|
Mense is altyd verbaas as ek sę dat ek daarvan hou om te braai – dit is nou totdat hulle hoor wat ek bedoel as ek sę "braai". Wat ék doen is 'n effens verfynde weergawe van die normale metode. Eerstens braai ek op 'n gasbraaier. Dit het 'n selfaansitter – ek speel nie graag met vuur nie. Die naaste wat ek aan die vlammetjies kom, is om dit met 'n vreeslike laaang gasaansteker aan te steek as die selfaansitter mý in die steek laat. Tweedens gebruik ek nie juis tipiese braai-bestanddele nie. Dit beteken nou glad nie dat jy jou aan my "nukke" hoef te steur nie – gaan net voort soos jy gemaklik voel. My oorspronklike plan was om so 'n klein kompetisietjie tussen die tradisionele braai en die meer moderne benadering tot braai te hou. Maar kyk – ek reken 'n mens weet sommer self wanneer watter braai gaan wen. Partymaal is mens maar net eenvoudig lus vir boerewors, 'n skaaptjoppie, pap – of dit nou in die vorm van "pap en sous" of paptert is, potbrood en 'n lekker verskeidenheid slaaie. Elke ding op sy tyd. As jy egter die braai-ervaring wil hę, maar terselfdertyd jou gaste wil beďndruk, lees verder . . .
Gebraaide tortillawiggies met bokmelkkaas en soetrissie- en tamatierelish Dis nogal 'n mondvol. Ek weet nie wat op die aarde 'n relish in Afrikaans is nie – ja, ek het in die woordeboek gekyk - die woorde versnapering, smaaklike toespys en suurtjie werk definitief nie vir my nie. Dalk kruiesous, maar wát, totdat iets beter oor my pad kom, sal dit relish bly. Eintlik is dit nou ver van die punt af – hierdie is heerlik! Die hele gereg is aanpasbaar, die tortillawiggies kan sommer net so ook geëet word of in doopsouse gedruk word. Jy kan ook jou eie vulsels en bedeksels uitdink. Die relish wat oorbly is heerlik op amper alles en hou 1 – 2 weke in die yskas. Jy kan altyd dat elke gas sy eie wiggies bou – sit net die bestanddele daar neer – 'n braai is mos 'n informele ding!
Vir die tortillawiggies: Maak ongeveer 3 wiggies per gas – groot tortillas en wraps kan 10 wiggies maak, terwyl mens net 8 uitkry wanneer hulle klein is. tortillas of wraps (werk uit hoeveel jy gaan benodig) 15 ml olie, of meer
Sny die tortilla of wrap in "pizza"-skywe. Braai in 'n bietjie verhitte olie tot goudbruin, sit op handdoekpapier om die oortollige olie te dreineer. Hou eenkant.
Vir die bokmelkkaas: Koop 'n sagte bokmelkkaas – die wat in swart peper gerol is werk baie goed. Sny dit in half sentimeter-skyfies en halveer.
Vir die soetrissie- en tamatierelish:
2 klein uie, dun gesny 1 rooi soetrissie 2 mediumgrootte tamaties 25 ml olyfolie 1 kaneelstokkie of 2.5 ml fyn kaneel 5 ml Cajun-speserye 5 ml borrie 60 ml bruinsuiker 60 ml rooiwynasyn sap van 'n halwe suurlemoen – ongeveer 30 ml 30 ml fyngekapte vars kruie (Italiaanse pietersielie, basiliekruid, salie, roosmaryn)
Sny die soetrissie in kwarte – haal al die binnegoed uit - bedek weerskante met 5 ml olie en plaas in 'n pannetjie om in die oond te rooster. Dit neem tussen 5 en 8 minute om bruin en op plekke swart te word. Haal uit en sit die soetrissiekwarte in 'n klein plastiese sakkie – knoop dit toe. Nou sal die soetrissie stoom en die skil makliker afkom. Na ongeveer 10 minute – trek die skille af – as dit op 'n plek so vas is dat jy dit nie kan afkry nie – los dit maar. Sny in klein blokkies.
