jy al die bestanddele het en weet wat jy wanneer moet doen – so lees jou resepte! Sien ook die lysie onderaan die resepte wat vir jou sê wat jy vroeër kan klaarmaak.

Hier is jou feestelike spyskaart:
Radys- en olyfslaai met gebraaide fetakaas
Appel-, prei- en aartappelsop
Osstert-tagine met oondgeroosterde patat, botterskorsie en aartappel en suurlemoenkoeskoes
Baklavafilobakkies met witwyngeposjeerde pere bedien met suurlemoen-kaneelroomys




[terug na bo]

Dis moeilik om ordentlike hoeveelhede vir hierdie resep te gee – jy moet maar self beoordeel of jy genoeg het. Die fetakaas ook – ek maak vir elke persoon 3 wiggies. Dit beteken dat 2 mense saam aan een wiel kaas eet, aangesien mens dit in 6 wiggies kan sny.

Vir die slaai:
2 pakke gemengde slaaiblare
vars roket
vars kruisement, vars basiliekruid
6 radyse, in dun skyfies gesny
swart olywe

Skeur vars kruisement- en basiliekruidblare op en meng dit met die slaaiblare en vars roketblare. Voeg ook die radys en 2 – 3 swart olywe per persoon by.

Vir die slaaisous:
50 ml suurlemoensap
5 ml mosterd
50 ml olyfolie
10 ml heuning

Meng al die bestanddele saam en proe-proe maar so of jy nog van dit of dat moet byvoeg.

Vir die gebraaide fetakaas:
8 wiele fetakaas
meel
eier
broodkrummels
swart sesamesaad (of gewoon as jy nie swart in die hande kan kry nie)
olie, om te braai

Sny elke fetakaas-wiel in die helfte en dan elke helfte in drie wiggies.

Nou is dit tyd om te maak of jy op 'n vervoerband werk – kry 3 vlak bakkies uit. Gooi in die een meel, klits 'n eier in die ander een, en gooi die broodkrummels in die derde bakkie. Meng sesamesaad by die broodkrummels – dis daar vir die visuele effek en die ekstra crunch! Plaas nou jou bakkies in 'n ry met 'n skoon bord aan die einde.

Kies dan 'n hand vir droë bestanddele en een vir die eier. Vat dan 'n fetawiggie in die droë hand, bedek dit alkante met meel en plaas dit in die eier. Met jou nat hand bedek jy nou die hele wiggie met eier en plaas dit in die broodkrummelbakkie. Vat nou weer jou droë hand en maak seker dat elke kant deeglik met broodkrummels bedek is. Plaas die bedekte wiggie op 'n bord.
Hou so aan tot al die wiggies klaar is. Dan kan jy hulle in die yskas hou tot jy hulle moet braai.

Dit klink nou dalk na vreeslike aanwysings – maar dit kan andersins in 'n morsige situasie ontaard! As jy eers eier in die meel en broodkrummels in die eier het weet jy nie meer wie jy is nie.

Net voor opdiening

Meng die slaaisous met die slaai – sodat al die blare bedek is. Deel die slaai tussen die borde en hou eenkant.

Verhit olie in 'n groot braaipan. Nie te vlak nie – die wiggies moet so amper halfpad in die olie staan. Braai net vinnig – as die onderkant bruin blyk te wees draai om en verbruin die anderkant. Dit neem so 2 minute. Haal uit en plaas op handdoekpapier om die ekstra olie te absorbeer.
Balanseer nou 3 wiggies op elke slaai.

Raap van die gaste nader om met die aandra van borde te help!



[terug na bo]

Die klassieke prei- en aartappelsop is altyd 'n treffer. Maar so met die appel en wyn word dit 'n baie ligter sop om die aptyte behoorlik aan te wakker!

10 ml botter / margarien en 10 ml olie
50 g spek (opsioneel)
1 ui, rofweg opgekap
300 g preie (leeks)
500 g aartappel, geskil en in blokkies gesny
600 g appel (ongeveer 6), geskil en in blokkies gesny
400 ml witwyn
1 l water

Verhit die margarien en olie in 'n groot kastrol en braai die spek tot bros. Haal uit en hou eenkant.

Braai die uie en preie in dieselfde kastrol totdat dit sag en deurskynend raak – moenie dit brand nie.
Voeg dan die aartappel en appel by en roer tot alles versprei is.

Voeg die wyn en water by en ook die spek. Bring tot kookpunt en kook totdat die aartappels heeltemal sag is. So halfuur, afhangend van die aartappelsoort.

