|
Vegetariese braai
Ek het dit so tentatief in my kop gehad dat mens
vir vegetariërs ook by 'n braai moet voorsien.
Nadat ek 'n artikel oor Nasionale Braaidag
raakgelees het, waarin Desmond Tutu voorstel dat
die vegetariërs moet staan en kyk, terwyl Jan
Scannell voorstel dat hulle mielies moet eet,
was ek oortuig.
Daar is verskeie groentesoorte wat baie goed kan
braai. Die idee is om 'n paar verskillende
groentes te braai – en dan met die hulp van 'n
ryk, lekker tamatiesous en kaas stacks te
maak met jou keuse van groente.
Jy kan maklik vir jou vegetariër-gaste voorsien
as jy die bogenoemde menu maak – die vleiseters
smeek eintlik as't ware om saam te eet! Haal net
die spek uit die spinasieslaai uit – verder is
dit a-okay!
Daar is 2 hoof-opsies waarvan jy stacks
kan maak:
Botterskorsieskywe
Aspersies
Sampioene
of
Polenta
Eiervrug
Tamatiesous
Maar om die waarheid te sê kan jy al die
verskillende soorte ook maak en jou gaste
aanmoedig om kreatief te wees.
Botterskorsieskywe
Sny botterskorsie in skywe van ongeveer 1 cm. Jy
hoef dit nie te skil nie – dit spaar baie tyd –
maar ek self verkies dit sonder die skil.
Plaas die skywe in 'n bak wat in die mikrogolf
mag gaan – voeg 'n bietjie water by en kook op
hoog vir 5 minute. Jy kan dit ook op die stoof
kook. Dit moet net begin sag word – dit moenie
heeltemal gaar wees nie. Bestryk met of doop in
olie en braai. Geur met suurlemoenpeper-sout.
Aspersies
Moenie vir een oomblik sê "jig" nie – veral nie
in my teenwoordigheid nie! Ek haat ook ingelegde
aspersies – ek dink dis 'n skande om dít aan 'n
aspersie te doen. Koop dun, groen aspersies –
dis glad nie soos die ingelegde weergawe nie.
Dis regtig heerlik gebraai met 'n skeut of twee
suurlemoensap, growwe sout en varsgemaalde swart
peper. Voor jy dit begin braai moet jy net elke
aspersie knak – gewoonlik nader aan die
onderkant – die punt waar dit skoon afbreek is
die deel wat jy moet weggooi. Dan het jy net die
varsste deel van elke aspersie en jy kan hulle
met ongeveer 5 ml ligte olyfolie bedek. Dit neem
ongeveer 10 minute om te braai – afhangend van
hoe dun hulle is. Terwyl dit braai kan jy dit
met die suurlemoensap, sout en peper geur.
Sampioene
Sien die Gebraaide sampioene met
suurlemoen-kruiebotter hier bo. As jy in elk
geval die boonste braai-menu maak, is dit 'n
goeie idee om vir almal die sampioene te maak.
Polenta
Koop polenta wat gereed vir gebruik is of maak
polenta volgens die pakkie se aanwysings aan.
Dit moet dik wees. Gooi dit uit in 'n rolkoekpan
– ongeveer 1 cm dik – en plaas dit in die yskas
om af te koel. Druk dit uit met 'n ronde
koekiedrukker of sny in vierkante. Smeer met
olie aan beide kante en braai vinnig om te
verhit. Moet dit onder geen omstandighede in 'n
riffelpan of plaat met openings braai nie. Dis
hoe ek dit gedoen toe ek die foto's geneem het –
sekondes nadat die foto geneem is het die
polenta te sag geword en deur die openings
geval. As jy nie 'n plat plaat het om dit op te
braai nie – sit 'n pan op die vuur en braai
daarin.
Eiervrug
Sny eiervrug in skywe van 1 cm. Sprinkel met
sout en laat in 'n vergiettes staan vir ten
minste 15 minute. Spoel af en droog die
eiervrugskywe af. Smeer met olie en braai aan
beide kante tot dit deurskynend lyk en lekker
sag is. Geur met sout en varsgemaalde swart
peper terwyl dit braai.
Tamatiesous
1 ui, fyngekap
10 ml olie
1 blik (410 g) heel of gekapte tamaties
15 ml rooiwynasyn
5 ml suiker
sout en varsgemaalde swart peper
5 ml gedroogde origanum of 15 ml vars, gekap
5 ml gedroogde basiliekruid of 15 ml vars,
geskeur
Braai die ui in die verhitte olie totdat dit sag
en deurskynend is. Voeg die tamatie, asyn en
suiker by. Voeg ook kruie by, indien gedroogde
kruie gebruik word. Kook vir 10 – 15 minute om
die vloeistof weg te kook. Geur met sout en
peper. Voeg die vars kruie aan die einde by,
indien gebruik.
Kaas
Begin, deur 'n mooi melkkoei aan te skaf, met 'n
kampie in die agterplaas. Nee, nee – ontspan!
Gebruik Cheddar-, Mozzarella- of fetakaas – of
'n mengsel daarvan. 100 g kaas – gemeng of nie –
sal jou baie ver vat.
Vir die groente-byeenkoms:
Maak nou hopies van die groentes van jou keuse.
Botterskorsieskywe maak 'n lekker stewige
onderkant. Sien ook die foto's vir idees. Die
tamatiesous en die kaas dien as die gom om die
hoop aan mekaar te hou.
Hierdie jaar het die 3e Nasionale Braaidag, op
24 September – ja, ook Erfenisdag – plaasgevind.
Die idee is om dit 'n jaarlikse instelling te
maak – 'n dag waarop álle Suid-Afrikaners saam –
by hul onderskeie huise – braai. Jy kan enigiets
braai op enige manier. As jy hierdie jaar se Nasionale Braaidag misgeloop
het, kan jy solank vir volgende jaar begin oefen.
Dis seker nie te veel gevra om jou nasionale
trots te wys deur te braai nie? Begin
sommer vandag oefen!
|