|
|
|

April
2009
Jaargang 1 Uitgawe
9 |
 |
 |
 |
 |
 |
|
|
|
|

deur
Wilna Myburgh
|
|
Europeërs was ook eers skugter
vir eiervrug – maar hulle het
reeds in die 16e eeu agtergekom
dat dit nie giftig is soos hulle
eers vermoed het nie. So, jy kan
dit maar eet! |
kitsgids:
Eiervrug- en tamatiegebak
Moussaka
Ratatouille
Quesadilla met eiervrug, tamatie
en mozzarella
Vinnige eiervrugblatjang
|
|
Die een probleem met eiervrug is dat mense nie
daarvan hou nie. Hoekom nie? Ek dink die
eenvoudige antwoord hierop is omdat hulle dit
nie reg gaar maak nie, of in daardie geval dit
bloot net nie gaar maak nie. As eiervrug halfpad
rou is, is dit geneig om 'n rubberagtige
tekstuur te hê.
Ek was eers skrikkerig daarvoor, maar nou kan ek
nie genoeg eiervrug eet nie. Daar is nie genoeg
eiervrug in die wêreld nie!
Europeërs was ook eers skugter vir eiervrug –
maar hulle het reeds in die 16e eeu agtergekom
dat dit nie giftig is soos hulle eers vermoed
het nie. So, jy kan dit maar eet!
Die ander probleem met eiervrug, is dat dit olie
opslurp en dat dit derhalwe dalk nie die
gesondste groente is om te eet nie. Ek het
probeer om dit, sonder olie, in die oond te bak
en eendag gaan ek nog as die uitvinder van
eiervrug-leerskoene en algemene rolmodel van
vegetariërs bekend staan!
Jy kan dit egter met min olie maak – en net die
bo- en onderkant van jou eiervrugskywe met olie
smeer – of net die braaipan bedek in olie. Dit
vat ook baie minder olie as jy dit in die oond
bak, as wat jy dit in 'n pan braai. So dis geen
krisis nie!
|
|



 |
|
|
Daar is natuurlik een olie-lose uitweg – bak die
heel eiervrug in die oond of in die kole vir
ongeveer 'n uur totdat dit sag is en maak 'n
doopsous daarmee, soos baba ghanoush of
melintzanosalata. Al wat jy hoef te doen
is om die sagte “vleis” binne-in uit te haal,
fyn te druk en dit dan met sout, peper,
suurlemoensap, joghurt en pietersielie te geur.
Ek begin alle eiervrug-resepte dieselfde. Sny
die eiervrug in skywe of in blokkies. Pak dan
lae van eiervrug in 'n vergiettes en gooi elke
laag goed met sout. Dan laat staan jy dit
eenkant – onthou 'n pierinkie om die water op te
vang – vir ten minste 15 minute. Dit kan langer
ook staan – geen probleem nie. En moenie skrik
vir die eers laat staan nie – dit gaan vinnig
verby. Begin net met die eiervrug en kry dan al
jou ander bestanddele reg. Voor jy die eiervrug
gaarmaak, was die sout af en druk dit goed in 'n
vadoek of met waspapier droog.
Daar is baie storietjies rondom die gebruik van
sout op eiervrug. Sover ek kan agterkom is dit
aan die begin gebruik om die bitter smaak weg te
vat. As jy egter 'n ou eiervrug het, gaan sy
smaak bitter bly maak nie saak wát jy met hom
doen nie. 'n Eiervrug moet ferm en sonder merke
wees, verkieslik 'n donker kleur – dan sal daar
geen bitterheid wees nie. Waarvoor die sout
egter wel help is om die water uit te dryf en
dan slurp dit nie soveel olie op nie. Sommige
“bygelowe” is egter daar vir 'n rede – so ek
sout maar! As die eiervrug baie vars is – soos
as ek hom pas van die plant in die agterplaas
afgepluk het – sout ek dit nie.
Die eens skugter Europeërs het 'n magdom
eiervrugresepte nagelaat – waarvan
ratatouille, melanzane parmigiana en
moussaka seker die bekendste is. Hier is
resepte vir elkeen van die gunstelinge asook
twee nuwes.
Net een laaste gedagte, voor ons begin kook:
Eiervrug is een van daardie goed wat so baie
verskillende name het, dat jy dit soms nêrens in
'n boek kan vind nie. In Noord-Amerika word dit
“eggplant” genoem, heeltemal eenvoudig. Dis
egter “aubergine” in meeste ander Engelse lande.
Dan word dit ook “brinjal” genoem – die woord
het 'n Indiese oorsprong, en word ook in
Afrikaans erken. En as jy nou wonder hoekom net
ons Afrikaanse naam daarvoor sin maak – dit lyk
soos 'n eier en is eintlik 'n vrug – moenie te
beïndruk wees nie – in Australië staan dit
dikwels as “eggfruit” bekend. |
|

