|
|
|

deur
Wilna Myburgh
e-pos die skrywer
e-pos
jouwêreld
|
|
Bederf jou vriende en familie
dié Oujaarsaand op die
internasionale manier. Ons bied
resepte vir die maak van vier
eksotiese skemerkelkies, asook
vir talle bypassende watertand
eethappies, alles afkomstig van verskillende wêrelddele. |
|
|
|
|
Ek is 'n sucker vir 'n temapartytjie. Dit
maak die lewe van kos uitdink baie makliker
wanneer jy alles rondom 'n tema beplan. So het
ek dan besluit om vir die nuwe jaar die ganse
wêreld as tema in te span - met eetgoedjies van
verskillende lande en streke. Maar mens kan nie
net die ganse wêreld as inspirasie inspan nie –
mens het ook die ganse wêreld nodig om te kom
saam eet en geniet. Dis toe dat my niggie,
Christel, ingespring het en die wêreld van
moontlike partytjieloosheid gered het. Goed dan,
nie die héle wêreld nie, net almal wat op kort
kennisgewing bereid was om die nuwe jaar reeds
in November op Ventersdorp tegemoet te drink.
Die eetgoed is spesiaal so beplan dat die meeste
van die bestanddele ready-made aangekoop
kan word. Ek gee ook aan die einde van sommige
resepte kortpadwenke wat jou sal help om sonder
(te veel) moeite die ete gereed te kry.
Ons het elke land se eetgoed, saam met sy
skemerkelkie, op 'n ander tafel geplaas. Die
tafels is ook so na as moontlik volgens die tema
gedek.
Die idee is om alles vooraf gereed kry, dit op
die tafels te plaas, en die res van die aand te
ontspan en saam te kuier. Jy kan die
skemerkelkies ook vooraf in grootmaat maak –
gooi net op die laaste minuut die ys by. Of
skryf die resepte neer, sit die drank gereed en
laat elke persoon hulself na hartelus help. As
jy nie 'n skemerkelkie-persoon is nie, kan jy
gerus 'n glasie wyn hierby geniet!
Die belangrikste is, om dit net te geniet! So –
Happy new year, almal!
|

Keniaanse dawa
Grondboontjiebotterhoenderkebabs
Broodjies met koljander of gekarameliseerde uie
Hummus
Dukkah met olyfolie
Partytjie
spesery-springmielies

Cosmopolitan
Dille-blinis met gerookte salm
Rog-crostini met Deense feta en beet- en
bosbessieblatjang

Piña colada
Tostadas met kaas en
guacamole
Steurgarnale- en
pynappelstokkies met soetrissiesous

Oranje duiwel
Franse brood met salami, mozzarella,
kersietamaties en pesto
Soutkoekies met bokmelkkaas en eiervrug- en
tamatiesmoor
Mediterreense-gemarineerde olywe |


Dawas is beslis my gunsteling skemerkelkie! Die
hoenderkebabs het ook 'n Keniaanse twist,
terwyl dukkah en hummus van Noord-Afrika
afkomstig is. Alhoewel die tuisgebakte broodjies
heerlik is, kan jy met gemak 'n lekker, vars
brood koop en dit gebruik. Terwyl die ander
streke se kos net hand-eetgoedjies is, is Afrika
s'n selfhelp-eetgoed. Die brood is 'n lekker
vastigheid en vul die grootste honger maag. As
daar egter nog 'n gaatjie oorbly is dit net daar
waar die springmielies inkom! |
|
Keniaanse dawa
Vir 1 dawa: Gooi 25 ml vodka in 'n glas.
Sny 'n lemmetjie* in skyfies en gooi in
die glas. Squeeze 'n bietjie
heuning oor en vul op met baie fyn ys.
Dit word tradisioneel met 'n
dawa-stokkie of 'n heuning-stokkie
bedien, sodat jy die lemmetjie kan druk
vir meer van 'n suur smaak en die
heuning kan inroer om dit soeter te maak.
Aangesien daar nie 'n mixer by
die vodka gegooi word nie, moet jy baie
ys ingooi en die ys moet fyn wees. |

