Lees ook:
jouwêreld se nuutste uitgawe

die oorspronklike artikel - met foto's

 

 

jouleefstyl

 

Klink 'n glasie op die nuwe jaar!

Bederf jou vriende en familie dié Oujaarsaand op die internasionale manier. Ons bied resepte vir die maak van vier eksotiese skemerkelkies, asook vir talle bypassende watertand eethappies, alles afkomstig van verskillende wêrelddele.

deur Wilna Myburgh
subredakteur@jouwereld.co.za
 

Ek is 'n sucker vir 'n temapartytjie. Dit maak die lewe van kos uitdink baie makliker wanneer jy alles rondom 'n tema beplan. So het ek dan besluit om vir die nuwe jaar die ganse wêreld as tema in te span - met eetgoedjies van verskillende lande en streke. Maar mens kan nie net die ganse wêreld as inspirasie inspan nie – mens het ook die ganse wêreld nodig om te kom saam eet en geniet. Dis toe dat my niggie, Christel, ingespring het en die wêreld van moontlike partytjieloosheid gered het. Goed dan, nie die héle wêreld nie, net almal wat op kort kennisgewing bereid was om die nuwe jaar reeds in November op Ventersdorp tegemoet te drink.

Die eetgoed is spesiaal so beplan dat die meeste van die bestanddele ready-made aangekoop kan word. Ek gee ook aan die einde van sommige resepte kortpadwenke wat jou sal help om sonder (te veel) moeite die ete gereed te kry.
Ons het elke land se eetgoed, saam met sy skemerkelkie, op 'n ander tafel geplaas. Die tafels is ook so na as moontlik volgens die tema gedek.

Die idee is om alles vooraf gereed kry, dit op die tafels te plaas, en die res van die aand te ontspan en saam te kuier. Jy kan die skemerkelkies ook vooraf in grootmaat maak – gooi net op die laaste minuut die ys by. Of skryf die resepte neer, sit die drank gereed en laat elke persoon hulself na hartelus help. As jy nie 'n skemerkelkie-persoon is nie, kan jy gerus 'n glasie wyn hierby geniet!

Die belangrikste is, om dit net te geniet! So – Happy new year, almal!

 

Afrika

Keniaanse dawa

Grondboontjiebotterhoenderkebabs

Broodjies met koljander of gekarameliseerde uie

Hummus

Dukkah met olyfolie

Partytjie spesery-springmielies

 

Skandinawië

Cosmopolitan

Dille-blinis met gerookte salm

Rog-crostini met Deense feta en beet- en bosbessieblatjang

 

Suid-Amerika

Piña colada

Tostadas met kaas en guacamole

Steurgarnale- en pynappelstokkies met soetrissiesous

 

Mediterreense streek

Oranje duiwel

Franse brood met salami, mozzarella, kersietamaties en pesto

Soutkoekies met bokmelkkaas en eiervrug- en tamatiesmoor

Mediterreense-gemarineerde olywe

 

Afrika, my kontinent

Dawas is beslis my gunsteling skemerkelkie! Die hoenderkebabs het ook 'n Keniaanse twist, terwyl dukkah en hummus van Noord-Afrika afkomstig is. Alhoewel die tuisgebakte broodjies heerlik is, kan jy met gemak 'n lekker, vars brood koop en dit gebruik. Terwyl die ander streke se kos net hand-eetgoedjies is, is Afrika s'n selfhelp-eetgoed. Die brood is 'n lekker vastigheid en vul die grootste honger maag. As daar egter nog 'n gaatjie oorbly is dit net daar waar die springmielies inkom!

 

Keniaanse dawa

Vir 1 dawa: Gooi 25 ml vodka in 'n glas. Sny 'n lemmetjie* in skyfies en gooi in die glas. Squeeze 'n bietjie heuning oor en vul op met baie fyn ys. Dit word tradisioneel met 'n dawa-stokkie of 'n heuning-stokkie bedien, sodat jy die lemmetjie kan druk vir meer van 'n suur smaak en die heuning kan inroer om dit soeter te maak. Aangesien daar nie 'n mixer by die vodka gegooi word nie, moet jy baie ys ingooi en die ys moet fyn wees.