Hierdie gereg het snye eiervrug wat bruingebraai
word en dan in lae gepak word saam met 'n ryk
tamatiesous voordat dit met kaas bedek en in die
oond gebak word. Dit is heerlik net so met 'n
lekker brood en slaai of saam met braaivleis.
Die is 'n tradisionele Italiaanse gereg, genaamd
melanzane parmigiana.
Om dit tradisioneel te maak moet jy wegdoen
met die mozzarella en parmesaankaas gebruik.
800 g eiervrug (1 groot, 2 medium)
sout
olie
50 g (125 ml) mozzarella
1 ui, fyngekap
10 ml olyfolie
2 blikke heel tamaties, fyngemaak
5 ml gedroogde of 15 ml vars oreganum
25 ml tamatiepuree
10 ml suiker
sout en varsgemaalde swartpeper
Begin deur jou eiervrug reg te kry. Sny in skywe
van ongeveer 1 cm elk. Sout dit en hou eenkant.
Nou kan jy eers met die tamatiesous aangaan.
Braai die ui in 'n groot braaipan in 'n bietjie
olie tot sag en deurskynend.
Voeg die tamaties by, asook die res van die
bestanddele.
Bring tot kookpunt en laat vir minstens 15
minute vinnig kook.
Terwyl die tamatiesous kook kan jy aangaan met
die eiervrug. Was en droog die skywe af.
Bedek dan die bodem van 'n braaipan met olie –
olyf of sonneblom – en verhit. Braai nou die
eiervrugskywe tot hulle bruin, sag en amper
deurskynend word. Gooi nog olie by as dit te
droog word. Dit neem tot 8 minute, wat jy die
skywe deurentyd omdraai, om hulle regtig gaar en
lekker te kry.
Pak dan die skywe in 'n laag in 'n oondbak. Skep
'n laag tamatiesous oor. Herhaal tot alles op
gebruik is. Eindig met tamatiesous. Sprinkel die
kaas oor en bak in 'n oond voorverhit tot 180 ˚C
vir ongeveer 30 minute.
terug na bo |
|