|
|
Grondboontjiebotterhoenderkebabs
500 g hoender vir ongeveer 50 klein
kebabs
50 tandestokkies of klein
sosatiestokkies
Vir die marinade:
10 ml bruinsuiker
2.5 ml fyn komyn
2.5 ml fyn koljander
5 ml sout
5 ml borrie
15 ml vars gemmer
15 ml grondboontjiebotter
15 ml olie
|
 |
|
Sny hoender in blokkies of repies. Ryg
in op tande- of klein sosatiestokkies.
Meng al die marinade-bestanddele saam en
gooi oor die hoender. Laat vir ten
minste 'n halfuur om te marineer.
Bak by 180 °C vir 15 – 20 minute,
afhangend van die dikte. Draai halftyd
om.
As jy 'n vinnige doopsous hierby wil
maak, meng maaskaas en soetrissiesous.
*
Kortpadwenk: Maak die marinade
die vorige dag, en ryg die hoender die
vorige dag in. Haal dan alles uit die
yskas 'n uur voor jy dit wil bak en gooi
die marinade oor. Dis lekker as dit nog
louwarm is, koud saam met die doopsous
of met goeie beplanning, warm.
|
|
Broodjies met koljander of
gekarameliseerde uie
Vir om en by 60 klein broodjies, het jy
900 g deeg nodig, van 3 – 4 koppies meel.
Jy kan ook deeg koop wat klaar aangemaak
is. Maak balletjies van die deeg, deur
dit op 'n meelbestrooide oppervlak met
meelbestrooide hande te knie en dan
stukke tussen jou (meelbestrooide) duim
en wysvinger af te knyp. |
 |
|
Vir die plat koljanderbroodjies:
Verhit 'n pan, gooi 15 ml heel
koljandersaad in en braai totdat jy dit
net kan ruik. Moenie dit brand nie. Laat
afkoel.
Maak klein deegballetjies, van 15 g elk.
Dis net so 'n naastenby-getal: Dit werk
lekker om die deeg af te weeg, dan is al
die broodjies dieselfde grootte, as jy
egter nie gepla kan wees deur ewe-groot
broodjies nie, moenie!
Elk geval, druk elke balletjie plat om
'n plat broodjie te vorm. Sit op 'n
gesmeerde bakplaat. Meng 1 eier met 15
ml melk of water, smeer die broodjies
hiermee en gooi dan van die
koljandersaad oor. Laat staan by
kamertemperatuur om te rys.
Vir die gekarameliseerde uie:
Sny een ui in dun skyfies. Braai dit in
15 ml olie, ongeveer 10 minute totdat
dit sag is en begin verbruin. Gooi dan
15 ml bruinsuiker by en braai nog 5 – 10
minute totdat die uie 'n mooi karamel
kleur het.
Maak ook groter balletjies, van so by
die 25 g elk. Rol hulle op jou
werkoppervlak sodat jy klein ronde
broodjies het. Skep 'n klein bietjie
gekarameliseerde uie op elke broodjies.
Laat staan by kamertemperatuur om te rys.
Om
te bak:
Voorverhit die oond tot 180 °C. As al
die broodjies mooi pofferig lyk, na
ongeveer 20 minute by kamertemperatuur,
sit die panne in die oond. Bak vir 12 –
15 minute. Toets, deur die onderkant van
