|
|
|
|
Hierdie is 'n klompie eiesoortige
bakpoeierbroodjies – of eerder: elkeen met 'n
kinkel in sy kabel!
Ek kan glad nie verstaan waarom mens altyd van
hierdie vinnige brode vergeet nie. Alhoewel
hulle almal net hier digby 'n uur lank bak (sug!),
hoef jy geensins te knie nie en hulle meng almal
sommer vinnig-vinnig. En dan het jy 'n heerlike,
vars brood!
Maar daar is nog iets van dié broodjies wat ek
nog nooit kon verstaan nie: en dis die
broodpannetjies se groottes. Moet asseblief nie
'n angsaanval hê as jy nie die spesifieke
grootte kry nie – ek dink nie daar is meer as
twee pannetjies op aarde wat dieselfde grootte
het nie. Al raad wat ek kan gee, is dat jy
eerder 'n groter pannetjie vat en dan die brood
vir 'n korter tyd bak, as wat jou pan dalk te
klein is. Jy kan al die broodjies reeds na 45
minute se baktyd begin toets – oonde verskil
baie hiermee en die pannetjie se grootte lewer
ook 'n bydrae.
Laat ons wegval . . .
|
 |

Hierdie is die eksentrieke tannie van 'n normale
bierbrood. Ek kan dit definitief vir
grondboontjiebotterliefhebbers aanbeveel. As jy
nou régtig 'n liefhebber is, kan jy 'n
halfkoppie gekapte grondbone of gemengde neute
ook ingooi. Dis regtig lekker vinnig om te maak.
En gelukkig – nog lekkerder om te eet. Met
stroop, konfyt, kaas of selfs by jou volgende
braaivleis of saam met een van die
slaaie.
2 koppies koekmeel
15 ml bakpoeier
½ koppie grondboontjiebotter
½ koppie bruinsuiker
15 ml lynsaad (opsioneel)
340 ml bier |
|
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Gooi die meel en bakpoeier in 'n mengbak. Meng
nou die grondboontjiebotter met 'n groot
draadklitser by. Dit mag dalk eers soos 'n
onbegonne taak lyk, maar dis regtig nie. Meng
tot dit krummelrig is.
Voeg dan die bruinsuiker, lynsaad (as gebruik)
en bier by. Meng deeglik en gooi in 'n gesmeerde
broodpannetjie, van so 13 x 25 cm.
Bak vir 50 – 60 minute, totdat 'n toetspen skoon
uitkom.
|
 |

Vir hiérdie brood sou ek voorstel dat jy 'n
avokadoliefhebber moet wees. Dis net so 'n
halfkoppie suiker weg van 'n lekker koek. Dis
absoluut heerlik saam met al die
slaaie –
regtig, ek het dit self geproe!
125 g margarien / botter
100 g (½ koppie) bruinsuiker
2 eiers
240 g (1½ koppies) volgraanmeel
12 ml bakpoeier
40 g (¼ koppie) sonneblomsaad
40 g songedroogde tamaties, gekap (opsioneel)
5 ml fyngerasperde suurlemoenskil
1 koppie fyngedrukte avokado (ongeveer 320 g
avokado)
30 ml suurlemoensap
nog sonneblomsaad, om oor brood te strooi |
|
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Klits die margarien en suiker saam tot romerig.
Voeg die eiers by en meng deeglik.
Meng die meel, bakpoeier, sonneblomsaad,
songedroogde tamaties (as gebruik) en
suurlemoenskil.
Meng die fyngemaakte avokado en suurlemoensap.
Voeg nou beide die meel- en die avokadomengsel
by die mengbak. Maak seker dat alles mooi
deurgemeng is.
Skep in 'n gesmeerde broodpannetjie van so om en
by 14 x 21 cm. Sprinkel met sonneblomsaad en bak
vir 45 minute.
|
 |

Hoe kan mens nou brood bak,
maar nie 'n kaasbrood maak nie? Hierdie is egter
'n effense variasie. Dis nie dat ek 'n
drankprobleem het nie, maar die brandewyn maak
vir 'n anderste lekker smaak – die alkohol
verdamp tog in elk geval! Ek het dit met
groenpeper-goudakaas gemaak en dis heerlik, maar
enige kaas sal goed werk. As jy nou die dag
avontuurlustig voel, kan jy 50 g gekapte
gedroogde pere of appelkose byvoeg – dis nou
éérs 'n soet lekkerte!
500 ml (2 koppies) koekmeel
15 ml (1 eetlepel) bakpoeier
45 ml (3 eetlepels) bruinsuiker
375 ml (1½ koppies) gerasperde kaas
2 eiers
250 ml joghurt
100 ml brandewyn |
|
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Meng die droë bestanddele saam. Voeg ook die
kaas hierby en versprei dit deur die mengsel.
Meng dan al die nat bestanddele saam. Voeg nou
die nat by die droë bestanddele en meng goed met
'n draadklitser.
Gooi in 'n gesmeerde broodpannetjie van ongeveer
13 x 25 cm. Bak vir 45 - 55 minute. |