Die moussaka bestaan uit 4 dele – eiervrug,
aartappels, die geurige maalvleis en die bolaag.
Jy kan al die dele voor die tyd gereed kry en
later aanmekaarslaan. Of dit aanmekaarslaan en
dan net later bak.
Vir die eiervrug:
750 g eiervrug (1 groot, 2 klein) – sny in skywe
van 1 cm
Nadat die skywe gesout en gealles is, braai dit
in olie tot goudbruin en redelik sag. Plaas op
dreineringspapier en hou eenkant.
Vir die aartappels:
400 g aartappels, skil en sny in skywe van 0.5
cm
Kook die aartappelskywe vir 10 minute. Dreineer.
Bedek die bodem van 'n braaipan in olie, jy kan
die eiervrug se braaipan gebruik, en braai dan
die aartappel totdat dit goudbruin is aan beide
kante. Plaas op dreineringspapier en hou
eenkant.
Vir die geurige maalvleis:
1 ui, fyngekap
15 ml olie
500 g maalvleis
1 blik heel tamaties, fyngemaak
5 ml gedroogde oreganum
knypie kaneel
1 lourierblaar
sout en varsgemaalde swartpeper
1 eierwit
50 ml broodkrummels
15 ml varsgekapte pietersielie
Braai die ui in die olie vir so 5 minute. Voeg
die maalvleis by en braai totdat dit gaar is.
Gooi nog olie by, indien nodig.
Voeg dan die tamaties, oreganum, kaneel en
lourierblaar by. Geur met sout en peper. Kook
vir 10 minute – totdat al die vloeistof
weggekook het. Haal die lourierblaar uit.
Verwyder van die hitte, en laat effens afkoel.
Gooi nou die eierwit, broodkrummels en
pietersielie by en roer goed deur.
Dis hierdie stap wat my maande lank ontwyk het –
dis die eierwit wat dit daai egte
Mediterreense-restaurant-smaak gee.
Vir die bolaag:
30 ml botter / margarien
50 ml meel
500 melk
1 eier en 1 eiergeel
Onthou julle nog hoe om
witsous te maak? Maak twee koppies.
Dis al wat mens hier doen. Smelt die botter /
margarien in 'n kastrol.
Voeg die meel by en meng goed. Gooi die melk by,
bring tot kookpunt en kook ongeveer 8 minute.
Verwyder van dit hitte en laat effens afkoel –
ag, net so vyf minuutjies. Gooi dan die heel
eier en die eiergeel by, meng goed.
Vir die aanmekaarslaan:
Kry 'n oondvaste bak. Pak 'n laag eiervrug onder
in. Bo-op dit, pak 'n laag aartappel. Gooi met
sout en peper. Skep nou die helfte van die
maalvleis bo-op. Pak nog 'n laag eiervrug.
Gewoonlik is die aartappel een laag en die
eiervrug twee – jy moet maar kyk hoe lyk jou
aartappel – as daar nog is, pak nou 'n laag en
sprinkel dit weer met sout en peper.
Skep die res van die maalvleis daarop. Gooi die
bolaag oor en bak in die oond by 180 ˚C vir 30
minute. Dit sal so goudbruin wees en as jy 'n
mes of 'n toetspen deursteek sal alles sag en
sappig voel. Anders, moet jy dit vir nog 10
minute in die oond sit.
terug na bo |
|

Ratatouille, die gereg, nie die rot óf die fliek
nie, is van Franse afkoms. Dis 'n tradisionele
groentebredie. Die oorspronklike resep wil hê
dat jy elke groentesoort op sy eie gaarmaak en
alles dan meng en saamkook met olyfolie totdat
dit 'n gladde, romerige eenheid vorm. Buiten die
groente en olyfolie het dit net sout, peper en
basiliekruid as geurmiddels. Dis heerlik saam
met gebraaide vleis, saam eier en in broodjies.
Ek gebruik 'n blik tamaties omdat dit aansienlik
makliker is – maar jy kan dit met 6 tamaties,
waarvan jy dit skille afgetrek het, vervang.
550 – 600 g eiervrug, in blokkies van 1 x 1 cm
gesny
300 g murgpampoentjies, in sirkels gesny
1 ui, in skyfies gesny
1 rooi soetrissie, in repies gesny
1 groen soetrissie, in repies gesny
1 blik Italiaanse heel tamaties, opgekap
30 ml olyfolie (extra virgin), meer
indien nodig
sout en varsgemaalde swartpeper
vars basiliekruid
Gooi beide die eiervrug en die murgpampoentjies
in hul eie vergiettesse. Strooi met sout en laat
staan. Dit kan van 15 minute tot 'n uur lank so
staan en wag vir jou. Spoel dan af en druk
droog.
Verhit die olie in 'n groot braaipan of kastrol.
Begin deur die eiervrug te braai vir 'n minuut
of twee. Voeg dan die murgpampoentjie by en
braai nog 'n minuut. Nou kan jy die ui en
soetrissie byroer.
Braai ongeveer 5 minute, terwyl jy roer, sodat
die pan regtig lekker warm word, dan kan jy die
tamaties en hul sous byvoeg. As die pan nie warm
genoeg is nie en jy gooi die tamaties by word
die hele storie te souserig.
Gooi sout en swartpeper by. Prut vir 30 minute.
Hou dit dop en gee dit nou en dan 'n roer. Dis
reg wanneer al die groente – veral die eiervrug
– sag is en dit nie waterig is nie.
As jy van die olyfolie-smaak hou, gooi ongeveer
15 ml by na 20 minute se prut – dit het 'n
ongelooflike uitwerking op die smaak van die
gereg.
terug na bo |
|