Gooi nou die sop in 'n voedselverwerker of gebruik 'n handvoedselverwerker om die sop fyn te maak. Ek hou daarvan om die sop dan deur 'n sif ook te druk om seker te maak dat dit glad is.

Jy kan dit voor die tyd tot op hierdie stap klaarmaak en dan dit teruggooi in die kastrol en verhit wanneer jy gereed is om te eet. Dikwels benodig die sop nog 'n halfkoppie water om dit die regte dikte te maak. Voeg meer by om die sop dunner te maak, indien jy dit so verlang.

Om die sop te garneer: As jy nou oulik wil wees en die sop wil garneer, doen die volgende: sny 'n appel in papierdun skyfies en diepbraai dit totdat dit net verkleur. Of koop 'n pakkie appeltjips en gebruik dit.

Net voor opdiening
Verhit die sop – bring dit net tot kookpunt en dan is dit reg. Skep uit en garneer met die appel.



[terug na bo]

Tagines is eie aan Marokko en verwys na die pot waarin die gereg gaargemaak word – gewoonlik 'n kleipot met 'n kegelvormige deksel. Dit maak dat die stoom kan sirkuleer terwyl die kos gaar word en die inhoud dan lekker sappig is. Dit verwys egter ook na die gereg self – gewoonlik met sekere speserye, soos komyn en koljander, en gewoonlik ook met heuning wat bygevoeg word. As die jagseisoen aankom kan jy gerus van wildskenkels gebruik maak. Skaapskenkels of volstruisnek sal ook goed saam die speserye werk. Gedroogde vrugte is ook 'n gunsteling, en jy kan gerus kombinasies soos skaapskenkels en gedroogde appelkoos, hoender en gedroogde pere en volstruis of wild met gedroogde vye probeer. Dadels werk sommer by alles. My mond water skoon om dit net te skryf!
Jy hoef egter nie te bekommer as jy nie 'n tagine het nie – jou kos gaan net so lekker smaak! In hierdie geval het ek dit in 'n swaarboompot gemaak en later in die tagines uitgeskep.

Volgens die vriendelike slaghuis om die hoek benodig mens 300 g vleis, met bene, per persoon of 200 g, vleis sonder bene, per persoon. En jy kan van die osstert met kookvleis (chuck) vervang om dit goedkoper te maak en as jy dit lank kook smaak dit heerlik!

4.5 kg osstert
olie
3 uie, in skyfies gesny
60 ml speserymengsel*
750 ml rooiwyn
500 ml water
½ ml saffraan
50 ml heuning
250 – 500 g oestersampioene (opsioneel)

Begin deur 'n yslike kastrol of swaarboompot op te spoor. Braai dan die vleis in 'n bietjie verhitte olie totdat dit aan al die kante bruin is. Aangesien dit so baie vleis is, moet jy dit maar in paaiemente braai. Hou eenkant.

Braai nou in dieselfde pot die uie. Voeg die speserymengsel by en braai vir 'n minuut. Voeg dan die rooiwyn by. As jy nou 'n klein ou slukkie vat gaan niemand weet nie!
Bring tot kookpunt en sit dan die vleis terug in die pot.
Gooi die water by – jy kan eers minder byvoeg – dit hang af van hoe groot jou pot is. Die vleis hoef nie heeltemal bedek te wees nie, maar jy het beslis baie van die sous nodig.
Gooi ook die saffraan nou by.

Nou vir die lang wag – laat die vleis so lekker prut. Enigiets vanaf twee ure sal die vleis al sag sien. Begin sommer vroeg-vroeg al hiermee, dan staan dit so lekker en prut totdat jy eet. Na vyf ure kan ek jou verseker dat al die vleis sag is en al so van die bene begin afval!

Net voor opdiening:
Kyk, die oestersampioene maak hierdie gereg iets interessant en is heerlik, maar dis nie noodsaaklik nie.
Sny die groter sampioene in die helfte. Braai dan die sampioene in 10 ml olie en 10 ml botter / margarien totdat dit bruin word en begin gaar word – net so vyf minute teen 'n hoë hitte.

Skep die vleis in jou opdienbakke of tagine uit. Los maar die kleiner stukkies wat van die been afgeval het. Bring nou weer die sous tot kookpunt en voeg die heuning by. Voeg ook die gebraaide oestersampioene by en laat dit kook totdat die sous dikker word.
Skep die sous oor die vleis – sit die deksel op – en bedien saam met die oondgeroosterde patat, botterskorsie en aartappel en suurlemoenkoeskoes.