 

Grondboontjiebotterhoenderkebabs

 

500 g hoender vir ongeveer 50 klein kebabs

50 tandestokkies of klein sosatiestokkies

Vir die marinade:

10 ml bruinsuiker

2.5 ml fyn komyn

2.5 ml fyn koljander

5 ml sout

5 ml borrie

15 ml vars gemmer

15 ml grondboontjiebotter

15 ml olie

 

Sny hoender in blokkies of repies. Ryg in op tande- of klein sosatiestokkies.

Meng al die marinade-bestanddele saam en gooi oor die hoender. Laat vir ten minste 'n halfuur om te marineer.

Bak by 180 °C vir 15 – 20 minute, afhangend van die dikte. Draai halftyd om.

 

As jy 'n vinnige doopsous hierby wil maak, meng maaskaas en soetrissiesous.

 

*Kortpadwenk: Maak die marinade die vorige dag, en ryg die hoender die vorige dag in. Haal dan alles uit die yskas 'n uur voor jy dit wil bak en gooi die marinade oor. Dis lekker as dit nog louwarm is, koud saam met die doopsous of met goeie beplanning, warm.

 

Broodjies met koljander of gekarameliseerde uie

Vir om en by 60 klein broodjies, het jy 900 g deeg nodig, van 3 – 4 koppies meel. Jy kan ook deeg koop wat klaar aangemaak is. Maak balletjies van die deeg, deur dit op 'n meelbestrooide oppervlak met meelbestrooide hande te knie en dan stukke tussen jou (meelbestrooide) duim en wysvinger af te knyp.

 

Vir die plat koljanderbroodjies:

Verhit 'n pan, gooi 15 ml heel koljandersaad in en braai totdat jy dit net kan ruik. Moenie dit brand nie. Laat afkoel.

 

Maak klein deegballetjies, van 15 g elk. Dis net so 'n naastenby-getal: Dit werk lekker om die deeg af te weeg, dan is al die broodjies dieselfde grootte, as jy egter nie gepla kan wees deur ewe-groot broodjies nie, moenie!

Elk geval, druk elke balletjie plat om 'n plat broodjie te vorm. Sit op 'n gesmeerde bakplaat. Meng 1 eier met 15 ml melk of water, smeer die broodjies hiermee en gooi dan van die koljandersaad oor. Laat staan by kamertemperatuur om te rys.

 

Vir die gekarameliseerde uie:

Sny een ui in dun skyfies. Braai dit in 15 ml olie, ongeveer 10 minute totdat dit sag is en begin verbruin. Gooi dan 15 ml bruinsuiker by en braai nog 5 – 10 minute totdat die uie 'n mooi karamel kleur het.

 

Maak ook groter balletjies, van so by die 25 g elk. Rol hulle op jou werkoppervlak sodat jy klein ronde broodjies het. Skep 'n klein bietjie gekarameliseerde uie op elke broodjies. Laat staan by kamertemperatuur om te rys.

 

Om te bak:

Voorverhit die oond tot 180 °C. As al die broodjies mooi pofferig lyk, na ongeveer 20 minute by kamertemperatuur, sit die panne in die oond. Bak vir 12 – 15 minute. Toets, deur die onderkant van een of twee te klop: dit moet hol klink. As jy dit te lank gebak het, wat maklik met hierdie klein broodjies gebeur, en hulle voel kliphard, plaas die broodjies in 'n groot sak en bind toe. Hulle sal weer sag stoom, net vir so kwartier.

 

Geniet die broodjies saam met die hummus en olyfolie met dukkah.

 

Hummus*

1 blik (400 g) kekerertjies

2.5 ml fyn komyn

1.25 ml koljander

2.5 ml paprika

1.25 ml sout

varsgemaalde swartpeper

60 ml olyfolie

15 ml suurlemoensap

 

Gooi die kekerertjies in 'n vergiettes en spoel deeglik onder lopende water af. Meng dit in 'n voedselverwerker saam met die ander bestanddele. Gebruik eers minder olyfolie en suurlemoensap by, sodat jy die hoeveelhede kan verander om by jou smaak aan te pas.


*Kortpadwenk: Meeste supermarkte het klaargemaakte hummus beskikbaar. Ek sal vir niemand sê nie.

 

Dukkah*

200 g gemengde neute (soos kasjoe-, pekan- en Brasiliaanse neute)

30 g sesamesaad

2.5 ml sout

15 ml heel koljandersaad

15 ml heel komynsaad

15 ml suiker

 

Verhit die oond tot 160 °C. Sprei die neute, sesamesaad en sout op een bakplaat uit en rooster in die oond vir 15 minute. Plaas die koljander- en komynsaad op 'n ander bakplaat en rooster vir net 5 minute.

