|
|
|

Maart
2009
Jaargang 1 Uitgawe
8 |
 |
 |
 |
 |
 |
|
|
|
|

deur
Wilna Myburgh
|
|
Béchamel, of soos ons gewone
mense dit noem – "witsous" – is
een van die vier moeder-souse
van die Franse kookkuns. Dié "moeder-souse"
is vier souse waarvan alle ander
souse in die Franse kookkuns
afkomstig is. So, dis nogal
belangrik! |
|
|
Kitsgids:
Groenpeperkorrelsous
Bloukaassoufflé
Kaaskrokette |
|

 |
|
|
Dit was 'n blousel-blou-maandag toe ek uitgevind
het dat mens pakkies witsous kry wat jy sommer
net so, sonder seremonie, aan kan maak. Dalk het
ek dit geweet, maar die gedagte doelbewus vermy.
Volgens my bronne is dit lekker as jy dit in
gebakte disse gebruik, en as jy die regte maak
in die hande kry. Dit het my egter tot aksie
gedwing, om hier 'n gedetailleerde,
stap-vir-stap resep vir witsous, of te wel,
béchamel, te gee. Ek hoop dat elkeen (ja, jy
weet wie jy is) dit ten minste een keer sal
probeer - daar is by my geen twyfel dat die
tuisgemaakte sous lekkerder sal wees as 'n
gekoopte pakkie nie. En dis ook nie moeilik nie,
regtig nie!
Die basiese stappe:
* Verhit die melk
Die melk word verhit sodat dit makliker meng
en nie klonte vorm nie. Gewoonlik gooi mens die
melk in 'n kastrol en verhit dit oor 'n lae
hitte. Dit moenie kook nie – dit moet net so
wil-wil 'n randjie aan die kant vorm, dan is dit
reg. Gooi dit dan uit en hou eenkant.
As geurmiddels kan jy 'n skyfie ui, 'n
lourierblaar en so 5 peperkorrels by die melk
gooi wanneer jy dit verhit. Dikwels gooi ek die
geurmiddels by en sit dit vir 1 – 2 minute in
die mikrogolfoond – hou dit net dop sodat dit
nie kook nie. Verwyder die geurmiddels voordat
jy die melk inmeng.
* Smelt die botter / margarien
Gooi die botter / margarien in 'n kastrol en
smelt oor 'n lae hitte. Dit moenie kook nie.
* Voeg die meel by
Gooi die meel by – alles in een gooi – en
meng met 'n draadklitser totdat al die meel
ingemeng is.
* Voeg die melk by
Gooi nou die verhitte melk by. Ek begin
gewoonlik eers net met die helfte en roer dit
dan met die draadklitser totdat daar geen klonte
is nie. Dan eers voeg ek die res van die melk
by.
As daar klonte is: verwyder die sous van die
hitte en gebruik 'n handklitser of kapper om die
klonte op te breek. 'n Gewone draadklitser
waarmee jy vinnig klits werk ook. Sit eers weer
op die hitte, as die klonte weg is.
* Kook
Bring tot kookpunt en prut vir 8 – 10
minute. Jy moet maar die heeltyd naby wees om te
roer, anders gaan dit oneweredig gaar word en
klonte maak. As die sous gaar is, begin dit
wegtrek van die kante. Jy kan dit ook proe – dit
moet glad nie na meel proe nie.
Proe net een keer as jy dit maak, direk nadat jy
al die bestanddele gemeng het, dan sal jy weet
hoe proe rou meel.
As jy, soos ek, baie van die lourierblaarsmaak
hou dan kan jy 'n blaar insit terwyl dit kook.
Maak net seker dat jy hom later verwyder.
* Geur
Voeg sout en peper by. Gebruik witpeper as
jy nie van swart spikkels hou nie. 'n Knypie
neutmuskaat is heerlik in witsous – veral as dit
met spinasie bedien word.
Hier is 'n tabel wat die mates vir verskillende
diktes sous aandui:
|
|
botter/margarien |
meel |
melk |
|
Dun |
10 ml |
15 ml |
250 ml |
|
Medium |
15 ml |
25 ml |
250 ml |
|
Dik |
30 ml |
50 ml |
250 ml |
Nou kan jy nog 'n stap aan beweeg en jou sous in
iets meer spesiaals verander.
Dun: Maak die sous dun, as jy dit oor groente of
vleis wil gooi. Dit beteken jy kan die basiese
sous vat en dit net so eet, of kaas bygooi. Of
enige variasie waaraan jy kan dink. As jy,
byvoorbeeld, sampioensous wil maak begin jy deur
die sampioene te braai en dan sommer die botter
/ margarien daarby te voeg en van daar af die
sous te maak. |
|