* Vir die speserymengsel:
Die speserymengsel word 'n "baharat" genoem. Wat eintlik maar net Arabies vir speserymengsel is, maar dit klink baie grand! Die mengsel het trekke van die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Elkeen het gewoonlik 'n ander samestelling hiervan, hierdie is maar net hoe ek daarvan hou. Die hoeveelhede maak genoeg sodat jy nog sal oorhê om later te gebruik - dis 'n heerlike mengsel vir die kas.

45 ml koljandersaad
45 ml komynsaad
45 ml swartpeperkorrels
30 ml vinkelsaad
15 ml paprika
7.5 ml fyn gemmer
2.5 ml fyn kaneel
2.5 ml borrie
1 ml fyn neutmuskaat

Maak die koljander, komyn, peperkorrels en vinkel in 'n messel en vysel, 'n voedselverwerker of 'n koffiemaler fyn. Voeg al die ander speserye by en meng goed. Hou in 'n lugdigte houer.

Oondgeroosterde patat, botterskorsie en aartappel

Hierdie kombinasie is nou 'n gunsteling van my. Die kleure is pragtig! Ook hier het jy nie werklik hoeveelhede nodig nie. Gebruik gelyke hoeveelhede botterskorsie, patat en aartappel. Aangesien dit die enigste groente is, is 80 – 100 g van elke soort per persoon meer as voldoende. Ek het dus 1.5 kg van elke groente gebruik en daar was oor gewees – dis heerlik warm gemaak die volgende dag – en een rooi ui, vir die kleur.

1.5 kg botterskorsie
1.5 kg patat
1.5 kg aartappel
1 rooi ui, sny in chunks van 1 cm.
vars roosmaryn
100 ml olie, plus
sout en swartpeper

Skil die botterskorsie, patat en aartappel en sny in blokkies van ongeveer 1.5 x 1.5 cm. Om die gaarmaakproses aan te help, kook ek elke soort op sy eie vir 8 minute. Dit wil dan net so begin sag word en rooster vinniger.
Jy kan dit al vroeg kook, afkoel en eenkant hou.

Gooi olie en groente in 'n groot oondpan. Gebruik 'n paar takke roosmaryn en stroop die blare af. Strooi die roosmaryn en sout en peper oor die groente.

Plaas in die oond by 180 °C. Dit neem tussen 'n uur en 'n uur en 'n half om lekker te bak. Voeg nog olie by tussen in en skep dit so elke twintig minute om sodat die olie en groente versprei. Dit moet genoeg olie hê om so gerooster te lyk!

Suurlemoenkoeskoes

Eintlik kan jy rys ook hierby bedien, maar 'n klassieke bygereg vir tagines is koeskoes. Volg die aanwysings wat op die pakkie verskyn. Meng die koeskoes met 'n skeut olyfolie voordat jy dit by die water voeg, dit help om die korrels van mekaar af te hou.
Om dit 'n bietjie op te kikker: kap suurlemoenverbenablare fyn en meng dit deur die koeskoes. Voeg ook 'n skeut of twee suurlemoensap by en 'n klontjie botter. 



[terug na bo]

Ek ken maar min mense wat nie gek is oor baklava nie. Hierdie is egter glad nie tradisionele baklava nie, maar dit het al die bestanddele daarvan in – en nog wat! Dis daardie "wat", wat die verskil maak! Bakkies van filodeeg word met geposjeerde pere en 'n heuning-neutmengsel gevul, voordat dit gebak word. Saam met die suurlemoen-kaneelroomys wat die smake komplimenteer – wat wil jy meer hê?

Vir die filobakkies:
1 rol filo, ontvries
50 g botter / margarien, gesmelt
muffinpan

Jy het eintlik maar net vier velle filo nodig, om 16 bakkies te maak.
"Vier velle filo" klink nou baie naby aan die tongknoper "sewe sakke sout"! So moenie dit vinnig sê nie!

Net twee belangrike kennisgewings rakende filo:
* Jy moet ten minste die vorige dag al besluit as jy dit wil gebruik – dis die beste as dit stadig in die yskas ontvries, of bietjie vinniger bo-op die kas, as dit nie te warm is nie. Jy kan dit beslis nie in die mikrogolfoond sit nie. En as dit nie heeltemal ontvries is nie, klou die velle aanmekaar vas.
* Onthou dat jy, terwyl jy daarmee werk, die res van die filo ordentlik moet toehou en onder 'n klam vadoek sit. Die klam doek word ook gebruik om die reghoekies onder te hou, terwyl jy die res maak. Filo droog uit as dit oop staan en word onbruikbaar.