Laat alles afkoel.

Gooi nou al die neute en sade in 'n voedselverwerker saam met die suiker. Gebruik die pols-aksie om dit fyn te maak. Dit moet nog 'n growwe tekstuur behou.

Die dukkah hou baie lank in 'n lugdigte houer.

 

Gooi dukkah in 'n bakkie, in 'n ander bakkie goeie olyfolie, en bedien dit met brood. Jy breek dan 'n stuk brood af, doop dit in die olyfolie en druk dit dan in die neute-mengsel.

 

*Kortpadwenk: Dieselfde as met die hummus, kan jy dukkah aankoop wat gereed is vir gebruik, dis net by meer uitgesoekte supermarkte en delis beskikbaar.

 

Partytjie spesery-springmielies

 

Spring 100 g mieliepitte.*

Smelt 50 g margarien.

Voeg dan die volgende by die gesmelte botter en roer tot goed gemeng:

30 ml fyn kaneel

30 ml fyn komyn

30 ml paprika

20 ml sout

20 ml strooisuiker

Gooi klaargespringde mielies in 'n bruinpapiersak of plastiekbak met deksel. Gooi die geurige botter oor en skud die bak sodat dit deeglik met die geurige botter kan meng.

Gooi uit in bakkies. Dis so eenvoudig, maar 'n heerlike opvuller wat jy oral deur die huis en buite kan neersit en 'n handvol kan gryp!


*Kortpadwenk: Al wat jy hier vinniger kan doen, is om 'n pakkie springmielies te koop wat sommer in die mikrogolf spring, verkieslik butter of light butter. Dan is dit al in 'n sak as jy die speserye bygooi.

 

Skandinawië

Die kos van Skandinawië word veral deur die gebruik van vis (gerook en rou), vark, beet, komkommer, dille, room, botter en maaskaas gekenmerk. Daarvandaan kom die blinis, wat klein plaatkoekies is, met salm en die rogbrood met beet. En, alhoewel 'n cosmopolitan nie van enige van die Skandinawiese lande afkomstig is nie, is die hoofbestanddele, vodka en bosbessiesap, sommer baie Skandinawies.

 

Cosmopolitan

1 deel vodka

1 deel Triple sec, Cointreau of ander lemoenlikeur

2 dele bosbessiesap

fyn ys

 

Meng al die vloeistowwe, voeg fyngebreekte ys by en geniet. Vir 'n martiniglas, gebruik ek 1 deel = 25 ml.

 

Dille-blinis met gerookte salm

klein plaatkoekies met vars dille*

maaskaas of suurroom

gerookte salm of forel

vars dille vir garnering

 

Gebruik jou gewone plaatkoekie-resep (of myne) en voeg 15 ml gekapte vars dille by die deeg. Bak klein plaatkoekies met ongeveer 15 ml van die deeg vir elkeens.

 

Skep met 'n teelepel 'n bietjie suurroom of maaskaas op elke plaatkoekie en sit 'n stukkie salm bo-op. Garneer met 'n klein dilletakkie.

 

*Kortpadwenk: Koop klein plaatkoekies. Dis egter dikwels moeilik om in die hande te kry, so jy kan ook melba toast of ander brood in sirkels uitgedruk gebruik.

 

Rog-crostini met Deense feta en beet- en bosbessieblatjang

 

1 rogbrood

Deense fetakaas, in dun skyfies gesny (Deense bloukaas werk ook goed)

beet- en bosbessieblatjang*

 

Druk sirkels van tussen 3 en 4 cm uit snye van die rogbrood. Sit 2 of 3 skyfies fetakaas op elke crostini. Skep van die blatjang bo-op.

 

*Vir die beet- en bosbessieblatjang:

 

150 ml moutasyn of appelasyn

100 g bruinsuiker

180 g beet (ongeveer 2, groot), sny in klein blokkies of rasper grof

180 g appels (2 of 3, afhangend van die grootte), skil en sny in klein blokkies

sap en fyn gerasperde skil van 1 lemoen

1 rooi ui, fyngekap

2.5 ml gemengde speserye

2.5 ml sout

50 g gedroogde bosbessies

 

Plaas die asyn en suiker in 'n groot pot en roer oor hitte tot die suiker gesmelt het. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die bosbessies, by en bring tot kookpunt.