Die is een van my gunstelinge – dit het 'n
lekker skerp smaak en is heerlik saam met
varktjops, biefstuk, aartappels, groente en
sommer enigiets anders.
10 ml botter / margarien
15 ml meel
250 ml melk
lourierblaar, skyfie ui, peperkorrels
15 ml groenpeperkorrels
5 ml heelkorrelmosterd
knypie neutmuskaat
sout en peper
Breek die peperkorrels met 'n stamper en vysel
of kap dit met 'n mes. Van die korrels mag maar
heel bly. |

Terug na
kitsgids |
|
Volg die basiese metode vir witsous hierbo, met
die hoeveelhede vir dun witsous. Wanneer dit
begin kook, voeg die groenpeperkorrels en
mosterd by.
Kook, geur en bedien.
As jy dit voor die tyd maak, hou dit in die
kastrol en laat dit net vinnig weer opkook
voordat jy dit bedien.
Medium: 'n Sous wat nie te dik of te dun is nie,
is net reg vir soufflé. Dis ook die dikte wat
meesal vir lasagna en moussaka gebruik word.
|
|

Ek haat dit om soufflé vir mense te maak – dis
hopeloos te stresvol! Daarmee sê ek egter nie
dat dit onmoontlik of sleg is nie. Nee, dis
regtig eintlik vinnig om te maak en dit smaak
heerlik. Ek is nie die wêreld se grootste
bloukaas-eter nie, maar hierin is dit regtig net
'n ligte, lekker smaak. As jy gek is daaroor,
kan jy tot 100 g kaas insit. As jy nie daarvan
hou nie, probeer dit met enige ander kaas –
fetakaas is altyd 'n treffer.
Onthou dat jy die eierwitte moet klits net
voordat jy die soufflé in die oond sit, en dat
jy dit in die oond moet sit as jy gereed is om
te eet – soufflé wag vir niemand nie!
15 ml margarien / botter
25 ml meel
250 ml melk
50 g bloukaas, in klein blokkies of gekrummel
2 ml heelkorrelmosterd
sout en peper
2 eiergele
3 eierwitte |

Terug na
kitsgids |
|
Om bakkies uit te voer:
broodkrummels
waspapier
tou
Smelt die botter / margarien in 'n kastrol, op
die stoof. As dit gesmelt is, voeg die meel by
en roer tot dit deurgemeng is. Gooi dan die melk
bietjie-vir-bietjie by. Meng telkens goed, sodat
dit nie klonte vorm nie. Prut vir 8 – 10 minute,
terwyl jy voortdurend roer.
Verwyder van die hitte en voeg kaas, mosterd,
sout en peper na smaak by. Laat staan eenkant om
effens af te koel, terwyl jy die bakkies gereed
kry.
Kry 4 ramekins / bakkies met 'n volume
van 125 ml elk en smeer goed. Gooi dan 'n
bietjie broodkrummels in en draai die bakkie om
en om, totdat dit goed bedek is. Gooi die
oorskiet in die volgende bakkie en voeg nog by
totdat al die bakkies reg is.
Sny nou waspapier, sodat dit ongeveer 5 cm bo
die bakkie kan uitstaan. Draai dit om die bakkie
en bind dit met 'n tou vas.
Verhit die oond tot 180 ˚C.
Gooi nou die eiergele een vir een by die
witsousmengsel en meng goed.
Klits die eierwitte totdat dit sagte punte vorm.
Voeg dadelik die helfte by die witsousmengsel en
roer liggies deur. As dit net-net gemeng is,
gooi die res van die eierwit by en meng weer
liggies. Verdeel dan die mengsel tussen die 4
bakkies.
Bak vir 18 – 20 minute totdat dit goudbruin bo-op
is. Bedien met pere in balsemieke asyn en
heuning. Vir 'n ligte middagete kan jy die pere
op slaaiblare eet.
Pere in
balsemieke asyn en heuning
Hierdie pere is so vinnig om te maak, jy gaan
nie eens agterkom dat jy dit doen nie! Dis
heerlik saam met die bloukaassoufflé. Jy kan dit
ook saam met camembert, brie en verouderde
cheddar geniet.
1 peer, skil en sny in skyfies
5 ml botter / margarien
15 ml balsemieke asyn
10 ml heuning of bruinsuiker
Braai die peer in die botter / margarien vir 1
minuut. Voeg die asyn en heuning by en laat dit
vinnig kook totdat dit begin dik word - net so 2
minute.
Dik: So 'n vreeslike dik sous word nie dikwels
gebruik nie. Dis egter perfek vir kaaskrokette.
Vir 'n vinnige versnaperinkie, kan jy ook klein
tertjies daarmee maak. Maak die sous en geur dit
met kaas, of net wat jou hart begeer, en laat
dit afkoel. Jou hart kan maar regtig enigiets
begeer – gebraaide spek, sampioene, spinasie,
pampoen en fetakaas . . . Voeg 1 eier by vir
elke koppie witsous wat jy maak. Smeer klein
muffinpannetjies. Druk sirkels uit skilferkors,
druk dit in die holtes en skep vol met die
gegeurde sous. Bak by 180 °C vir 15 – 18 minute. |
|