Sny 'n kruisie in die bo- en onderkant van elke tamatie. Bedek met kookwater en laat staan vir 1 minuut. Spoel af in koue water en trek die skille af. Sny in blokkies. Hou eenkant.
Verhit 15 ml olie in 'n braaipan, voeg dadelik die kaneelstokkie by. As jy fyn kaneel gebruik, voeg dit later saam met die borrie by.
Braai die ui tot sag en deurskynend. Voeg die borrie en Cajun-speserye by. Braai vir 1 minuut. Voeg die tamaties en soetrissie by - meng.
Voeg die rooiwynasyn, bruinsuiker en suurlemoensap by. Bring tot kookpunt en kook vir ongeveer 10 minute. Die vloeistof moet wegkook.
Haal van die hitte af en meng die vars kruie in. Dit kan warm, louwarm of yskoud uit die yskas bedien word.
Om die wiggies te maak: Plaas 'n stukkie kaas op die breë kant van elke wiggies. Skep 'n teelepel relish bo-op. Hap!
Biefstuk met kruie-suurlemoenbotter
Ek hou daarvan as my biefstuk nog so bietjie lewe in hom oorhet. Maar hierdie is jou braai, maak die vleis gaar soos jy wil. Ag, ek bedoel soos jou gaste dit wil! Jy kan darem self kies wat jy wil braai. Hierdie kruie-suurlemoenbotter gaan eintlik ook goed saam met skaap- en varktjoppies, maar ek verkies so sappige stuk bees! Hierdie is nie eintlik 'n resep nie – gebruik maar net sout of geurselsout en swart peper en van die onderstaande botter om die vleis te geur terwyl dit braai.
As jy 'n vegetariër is en sopas - per ongeluk - deur hierdie biefstuk-deel gelees het, is ek jammer. As vertroosting bied ek hier vegetariese braaigeregte – wat elke vleisvreter se mond sal laat water.
Suurlemoen-kruiebotter
Hierdie is nou nie werklik nuwerwets nie, ek het dit onlangs in 'n braaiboek van die 80's raakgeloop. Dis net so al asof dit nie heeltemal 'n staande plekkie by ons braais gekry het nie. Dit hou lank in die yskas en is baie veelsydig.
Jy kan die botter op die vleis sit terwyl dit braai en dan die res opsny en gaste kan na smaak nog botter op die vleis sit om so in te smelt. Kies self jou kruie –pietersielie alleen is heerlik, maar origanum, basiliekruid, ment en salie is ook lekker - in enige kombinasie.
125 g botter of margarien 15 ml suurlemoenskil 15 ml suurlemoensap 60 ml (25 g) vars kruie, fyngekap 1 - 2 ml sout kleefplastiek
Laat die botter op die kas om te versag of sit dit vir 10 sekonde intervalle in die mikrogolf om net-net sag te word.
Voeg die suurlemoenskil en –sap, vars kruie en sout by.
Sny 'n stuk kleefplastiek – plaas die bottermengsel in die middel. Rol dit dan van die lang kant af op – om 'n lang rolletjie te vorm – soos daardie gegeurde botter wat mens te koop kry. Draai die kante en knoop toe – rol dan die rolletjie om hom mooi rond te vorm.
Plaas in die yskas – of in die vrieskas as jy haastig is – om te verhard.
Gebraaide sampioene met suurlemoen-kruiebotter
Weereens is die nie regtig 'n vaste resep nie. Gooi 'n bietjie olie in 'n plat bak waardeur jy elke groot bruin sampioen kan trek om met olie te smeer. Dit neem ongeveer 10 minute om te braai. Braai dit eers met die binnekant na onder. Na sowat 5 minute kan jy dit omdraai en 'n halfteelepel suurlemoen-kruiebotter daarop sit om te smelt en geur dit met sout en swart peper.
