|
Weens die huidige finansiële krisis en knypende
geldtekort waarin almal sit, is daardie lang
beplande Paasvakansie dalk noodgedwonge van die
baan. Maar 'n tuis-vakansie kan met die regte
beplanning heel opwindend wees, en boonop
gesinsbande verstewig, sê die kenners.
Bespreek jou finansiële situasie met jou gesin,
en laat elkeen 'n lys opstel van aktiwiteite wat
julle saam kan doen.
Om te begin, bepaal eers hoeveel geld jy op jul
tuisvakansie kan spandeer.
Jy moet gemaklik met dié bedrag wees, en dit mag
geensins vanuit ander belangriker begrotings (soos
rekenings of jou verband), geneem word nie.
Wees uniek en kreatief met die opstel van jul
lysies – hier is 'n paar voorbeelde:
* Elke dorp en stad het nabygeleë
natuurreservate, museums, parke en ander
besienswaardighede waar mens net nooit by uitkom
nie – nou is julle kans! Jou plaaslike
toerismekantoor sal jou verras met inligting oor
alles wat in jou omgewing te sien is. Maak 'n
lys van dié plekke, en laat die gesin op "stembriefies"
hul keuse maak. Die drie of vier gewildste
plekke kan dan besoek word.
* Verbeel julle gaan 'n inry-teater besoek – in
jul eie TV-kamer!
Kies twee DVD's wat julle as gesin wil kyk, en
pak 'n piekniekmandjie as 'n groepsaktiwiteit.
Nadat die mandjie gepak is, vertrek almal saam
TV-kamer toe.
* Hou speletjies-aande. Behalwe dat dit die jong
kind help om organisatoriese- en
syfervaardighede te ontwikkel, doen dit ook
wondere vir die gesinsbande. Kaartspeletjies,
Monopoly, skaak, dambord en legkaartbou bly
gunstelinge.
* Doen window-shopping in die aand. Julle
sou dit in elk geval by jul vakansiebestemming
gedoen het, so hoekom dan nie nou by jou
plaaslike winkelsentrum of
vermaaklikheidskompleks nie?
* Gee vir elke lid van die gesin 'n beurt om
aandete voor te berei. Dit is die ideale
geleentheid vir ma om vir sus meer
kombuisvaardighede op 'n prettige manier aan te
leer, en vir pa om vir boetman te wys hoe om
daardie tjoppie nét reg te braai! Aan die einde
van die vakansie kan daar gestem word oor wie se
kos die lekkerste is.
Duurder daguitstappies
Behalwe vir die bogenoemde aktiwiteite wat jou
óf niks, óf baie min, uit die sak gaan jaag, kan
jy ook 'n duurder daguitstappie in jul
vakansieprogram inwerk.
Laat elkeen 'n kortlys opstel van dié dinge in
jul omgewing wat hul graag sal wil doen, tesame
met 'n kosteberaming van die uitstappie. Onthou
om uitgawes soos petrol, parkering en
versnaperings in te sluit.
Dié oefening sal die kind ook help om sy
organisatoriese- en syfervaardighede te verskerp.
Nadat die gesin oor die verskillende voorstelle
gestem en gedebatteer het, word op een of twee
uitstappies besluit.
Hier is 'n paar voorstelle:
Kaapstad:
* Neem 'n lang wandeling in Langstraat. Dié
gebied is boheems en kosmopolitaans, en kan
heerlike vermaak verskaf. Gaan loer by al die
winkels in, en koop iets spesiaals wat binne jou
dag se begroting val.
* Raak wild, gaan Ratanga! Toegang vir 'n hele
dag se vermaak by Ratanga Junction beloop R120
en R60. Groepe van meer as 15 kry 10% afslag.
Bel 0861- 200-300.
* Vaar die blou waters in teen R110 per persoon.
(021-425-6354)
* Geniet die natuur op die rug van 'n perd: R300
(082-774-1191)
Pretoria en
Johannesburg
* Dié omgewing bring die wildtuin binne jou
bereik – oorweeg die volgende plekke:
Honeydew Leeupark – R90 en R60 (011-691-9905)
Krugersdorp Wildtuin – R50 (082-907-4363)
Heia Safari – Begeleide toere: R150
(011-919-5000)
Rietvlei Natuurreservaat – R35 en R18
(012-345-2274)
Croc City Krokodilplaas – R45 en R25
(083-321-1016)
* Goldreef City – R110 en R60 (011-248-6800)
* Menlynpark Inryfliek – R55 per motor
(012-348-8766)
Durban
* Visvang – (031-311-5972 / 083-293-3611 /
031-561-1101)
* Bootcamp – R135 per dag (031-303-4386 /
082-782-6432)
* Wees stadswys – neem die toerbus vanaf die
Ushaka Village, en besoek al die toerismeplekke
langs die strandfront.
Ontdek jóú omgewing só
Met die moderne tegnologie tot ons beskikking,
het niemand meer 'n verskoning as hy nie weet
wat in sy eie omgewing aangaan nie.
Span dus die internet in om jou te help met die
beplanning van jul pret-tuisvakansie: tik die
frase "things to do in . . . ", gevolg deur die
naam van jou dorp of stad, in jou soekenjin in
en 'n nuwe wêreld, reg daar op jou voorstoep,
sal vir jou oopgaan!
|