een of twee te klop: dit moet hol klink.
As jy dit te lank gebak het, wat maklik
met hierdie klein broodjies gebeur, en
hulle voel kliphard, plaas die broodjies
in 'n groot sak en bind toe. Hulle sal
weer sag stoom, net vir so kwartier.
Geniet die broodjies saam met die hummus
en olyfolie met dukkah.
|
|
Hummus*
1 blik (400 g) kekerertjies
2.5 ml fyn komyn
1.25 ml koljander
2.5 ml paprika
1.25 ml sout
varsgemaalde swartpeper
60 ml olyfolie
15 ml suurlemoensap |
 |
|
Gooi die kekerertjies in 'n vergiettes
en spoel deeglik onder lopende water af.
Meng dit in 'n voedselverwerker saam met
die ander bestanddele. Gebruik eers
minder olyfolie en suurlemoensap by,
sodat jy die hoeveelhede kan verander om
by jou smaak aan te pas.
*
Kortpadwenk: Meeste supermarkte
het klaargemaakte hummus beskikbaar. Ek
sal vir niemand sê nie.
|
|
Dukkah*
200 g gemengde neute (soos kasjoe-,
pekan- en Brasiliaanse neute)
30 g sesamesaad
2.5 ml sout
15 ml heel koljandersaad
15 ml heel komynsaad
15 ml suiker |
 |
|
Verhit die oond tot 160 °C. Sprei die
neute, sesamesaad en sout op een
bakplaat uit en rooster in die oond vir
15 minute. Plaas die koljander- en
komynsaad op 'n ander bakplaat en
rooster vir net 5 minute.
Laat alles afkoel.
Gooi nou al die neute en sade in 'n
voedselverwerker saam met die suiker.
Gebruik die pols-aksie om dit fyn te
maak. Dit moet nog 'n growwe tekstuur
behou.
Die dukkah hou baie lank in 'n lugdigte
houer.
Gooi dukkah in 'n bakkie, in 'n ander
bakkie goeie olyfolie, en bedien dit met
brood. Jy breek dan 'n stuk brood af,
doop dit in die olyfolie en druk dit dan
in die neute-mengsel.
*
Kortpadwenk: Dieselfde as met die
hummus, kan jy dukkah aankoop wat gereed
is vir gebruik, dis net by meer
uitgesoekte supermarkte en delis
beskikbaar.
|
Partytjie
spesery-springmielies
Spring 100 g mieliepitte.*
Smelt 50 g margarien. |
 |
|
Voeg dan die volgende by die gesmelte
botter en roer tot goed gemeng:
30 ml fyn kaneel
30 ml fyn komyn
30 ml paprika
20 ml sout
20 ml strooisuiker
Gooi klaargespringde mielies in 'n
bruinpapiersak of plastiekbak met deksel.
Gooi die geurige botter oor en skud die
bak sodat dit deeglik met die geurige
botter kan meng.
Gooi uit in bakkies. Dis so eenvoudig,
maar 'n heerlike opvuller wat jy oral
deur die huis en buite kan neersit en 'n
handvol kan gryp!
*
Kortpadwenk: Al wat jy hier
vinniger kan doen, is om 'n pakkie
springmielies te koop wat sommer in die
mikrogolf spring, verkieslik butter
of light butter. Dan is dit al in
'n sak as jy die speserye bygooi.
|
|