Spinasie-slaai met spek en avokado
Baba-spinasieblare is heerlik rou, aangesien dit nie so skerp smaak as gewone spinasie het nie. Ek eet gewoonlik omtrent al die slaaisous-bedekte blare in die kombuis op voor die ete nog naastenby begin het.
100 g spekblokkies 25 ml olyfolie 5 ml heelkorrelmosterd 15 ml rys- of witwynasyn 15 ml heuning 1 pakkie baba-spinasieblare 1 avokadopeer, in skywe gesny (opsioneel) en met suurlemoensap gesmeer
Braai die spek in 10 ml olie tot bruin en bros. Hou eenkant.
In dieselfde pan, meng die mosterd, asyn en heuning en 15 ml olyfolie. Kook vir 1 minuut. Voeg die spek by en meng deur. Laat 'n paar minute staan om af te koel.
Plaas die spinasieblare in 'n slaaibak of bord. Rangskik die avokadoskywe op die blare. Gooi die spek en slaaisous oor en meng deeglik sodat al die blare bedek is.
Broodvlegsel met vars kruie, suurlemoenskil en mozzarellakaas
Die wonderlike ding van broodvlegsels is dat dit 'n showstopper is, maar nie so moeilik om te maak nie. Veral as jy sommer gekoopte brooddeeg gebruik. Jy kan eintlik mal gaan met vulsels – alhoewel 'n eenvoudige kaasvlegsel heerlik is.
1 x wit brooddeeg skil van 1 suurlemoen, fyn gesny of gerasper 25 g gemengde gekapte kruie (pietersielie, origanum, basiliekruid) 100 g mozzarellakaas, gerasper sout en varsgemaalde swart peper
1 eier 15 ml melk of water
Indien die deeg in die yskas was – haal dit vroegtydig uit om kamertemperatuur te bereik en te begin rys vir ongeveer 'n halfuur. Rol die deeg, op 'n meelbestrooide oppervlak, uit in 'n groot reghoek. Dit moet ongeveer 5 mm dik wees. Meng die suurlemoenskil, kruie en kaas. Strooi dit oor die deeg. Maal swart peper bo-oor en sprinkel met sout. Druk dit met die koekroller vas. Rol nou die deeg van die lang kant af op – om 'n lang rol te vorm. Druk die rol plat – as die ronding plat is sny dit makliker. Begin 1 cm weg van die bopunt af en sny 3 stroke (ewe breed) in die lengte af. Vleg die 3 stroke brooddeeg. Vang maar die kaas en kruie wat uitpeul en druk terug. Plaas die vlegsel op 'n bakplaat en laat weer rys in 'n warm plek vir ongeveer 20 – 30 minute. Meng die eier en melk of water en smeer die broodvlegsel daarmee.
Bak by 200 °C vir 5 minute. Verlaag dan die hitte tot 180 °C en bak nog 20 tot 25 minute. Om te toets of dit gaar is – tel die brood (met 'n vatlappie) op en klop aan die onderkant – dit moet hol klink.
Ment- en koffieroomys
Ek moet dalk nou bietjie van 'n bekentenis maak: voordat my ma een jaar vir haar verjaarsdag 'n roomysmaker gekry het – ek het niks daarmee te doen gehad nie! – het ons nooit roomys gemaak nie. Alhoewel ek eintlik weet mens kan dit sonder een doen, kon ek dit nooit regtig glo nie. Nou wil ek nie graag hier skryf presies hoe die klits- en vriesmetode werk as ek dit nie self probeer het nie. Ek het toe hierdie resep sonder die hulp van 'n roomysmaker gemaak – en glo my nou maar – ek was self verbaas oor hoe pynloos maklik dit is! Ment en koffie is dalk nou nie 'n gewone smaakkombinasie nie – maar oe – dis heerlik!