Die Belgiese
kaaskroketjes is 'n wonderlike ding: 'n dik,
ryk kaassous word in blokkies / balletjies
gevorm, in broodkrummels gerol en dan in diepvet
gebraai. Hierdie is lekker as "borrelhappies" om
saam met 'n drankie te geniet, as 'n klein
voorgereg, of 'n tweede gereg met slaai by of
met chips as 'n ligte ete. Begin jy verstaan wat
die enigste vereiste is? Eet dit net!
30 ml botter / margarien
50 ml meel
250 ml melk
250 g kaas (Cheddar, Emmentaler, Gruyère, of 'n
mengsel) *
2 eiergele
knypie neutmuskaat
sout en peper
5 ml aangemaakte mosterd
100 g meel
2 eierwitte, klits liggies
100 g broodkrummels
sonneblomolie, om te diepbraai |

Terug na
kitsgids |
|
Maak 'n dik witsous, soos die instruksies bo
aandui. Voeg die kaas by terwyl dit nog warm is
en laat dan afkoel. Geur met neutmuskaat, sout,
peper en mosterd.
Wanneer die sous nie meer vuurwarm is nie, voeg
die eiergele by en meng deeglik.
Gooi die mengsel in 'n bak, wat met
kleefplastiek uitgevoer is, sodat dit omtrent 2
cm dik is. Bedek met kleefplastiek en laat in
die yskas oornag tot twee nagte**.
As die sous oornag het en styf is, kan jy dit
omdop op 'n broodkrummel-bestrooide blad. Sny
nou in blokkies van so 2 x 2 cm – jy kan dit
blokkies hou, of in balletjies rol. Jy kan dit
ook groter maak – langwerpig, ovaal, peervormig
– dit maak nie 'n verskil nie!
Kry nou 3 bakkies gereed – in een moet die meel
gereed staan, die volgende die eierwitte en die
volgende een met die broodkrummels.
Bedek nou die "vormpies" met meel, doop dit in
die eierwit en rol dit in die broodkrummels. Sit
dit eenkant op 'n bord neer en plaas al die
bedekte bondeltjies in die yskas.
Verhit nou die olie in 'n diep pan, of
diepvetbraaier tot 190 °C. Dit moet lekker warm
wees, sodat die krokette bruin word, sonder dat
die kaas begin uitloop. Braai dan die krokette,
'n paar op 'n slag, totdat hulle goudbruin is.
Dit neem ongeveer 3 minute, maar hou hulle dop.
Dreineer op handdoekpapier. Smul.
* Jy kan natuurlik bietjie rondspeel en fyn
gerasperde ham, groente of ander kase (soos
parmesan) by die kaassous gooi.
** As jy ook met vooruitbeplanning sukkel, kan
jy die sous vir ongeveer een – twee ure in die
vrieskas plaas. Vries die balletjies / blokkies
dan net weer nadat jy dit in die meel en
broodkrummels gedoop het, voor jy dit braai.
|
|
|
e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy
uit
het
jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
|
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel
Boekmerk dié bladsy
|
|
|
|
Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!
[ jouapplous ] [ jouhoofstories ] [ jousê ] [ jourubrieke ] [ joupolitiek ] [ joumenswees ] [ joutuisblad ] [ joukontrei ] [ jouleefstyl ] [ joufiksie ] |
|
|
|
|
|
Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier! |
|
|
|