|
Gek en kleurvol
Vir hierdie ene moet jy deur jou huis stap en
alles soek wat kleurvol en gelukkig lyk! Die
idee met dié tafel is hoofsaaklik om 'n
verskoning te kry om ál die verskillende kleure
kerse en servette wat na ander partytjies
agterbly het, op te gebruik.
Tafelloper
Ons het kleurvolle sagte net in drie kleure, wat
by ons ander kleure inpas, gekoop. 'n Halwe
meter van elke kleur is genoeg. Op die tafel het
ons elke kleur om een van die blompotte gedraai
en weerskante laat afhang om staanplekke vir die
borde te maak.
Tafelversierings
Ons het drie glas blompotte gebruik – elkeen met
'n ander kleur water, met 'n kersie en klein
geel blommetjies. Gooi die water in die blompot
en kleur dit met koekkleursel om by jou
tafellopers te pas. As die kleur te donker is,
gooi bietjie-vir-bietjie van die water uit en
maak dan weer die blompot vol totdat jy die
regte kleur het. Hierdie is pragtig omdat mens
deur die blompotte die res van die tafel kan
sien en die kerslig daarin weerkaats.
Om nog weerkaatsings te skep het ons groen
glasstukke oor die tafel gestrooi. Glasstukke is
dikwels by teël- en mosaïekwinkels, en plekke
wat glas sny, beskikbaar.
Servette
Gebruik 'n servet wat bont en kleurvol is en wat
so naastenby by jou kerse se kleure inpas – of
jy kan verskillende effekleurige servette
gebruik. Mens het dikwels van vorige partytjies
een of twee servette oor – hierdie is die
perfekte manier om dit op te gebruik. Ons het
hier die servette in die wynglase gesit en dit
weer in die middel van die bord gesit sodat dit
deel van die tafelversierings vorm.
Lig
Ons het twee "versamelings" van kerse in
verskillende groottes en kleure gemaak. Daar is
ook kersies in die glas blompotte. Citronella
kerse se geel kleur werk nie net goed saam met
die kleurskema nie, dit hou ook die muskiete weg!
Met al die kerse is beligting dus geen probleem
nie! Niks keer jou egter om vrye teuels aan jou
verbeelding te gee nie – die tema is immers "gek
en kleurvol".
Eetware
Wit borde skep 'n neutrale agtergrond vir al die
ander kleure
en gee jou oë 'n kans om te rus. Tensy jy 'n
kleurvolle stel borde het en die gaste se
sintuie nog verder wil stimuleer! Groen wynglase
verhelder die tema verder en pas aan by die
groen glasstukke.
|