Vir die mentroomys: 150 ml water 100 g suiker 50 g vars mentblare 500 ml room of half-half met melk 25 ml Mentlikeur (as jy nie mentlikeur het nie, maak die ment-suikerstroop een en 'n half keer aan)
Vir die koffiestropie: 100 ml suiker 250 ml water 15 ml gemaalde filterkoffie
Meng die suiker en water en roer oor lae hitte om te smelt. Kook vinnig vir 5 minute. Voeg die mentblare by en laat staan vir 30 minute. Koel heeltemal af.
Klits die room tot sagte punte vorm. Laat die suikerstroop in 'n dun straaltjie inloop terwyl jy verder klits. Voeg dit mentlikeur by.
Vries volgens die instruksies van jou roomysmaker of gooi in 'n vlak bak, verkieslik metaal. Klits, elke 30 minute, met 'n draadklitser om die yskristalle te versprei.
As die roomys in die vrieskas is, maak die koffiestroop. Meng die suiker en water, roer oor lae hitte totdat die suiker gesmelt is. Bring tot kookpunt en kook vir 5 minute. Gooi oor die gemaalde filterkoffie. Laat vir 2 – 3 minute trek en gooi dan deur 'n baie fyn sif. Laat afkoel en plaas dan in die vrieskas.
Wanneer die roomys amper heeltemal gevries is – dit het met die klits- en vriesmetode 'n uur en 'n half geneem – gooi een derde daarvan 'n roomysbak. Gooi dan van die koffiestroop bo-oor. Dis lekker as mens sulke groot blobs daarvan op plekke gooi - dit word so taaierig en het dan meer van 'n impak. Maak nog lae van die roomys en stroop. Trek die agterkant van 'n lepel 'n paar keer deur dit om liggies te meng en vries.
Bedien dit met mint thins of sjokoladekoekies of maak hierdie blaardeegdriehoekies.
Blaardeegdriehoekies
Sny driehoeke (2 sye van 8 cm, een van 5 cm) uit blaardeeg. Strooi met versiersuiker. Bak vir 10 minute by 200 °C. Smelt 'n paar blokkies sjokolade en bedruip die driehoekies daarmee.
Vegetariese braai
Ek het dit so tentatief in my kop gehad dat mens vir vegetariërs ook by 'n braai moet voorsien. Nadat ek 'n artikel oor Nasionale Braaidag raakgelees het, waarin Desmond Tutu voorstel dat die vegetariërs moet staan en kyk, terwyl Jan Scannell voorstel dat hulle mielies moet eet, was ek oortuig.
Daar is verskeie groentesoorte wat baie goed kan braai. Die idee is om 'n paar verskillende groentes te braai – en dan met die hulp van 'n ryk, lekker tamatiesous en kaas stacks te maak met jou keuse van groente.
Jy kan maklik vir jou vegetariër-gaste voorsien as jy die bogenoemde menu maak – die vleiseters smeek eintlik as't ware om saam te eet! Haal net die spek uit die spinasieslaai uit – verder is dit a-okay!
Daar is 2 hoof-opsies waarvan jy stacks kan maak: Botterskorsieskywe Aspersies Sampioene of Polenta Eiervrug Tamatiesous
Maar om die waarheid te sę kan jy al die verskillende soorte ook maak en jou gaste aanmoedig om kreatief te wees.
Botterskorsieskywe Sny botterskorsie in skywe van ongeveer 1 cm. Jy hoef dit nie te skil nie – dit spaar baie tyd – maar ek self verkies dit sonder die skil. Plaas die skywe in 'n bak wat in die mikrogolf mag gaan – voeg 'n bietjie water by en kook op hoog vir 5 minute. Jy kan dit ook op die stoof kook. Dit moet net begin sag word – dit moenie heeltemal gaar wees nie. Bestryk met of doop in olie en braai. Geur met suurlemoenpeper-sout.