Vat een vel filo, gebruik 'n kwassie en smeer dit oraloor met die gesmelte margarien. Plak nou 'n tweede vel bo-op.
Plaas die dubbellaag filo met die lang kant voor jou – vou dit in die helfte van regs na links – druk dit plat, vou weer oop en sny met 'n skerp mes op die lyn. Sit die twee dele bo-op mekaar.
Vou weer van regs na links in die helfte, druk dit plat, maak dit oop en sny op die lyn.
Jy het nou vier lang stroke. Plaas hulle op mekaar en vou van bo na onder in die helfte, vou oop en sny. Pak nou weer al die op mekaar, vou van bo na onder in die helfte en sny weer.

Nou (behoort) jy 16 klein reghoekies te hê. Hou die reghoekies in gereedheid onder 'n klam doek.
Maak nou nog 16 klein reghoekies en bêre dit ook onder die doek.

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Kry muffinpanne uit – jy hoef hulle nie te smeer nie.

Vat nou twee reghoekies en smeer beide met van die gesmelte margarien. Plaas die een skuins oor die ander om 8 punte te vorm. Druk dit nou in een van die holtes van die muffinpan – gesmeerde kant na bo. Druk dit in sodat dit oral aan die kante raak om 'n mooi reguit bodem te vorm. Herhaal totdat jy 16 bakkies het.

Bak vir 5 - 8 minute – tot mooi bruin en crisp. Verwyder en sit op 'n afkoelrakkie om koud te word. Bêre dit dan in 'n lugdigte houer tot benodig.

Vir die pere in witwyn:
6 pere
750 ml droë witwyn (indien jy soet witwyn gebruik, verminder die hoeveelheid suiker)
3 kaneelstokkies, van ongeveer 4 cm elk
12 kardemompeule
150 ml suiker
15 ml suurlemoensap

Skil die pere en hou in 'n bak met water, waarby die suurlemoensap gevoeg is.

Roer en verhit die wyn in 'n kastrol, waarin die ses pere kan regopstaan, saam met die kaneelstokkies, kardemompeule en suiker totdat die suiker gesmelt is.

Bring tot kookpunt en sit die pere in. Afhangend van hoe groot jou kastrol is, gaan daar moontlik stukke van die peer uitsteek. Draai dan net die pere elke 5 – 10 minute om. Kook vir ongeveer 20 minute totdat die pere sag is, maar nie uitmekaar val nie.
Verwyder die pere en laat eenkant om af te koel. Dié gaan jy later in blokkies sny. Jy kan die alles 'n dag voor benodig doen.

Hou die sous in die kastrol en laat dit aanhou kook totdat dit dikker en stroperig word. Dit vat lank – so wees rustig.

Vir die neutevulsel:
50 g strooisuiker
30 ml suurlemoensap
60 ml heuning
100 g pekanneute
100 g kasjoeneute
5 ml kaneel

Meng die strooisuiker, suurlemoensap en heuning en smelt al roerende saam in 'n klein kastrolletjie oor lae hitte. Verwyder van dit hitte sodra die suiker gesmelt is.

Kap die neute in 'n voedselverwerker – redelik grof – en voeg die kaneel by. Voeg dan ook die suikerstropie by en verwerk tot alles gemeng is.

Maak ook die neute voor die tyd en hou dit eenkant tot benodig.

Net voor opdiening

Kap die pere in klein blokkies.

Pak die filobakkies op 'n bakplaat uit. Skep in elke bakkie 'n lagie van die gekapte pere.

Skep bo-op dit van die neutemengsel. So teelepel en 'n half per bakkie.

Plaas in 'n voorverhitte oond by 180 °C vir 5 – 8 minute.

Skep 'n lepel van die stroperige sous van die pere in elke filobakkie bo-oor die neute sodra dit uit die oond kom.

Plaas nou 'n filobakkie in elke bord en plaas 'n skeppie suurlemoen-kaneelroomys** by.

**Suurlemoen-kaneelroomys

Die suurlemoen is wild – en suur, terwyl die kaneel net so ligte smaak en 'n mooi spikkel gee. Dit komplimenteer die nagereg perfek. Maar – as jy nie gek is oor suurlemoen nie, kan jy van die suurlemoensap met melk vervang of dit heeltemal vervang.