 |
Die kos van Skandinawië word veral deur
die gebruik van vis (gerook en rou),
vark, beet, komkommer, dille, room,
botter en maaskaas gekenmerk.
Daarvandaan kom die blinis, wat klein
plaatkoekies is, met salm en die
rogbrood met beet. En, alhoewel 'n
cosmopolitan nie van enige van die
Skandinawiese lande afkomstig is nie, is
die hoofbestanddele, vodka en
bosbessiesap, sommer baie Skandinawies.
|
|
Cosmopolitan
1 deel vodka
1 deel Triple sec, Cointreau of ander
lemoenlikeur
2 dele bosbessiesap
fyn ys
Meng al die vloeistowwe, voeg
fyngebreekte ys by en geniet. Vir 'n
martiniglas, gebruik ek 1 deel = 25 ml. |

|
|
Dille-blinis met gerookte salm
klein plaatkoekies met vars dille*
maaskaas of suurroom
gerookte salm of forel
vars dille vir garnering |
 |
|
Gebruik jou gewone plaatkoekie-resep (of
myne) en voeg 15 ml gekapte
vars dille by die deeg. Bak klein
plaatkoekies met ongeveer 15 ml van die
deeg vir elkeens.
Skep met 'n teelepel 'n bietjie suurroom
of maaskaas op elke plaatkoekie en sit
'n stukkie salm bo-op. Garneer met 'n
klein dilletakkie.
*
Kortpadwenk: Koop klein
plaatkoekies. Dis egter dikwels moeilik
om in die hande te kry, so jy kan ook
melba toast of ander brood in sirkels
uitgedruk gebruik.
|
|
Rog-crostini met Deense feta en beet- en
bosbessieblatjang
1 rogbrood
Deense fetakaas, in dun skyfies gesny (Deense
bloukaas werk ook goed)
beet- en bosbessieblatjang* |
 |
|
Druk sirkels van tussen 3 en 4 cm uit
snye van die rogbrood. Sit 2 of 3
skyfies fetakaas op elke crostini. Skep
van die blatjang bo-op.
*
Vir die beet- en bosbessieblatjang:
150 ml moutasyn of appelasyn
100 g bruinsuiker
180 g beet (ongeveer 2, groot), sny in
klein blokkies of rasper grof
180 g appels (2 of 3, afhangend van die
grootte), skil en sny in klein blokkies
sap en fyn gerasperde skil van 1 lemoen
1 rooi ui, fyngekap
2.5 ml gemengde speserye
2.5 ml sout
50 g gedroogde bosbessies
Plaas die asyn en suiker in 'n groot pot
en roer oor hitte tot die suiker gesmelt
het. Voeg die res van die bestanddele,
behalwe die bosbessies, by en bring tot
kookpunt.
Prut vir 40 minute. As jy van 'n growwe
blatjang hou, kan jy dit net so hou,
andersins kan jy dit in 'n
voedselverwerker met die pols-aksie
fyner kap. Gooi dit terug in die pot.
Voeg die bosbessies by en kook vir nog
ongeveer 5 minute. Die vloeistof moet
heeltemal weggekook het.
Skep in gesteriliseerde bottels of
houers, of as jy dit dadelik gaan
gebruik, skep in 'n lugdigte glashouer.
Dit hou 6 maande lank in die yskas.
*
Kortpadwenk: Gebruik
bosbessiejellie of heel bosbessies in
sous in plaas van die beet- en
bosbessieblatjang.
|
|


As ek nou aan daai suidelike Amerika-dele van
die wêreld dink, staan rissies, pynappel en
veral Meksikaanse kos vir my uit. En as jy nie
die tropics in 'n piña colada (afkomstig
van Puerto Rico) kan proe nie, moet jy maar nog
een drink!
|
Piña colada
1 deel wit rum
1 deel klapperroom
3 dele pynappelsap
ys
pynappelblokkies vir garnering
Meng al die vloeistowwe en voeg ys by.
Garneer met 'n pynappelblokkie op 'n
stokkie.
Oerwoudverkoeler
'n Skemerkelkie vir die jongspan – maak
1 liter
100 ml (1 deel) grenadella-vrugtestroop
(cordial)
100 ml (1 deel) klappermelk
200 ml (2 dele) lemoensap
600 ml (6 dele) pynappelsap
ys
Meng alles saam in 'n groot beker en
geniet!
|

|
Tostadas met
kaas en guacamole
tortillas of wraps, elkeen in 12
pizza-skywe gesny*
cheddar- en mozzarellakaas, gerasper |
 |
|
Vir die guacamole:
1 avokado, fyngedruk
sap van 'n halwe suurlemoen (meer na
smaak)
sout en varsgemaalde swartpeper
'n draai varsgemaalde gedroogde rissies
(opsioneel)
2 sprietuie, gekap (opsioneel)
Meng al die guacamole-bestanddele saam.
Toets vir sout, peper en suurlemoensap.
Voorverhit die oond tot 200 °C. Sit op
elke tortilla-skyf ongeveer 5 ml
gemengde gerasperde kaas. Bak vir 8 – 10
minute, totdat die kaas heerlik borrel.
Skep op 'n elke tortilla-skyf 'n klein
skeppie guacamole.
*
Kortpadwenk: Koop nachos of
mielieskyfies, en gebruik dit in plaas
van die tortillas.
|
|
Steurgarnaal-
en pynappelstokkies met soetrissiesous*
Dis 'n bietjie moeilik om hoeveelhede
hiervoor te gee, dis maar 'n
gooi-by-resep! |
 |
|
klein steurgarnale, afgedop en
skoongemaak, so 2 of 3 per persoon
pynappel, sny in skywe en dan in klein
wiggies, een vir elke steurgarnaal
soetrissiesous
15 – 25 ml olie
tandestokkies of klein sosatiestokkies (dieselfde
hoeveelheid as steurgarnale en pynappel)
Braai die pynappelwiggies in
voorverhitte olie in 'n pan, so 5
minute. Voeg die steurgarnale by. Gooi
soetrissiesous by, al die
pynappelwiggies en steurgarnale moet
bedek wees. Begin met 'n bietjie en soos
jy braai en dit wegkook kan jy dan nog
bygooi. Braai totdat die steurgarnale
sag en wit is. Laat afkoel en ryg dan
een pynappelwiggie saam elke garnaaltjie
op 'n stokkie.
*
Kortpadwenk: Jy kan die 'n paar
uur voor die tyd maak, dis baie smaaklik
koud. Maar, dan moet jy dit in die yskas
hou.
|
 |