Prut vir 40 minute. As jy van 'n growwe blatjang hou, kan jy dit net so hou, andersins kan jy dit in 'n voedselverwerker met die pols-aksie fyner kap. Gooi dit terug in die pot. Voeg die bosbessies by en kook vir nog ongeveer 5 minute. Die vloeistof moet heeltemal weggekook het.

Skep in gesteriliseerde bottels of houers, of as jy dit dadelik gaan gebruik, skep in 'n lugdigte glashouer. Dit hou 6 maande lank in die yskas.

 

*Kortpadwenk: Gebruik bosbessiejellie of heel bosbessies in sous in plaas van die beet- en bosbessieblatjang.

 

Suid-Amerika

As ek nou aan daai suidelike Amerika-dele van die wêreld dink, staan rissies, pynappel en veral Meksikaanse kos vir my uit. En as jy nie die tropics in 'n piña colada (afkomstig van Puerto Rico) kan proe nie, moet jy maar nog een drink!

 

Piña colada

 

1 deel wit rum

1 deel klapperroom

3 dele pynappelsap

ys

pynappelblokkies vir garnering

 

Meng al die vloeistowwe en voeg ys by. Garneer met 'n pynappelblokkie op 'n stokkie.

 

Oerwoudverkoeler
'n Skemerkelkie vir die jongspan – maak 1 liter

100 ml (1 deel) grenadella-vrugtestroop (cordial)
100 ml (1 deel) klappermelk
200 ml (2 dele) lemoensap
600 ml (6 dele) pynappelsap
ys

Meng alles saam in 'n groot beker en geniet!
 

 

Tostadas met kaas en guacamole

 

tortillas of wraps, elkeen in 12 pizza-skywe gesny*

cheddar- en mozzarellakaas, gerasper

 

Vir die guacamole:

1 avokado, fyngedruk

sap van 'n halwe suurlemoen (meer na smaak)

sout en varsgemaalde swartpeper

'n draai varsgemaalde gedroogde rissies (opsioneel)

2 sprietuie, gekap (opsioneel)

 

Meng al die guacamole-bestanddele saam. Toets vir sout, peper en suurlemoensap.

 

Voorverhit die oond tot 200 °C. Sit op elke tortilla-skyf ongeveer 5 ml gemengde gerasperde kaas. Bak vir 8 – 10 minute, totdat die kaas heerlik borrel.

 

Skep op 'n elke tortilla-skyf 'n klein skeppie guacamole.

 

*Kortpadwenk: Koop nachos of mielieskyfies, en gebruik dit in plaas van die tortillas.

 

Steurgarnaal- en pynappelstokkies met soetrissiesous*


Dis 'n bietjie moeilik om hoeveelhede hiervoor te gee, dis maar 'n gooi-by-resep!

klein steurgarnale, afgedop en skoongemaak, so 2 of 3 per persoon

pynappel, sny in skywe en dan in klein wiggies, een vir elke steurgarnaal

soetrissiesous

15 – 25 ml olie

tandestokkies of klein sosatiestokkies (dieselfde hoeveelheid as steurgarnale en pynappel)


Braai die pynappelwiggies in voorverhitte olie in 'n pan, so 5 minute. Voeg die steurgarnale by. Gooi soetrissiesous by, al die pynappelwiggies en steurgarnale moet bedek wees. Begin met 'n bietjie en soos jy braai en dit wegkook kan jy dan nog bygooi. Braai totdat die steurgarnale sag en wit is. Laat afkoel en ryg dan een pynappelwiggie saam elke garnaaltjie op 'n stokkie.

 

*Kortpadwenk: Jy kan die 'n paar uur voor die tyd maak, dis baie smaaklik koud. Maar, dan moet jy dit in die yskas hou.

 

Mediterreense streek

Die Suid-Europese lande, Italië, Spanje en Griekeland dien maklik as inspirasie met hul skoon geure en helder kleure. Hierdie is omtrent die maklikste eetgoed om te maak, aangesien daar baie ready-made-produkte is wat jy kan gebruik. Boon-op hoef jy dit net op mekaar te stapel en dis gereed en heerlik! Die olywe is 'n moet – dit maak eenvoudige, goedkoop olywe heerlik.