500 ml room
200 g suiker
375 ml melk
125 ml suurlemoensap (sap van ongeveer 2 suurlemoene)
5 ml kaneel

Klits die room en suiker saam totdat dit dik word en die suiker opgelos is. Voeg die melk, suurlemoensap en kaneel by en klits goed sodat alles deurgemeng is.

Gooi dit in die roomysmaker en volg die aanwysings.
Of, indien jy nie 'n roomysmaker het nie, gooi die mengsel in 'n groot bak en plaas in die vrieskas. Roer elke halfuur om die yskristalle te versprei.


Jy hoef jou nou nie werklik aan die afdeling te steur nie, maar hier is voorstelle vir drinkgoed wat mooi by die ete inpas.
'n Grenadella- en gemmerwynpons is net die ding om die gaste mee te verwelkom wanneer hulle arriveer.

Vir die grenadella-gemmer-wynpons:
1 bottel (750 ml) witwyn
500 ml grenadellasap
500 ml Ginger ale
½ pynappel, in wiggies gesny
glanskersies
tandestokkies

Maak vir elke glas een stokkie met 'n pynappelwiggie en 'n kersie op.

Meng die wyn en sap in 'n groot beker. Gooi die res van die pynappelstukkies by. Hou in die yskas totdat dit bedien gaan word.

Gooi net voor bediening die ginger ale by.

Onthou ook 'n nie-alkoholiese opsie. Die Oerwoudverkoeler is 'n treffer. Hou ook koue vrugtesap gereed.

Saam met beide die slaai en die sop, werk 'n witwyn in die vorm van 'n Colombar / Chardonnay-versnit uitstekend. Of enige skerp Sauvignon Blanc of ongehoute Chardonnay.
Saam met die tagine stel ek beslis 'n vrugtige Shiraz voor. Of iets met lekker lyf – soos 'n goed-verouderde Cabernet of 'n Cabernet/Merlot-versnit. Lees maar die wynetikette ook – enigiets wat "spicy" en "beesstert" of "vleis" sê sal werk.

Om nou 'n ordentlike feestafel te maak, moet jy water ook op die tafel sit. En om dit nog ordentliker te maak, maak hierdie gegeurde water.


[terug na bo]

Vir die water:
water
grenadellas
lemoen
kruisementblare

Vul groot waterbekers driekwartvol.

Sny 'n grenadella in die helfte en gooi dit by die water. Sny die lemoen in agtstes en voeg dit ook, saam met die kruisementblare, by die water.

Die water word amper dof, maar saam die mooi kleure van die vars vrugte en die heerlike smaak, is die net die regte ding vir jou tafel.

Voorafbeplanning

Hier is basiese riglyne van wat jy voor die tyd kan doen, sodat jy nie soos 'n malkophoender hoef rond te hardloop as jou gaste gearriveer het nie! Ontspan net, en geniet die fees!

'n Dag voor die tyd:

* Maak die sop, laat dit afkoel en plaas dit in die yskas.
* Meng die speserye vir die osstert-tagine.
* Maak die filobakkies, laat afkoel en hou in 'n lugdigte houer.
* Posjeer die pere, laat afkoel en hou in die yskas.
* Maak die neutevulsel.
* Maak die suurlemoen-kaneelroomys.

Ongeveer vyf ure (of meer) voor die tyd:

* Kry die fetakaas gereed om te braai – sit dit deur die meel-, eier- broodkrummelproses en hou in die yskas.
* Maak die slaaisous, maar moenie dit by die slaaiblare voeg nie.
* Begin die osstert-tagine maak.
* Kook die groente vir die geroosterde patat, botterskorsie en aartappel, dreineer, laat afkoel en hou gereed in die oondpan.
* Kry die grenadella-gemmer-wynpons gereed.
* Maak die pynappel-kersiestokkies en hou in die yskas.
* Maak die gegeurde water en hou in die yskas.

Ongeveer vyf ure na die fees begin het:

* Maak koffie.
* Kry kussings, slaapsakke en komberse.
* Lê onder die boom – die skottelgoed sal beslis vir jou wag! Dis darem een ding waarop mens kan staatmaak in hierdie lewe!

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] joutuisblad ] jougeskenke ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier!

Google
Custom Search

joutuisblad
jouhoofstories
joumenswees
joupolitiek
jouapplous
jouleefstyl
joukontrei
jou
jourubrieke
joufiksie
jougeskenke
 
gratis nuusbrief
vertel jou vriende
medewerkers
adverteer
wie is ons
 
ander uitgawes
jouwêreld Facebook-groep