Die Suid-Europese lande, Italië, Spanje en
Griekeland dien maklik as inspirasie met hul
skoon geure en helder kleure. Hierdie is omtrent
die maklikste eetgoed om te maak, aangesien daar
baie ready-made-produkte is wat jy kan
gebruik. Boon-op hoef jy dit net op mekaar te
stapel en dis gereed en heerlik! Die olywe is 'n
moet – dit maak eenvoudige, goedkoop olywe
heerlik.
|
Oranje duiwel – of Swart duiwel met
lemoensap
1 deel vermouth
2 dele rum
4 dele lemoensap
swart olywe of lemoenskywe |
 |
|
Meng al die vloeistowwe, voeg ys by en
garneer met 'n swart olyf of 'n
lemoenskyf.
Vir 1 drankie gebruik ek 1 deel = 15 ml.
|
|
Franse brood met salami, mozzarella,
kersietamaties en pesto
1 Franse brood, in skyfies gesny
klein salami, in dun ronde skyfies gesny
mozzarellakaas, in skyfies gesny
kersietamaties, in die helfte gesny oor
die lengte
basiliekruidpesto |
 |
|
Maak oop broodjies met die salami,
mozzarella en tamatie. Skep 'n
teelepelvol pesto op elke broodjie.
|
|
Soutkoekies met bokmelkkaas en eiervrug-
en tamatiesmoor
soutkoekies, soos Kips spring onion
sagte bokmelkkaas
eiervrug- en tamatiesmoor*
vars basiliekruidblare |
 |
|
Sny bokmelkkaas in klein stukkies, plaas
een stukkie op elke koekie. Skep 'n
bietjie van die smoor bo-op en garneer
met 'n stukkie basiliekruid.
*
Vir die eiervrug- en tamatiesmoor:
1 eiervrug
sout
15 – 30 ml olyfolie
1 blik (410 g) heel of gekapte tamaties
10 ml suiker
sap van halwe suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper
basiliekruid
Sny die eiervrug in blokkies van
ongeveer 1 cm, strooi sout oor. Laat
staan in 'n vergiettes vir minstens 15
minute. Spoel af onder lopende water en
druk droog.
Verhit die olie in 'n pan, voeg die
eiervrugblokkies by en braai totdat
hulle sag word. Voeg nog olie by as dit
droog braai.
Gooi die gekapte tamaties by. Voeg die
suiker en suurlemoensap by en kook vir
ongeveer 5 minute. Geur met sout en
peper en laat afkoel.
Skeur basiliekruidblare in klein
stukkies en voeg by.
*
Kortpadwenk: Koop songedroogde
tamatiepesto, tapenade of 'n soortgelyke
item en gebruik dit in plaas van die
eiervrug- en tamatiesmoor.
|
|
Mediterreense-gemarineerde olywe
200 g swart of groen olywe (of gemeng)
5 ml vinkelsaad
2.5 ml komynsaad
fyn gerasperde skil van 'n halwe lemoen
fyn gerasperde skil van 'n halwe
suurlemoen
5 ml gedroogde orego
15 ml suurlemoensap
15 ml rooiwynasyn
30 ml olyfolie
15 ml fyngesnyde pietersielie |
 |
|
Ontpit olywe (opsioneel). Rooster vinkel-
en komynsade in 'n pan oor lae hitte
totdat dit geurig ruik ongeveer 2
minute.
Meng sade, olywe, skil, orego,
suurlemoensap, asyn en olie. Gooi oor
olywe, meng.
Plaas in 'n lugverseëlde bakkie.
Marineer by kamertemperatuur vir 8 ure.
Skud die bakkie so nou en dan om al die
geure te meng. Roer die pietersielie by.
Bedien by kamertemperatuur.
Die olywe kan 'n week vooruit gemaak
word. Dan moet jy egter nie die
pietersielie in die begin bygooi nie -
gooi by net voor opdiening. Dit kan ook
warm bedien word, verhit oor 'n lae
temperatuur vir 5 minute.
|
|
|