'n Quesadilla, soos ons dit algemeen in
restaurante vind, blyk toe al die tyd eintlik 'n
sincronizada te wees. Dit word so genoem omdat
die twee tortillas met kaas gesinkroniseer word!
'n Quesadilla word in die helfte gevou en word
meesal met mielietortillas gemaak. En dis waar
die deurmekaarspul begin – want elke
nasionaliteit het 'n ander manier en ander
bestanddele om dit te maak. So – ek hou by die
Suid-Afrikaanse quesadilla – twee tortillas, met
enige vulsel in en met kaas aan mekaar geplak.
Hoe jy dit ook al benoem – hier is dit – met
eiervrug, mozzarella en tamatie. En om meer
onrus te saai – jy kan dit heeltemal verander
deur dieselfde vulsel in 'n pita te sit! Of jy
kan selfs 'n geroosterde toebroodjie maak . . .
Vir 2 quesadillas, dus 4 tortillas, aldus 16
“pizzaskywe” benodig jy:
200 – 250 g eiervrug ('n kleinerige een)
olie
3 tamaties
100 g mozzarella
sout en varsgemaalde swartpeper
4 tortillas
Sny eiervrug in 0.5 cm-skywe. Sout, staan 15
minute, was, droog.
Rasper solank die kaas en sny die tamatie in
skywe.
Verhit die olie in 'n braaipan. Braai die
eiervrugskywe 'n paar op 'n slag totdat hulle
goudbruin is, maar ook baie sag en opaak. Sit op
handdoekpapier om die olie te absorbeer.
As jy te min olie gebruik, word die skywe wit en
droog – gooi nog by.
Pak dan eiervrug op twee van die tortillas, sit
tamatieskywe op, strooi met sout, peper en kaas.
Sit die ander tortillas bo-op en druk vas.
Smeer nou die bokante van die tortillas met 'n
kwassie olie.
Verhit weer die braaipan. Sit die tortilla
oliekant na onder op die braaipan. Smeer nou die
bokant olie. Wanneer dit goudbruin is – draai
om. Braai die ander kant ook tot dit goudbruin
is en die kaas gesmelt het. Ek druk dit altyd so
bietjie met die spatula plat – dit word vinniger
bruin en dan “sinkroniseer” al die bestanddele
beter! Sny in 8 skywe – soos 'n pizza. Proe
solank 'n skyfie terwyl jy die ander een braai.
terug na bo |
|

Die is regtig vinnig om te maak – dalk omdat
mens skelm is en klaargemaakte blatjang by die
eiervrug gooi . . . maar wie gaan weet? Dié
blatjang is heerlik saam met kaas op beskuitjies
of brood.
250 – 300 g eiervrug
15 – 25 ml olyfolie
5 ml vars, gerasperde gemmer
1 ml borrie
30 ml balsemieke asyn
45 ml pynappelblatjang
15 ml bruinsuiker
Die eiervrug moet in klein blokkies gesny word –
so 0.5 cm by 0.5 cm. Begin dus deur die eiervrug
in skywe van 5 mm te sny. Sny dan rofweg in
blokkies. Sout en laat staan. Na ten minste 15
minute kan jy dit was en droog.
Verhit 15 ml olie in 'n braaipan. Voeg die
gemmer en borrie by.
Braai vir so 30 sekondes.
As jy nie vars gemmer het nie, gebruik 1 – 2 ml
fyn gemmer.
Voeg die asyn, pynappelblatjang en bruinsuiker
by. Bring tot kookpunt en laat stadig prut vir
15 minute met 'n deksel op.
Dis reg as die eiervrug sag is, die asyn nie 'n
te skerp smaak oorhou nie en dit lekker lyk!
terug na bo |
|
|
e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy
uit
het
jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
|
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel
Boekmerk dié bladsy
|
|
|
|
Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!
[ jouapplous ] [ joufiksie ] [ jouhoofstories ] [ joutuisblad ] [ jougeskenke ] [ joukontrei ] [ jouleefstyl ] [ joumenswees ] [ joupolitiek ] [ jourubrieke ] [ jouse ] |
|
|
|
|
|
Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier! |
|
|
|