 

Oranje duiwel – of Swart duiwel met lemoensap

 

1 deel vermouth

2 dele rum

4 dele lemoensap

swart olywe of lemoenskywe

 

Meng al die vloeistowwe, voeg ys by en garneer met 'n swart olyf of 'n lemoenskyf.

Vir 1 drankie gebruik ek 1 deel = 15 ml.

 

Franse brood met salami, mozzarella, kersietamaties en pesto

 

1 Franse brood, in skyfies gesny

klein salami, in dun ronde skyfies gesny

mozzarellakaas, in skyfies gesny

kersietamaties, in die helfte gesny oor die lengte

basiliekruidpesto

 

Maak oop broodjies met die salami, mozzarella en tamatie. Skep 'n teelepelvol pesto op elke broodjie.

 

Soutkoekies met bokmelkkaas en eiervrug- en tamatiesmoor

 

soutkoekies, soos Kips spring onion

sagte bokmelkkaas

eiervrug- en tamatiesmoor*

vars basiliekruidblare

 

Sny bokmelkkaas in klein stukkies, plaas een stukkie op elke koekie. Skep 'n bietjie van die smoor bo-op en garneer met 'n stukkie basiliekruid.

 

*Vir die eiervrug- en tamatiesmoor:

1 eiervrug

sout

15 – 30 ml olyfolie

1 blik (410 g) heel of gekapte tamaties

10 ml suiker

sap van halwe suurlemoen

sout en varsgemaalde swartpeper

basiliekruid

 

Sny die eiervrug in blokkies van ongeveer 1 cm, strooi sout oor. Laat staan in 'n vergiettes vir minstens 15 minute. Spoel af onder lopende water en druk droog.

 

Verhit die olie in 'n pan, voeg die eiervrugblokkies by en braai totdat hulle sag word. Voeg nog olie by as dit droog braai.

 

Gooi die gekapte tamaties by. Voeg die suiker en suurlemoensap by en kook vir ongeveer 5 minute. Geur met sout en peper en laat afkoel.

 

Skeur basiliekruidblare in klein stukkies en voeg by.

 

*Kortpadwenk
Koop songedroogde tamatiepesto, tapenade of 'n soortgelyke item en gebruik dit in plaas van die eiervrug- en tamatiesmoor.

 

Mediterreense-gemarineerde olywe

 

200 g swart of groen olywe (of gemeng)

5 ml vinkelsaad

2.5 ml komynsaad

fyn gerasperde skil van 'n halwe lemoen

fyn gerasperde skil van 'n halwe suurlemoen

5 ml gedroogde orego

15 ml suurlemoensap

15 ml rooiwynasyn

30 ml olyfolie

15 ml fyngesnyde pietersielie

 

Ontpit olywe (opsioneel). Rooster vinkel- en komynsade in 'n pan oor lae hitte totdat dit geurig ruik ongeveer 2 minute.

Meng sade, olywe, skil, orego, suurlemoensap, asyn en olie. Gooi oor olywe, meng.

Plaas in 'n lugverseëlde bakkie. Marineer by kamertemperatuur vir 8 ure. Skud die bakkie so nou en dan om al die geure te meng. Roer die pietersielie by. Bedien by kamertemperatuur.

Die olywe kan 'n week vooruit gemaak word. Dan moet jy egter nie die pietersielie in die begin bygooi nie - gooi by net voor opdiening. Dit kan ook warm bedien word, verhit oor 'n lae temperatuur vir 5 minute.

 

 

Kassie

Dié resepte is getoets tydens 'n spesiale funksie met jouwêreld-gaste in Ventersdorp in Noordwes. Die Mosaic-gastehuis (B&B) het hul fasiliteite hiervoor beskikbaar gestel.
Ventersdorp is in die Vaalriviervallei geleë, en is ongeveer 130 km vanaf Johannesburg, 50 km vanaf Potchefstroom en 160 km vanaf Pretoria.
Wanneer jy weer die N14-hoofroete (of die R30 of R53) volg en 'n lafenis vir die keel, 'n rusplek vir die moeë gees en oornaggeriewe in 'n plattelandse plaas-atmosfeer soek, kontak vir Christel by die Mosaic BB op 018 264 2586 of 083 456 6110. 

Lees ook die artikel oor die Mosaic BB in dié maand se uitgawe van jouwêreld.

 

 




 
Custom Search