Aspersies Moenie vir een oomblik sę "jig" nie – veral nie in my teenwoordigheid nie! Ek haat ook ingelegde aspersies – ek dink dis 'n skande om dít aan 'n aspersie te doen. Koop dun, groen aspersies – dis glad nie soos die ingelegde weergawe nie. Dis regtig heerlik gebraai met 'n skeut of twee suurlemoensap, growwe sout en varsgemaalde swart peper. Voor jy dit begin braai moet jy net elke aspersie knak – gewoonlik nader aan die onderkant – die punt waar dit skoon afbreek is die deel wat jy moet weggooi. Dan het jy net die varsste deel van elke aspersie en jy kan hulle met ongeveer 5 ml ligte olyfolie bedek. Dit neem ongeveer 10 minute om te braai – afhangend van hoe dun hulle is. Terwyl dit braai kan jy dit met die suurlemoensap, sout en peper geur.
Sampioene Sien die Gebraaide sampioene met suurlemoen-kruiebotter hier bo. As jy in elk geval die boonste braai-menu maak, is dit 'n goeie idee om vir almal die sampioene te maak.
Polenta Koop polenta wat gereed vir gebruik is of maak polenta volgens die pakkie se aanwysings aan. Dit moet dik wees. Gooi dit uit in 'n rolkoekpan – ongeveer 1 cm dik – en plaas dit in die yskas om af te koel. Druk dit uit met 'n ronde koekiedrukker of sny in vierkante. Smeer met olie aan beide kante en braai vinnig om te verhit. Moet dit onder geen omstandighede in 'n riffelpan of plaat met openings braai nie. Dis hoe ek dit gedoen toe ek die foto's geneem het – sekondes nadat die foto geneem is het die polenta te sag geword en deur die openings geval. As jy nie 'n plat plaat het om dit op te braai nie – sit 'n pan op die vuur en braai daarin.
Eiervrug Sny eiervrug in skywe van 1 cm. Sprinkel met sout en laat in 'n vergiettes staan vir ten minste 15 minute. Spoel af en droog die eiervrugskywe af. Smeer met olie en braai aan beide kante tot dit deurskynend lyk en lekker sag is. Geur met sout en varsgemaalde swart peper terwyl dit braai.
Tamatiesous 1 ui, fyngekap 10 ml olie 1 blik (410 g) heel of gekapte tamaties 15 ml rooiwynasyn 5 ml suiker sout en varsgemaalde swart peper 5 ml gedroogde origanum of 15 ml vars, gekap 5 ml gedroogde basiliekruid of 15 ml vars, geskeur
Braai die ui in die verhitte olie totdat dit sag en deurskynend is. Voeg die tamatie, asyn en suiker by. Voeg ook kruie by, indien gedroogde kruie gebruik word. Kook vir 10 – 15 minute om die vloeistof weg te kook. Geur met sout en peper. Voeg die vars kruie aan die einde by, indien gebruik.
Kaas Begin, deur 'n mooi melkkoei aan te skaf, met 'n kampie in die agterplaas. Nee, nee – ontspan! Gebruik Cheddar-, Mozzarella- of fetakaas – of 'n mengsel daarvan. 100 g kaas – gemeng of nie – sal jou baie ver vat.
Vir die groente-byeenkoms: Maak nou hopies van die groentes van jou keuse. Botterskorsieskywe maak 'n lekker stewige onderkant. Sien ook die foto's vir idees. Die tamatiesous en die kaas dien as die gom om die hoop aan mekaar te hou.
Hierdie jaar het die 3e Nasionale Braaidag, op 24 September – ja, ook Erfenisdag – plaasgevind. Die idee is om dit 'n jaarlikse instelling te maak – 'n dag waarop álle Suid-Afrikaners saam – by hul onderskeie huise – braai. Jy kan enigiets braai op enige manier. As jy hierdie jaar se Nasionale Braaidag misgeloop het, kan jy solank vir volgende jaar begin oefen. Dis seker nie te veel gevra om jou nasionale trots te wys deur te braai nie? Begin sommer vandag oefen!
|