|
In sonnige Suid Afrika lê die wrede seemonster
gereed om op kinders toe te slaan – en dit is
veral op die strand en langs die swembad waar hy
opsoek is na jong bloedjies wat hy kan byt.
Die sonnige seemonster beskadig die kleingoed se
selle in die vel, en wanneer hulle groot word
groei tentakelrige, stekelrige kankerselle. Dié
selle kan die kinders doodmaak, maar hulle sterf
eers as volwassenes.
Sjoe, dis darem donker? Maar dis wat gebeur. Die
meeste velbeskadiging deur die son vind voor 18
jaar plaas en manifesteer eers in volwassenheid.
Velkanker kan voorkom word, maar onthou: dit
moet baie vroeg begin word. Daarom lê die
voorkoming daarvan by die ouers en onderwysers.
Hoe jaag ek die seemonster weg?
'n Breë spektrum (UVB en UVA) sonskerm met 'n
15+ SPF moet gereeld en dik aangewend word. Hoe
meer jy aansmeer hoe beter. Smeer aan 20 minute
voordat jou kind buitentoe gaan en herhaal
uurliks. Onthou dat sonskerm maklik afvryf en
afspoel.
Jy kan 'n sinkroom vir ekstra beskerming op
klein areas, soos die neus en lippe, vir 'n
total blockout gebruik.
Skadu
Belê in bome, sambrele, sonbrille en hoede en
hou jou gesin soveel as moontlik in die skadu.
Moedig sommer die skool ook aan om bome langs
die sportveld te plant.
Dit is noodsaaklik om die vel rondom jou en jou
gesin se oë met 'n goeie kwaliteit sonbril te
beskerm, aangesien velkanker algemeen rondom die
ooggedeeltes voorkom.
Koop vir elkeen in die gesin 'n krieket-tipe
hoed. Maak seker dat jou kleinding se hoed
gemaklik is: hy moet goed kan sien, en die hoed
moenie tydens aktiwiteite afval nie.
Jou klere beskerm ook jou vel, daarom is dit
verkieslik om klere te kies waarvan die
materiaal nie te los geweef is nie. Hemde moet
'n kraag en moue hê.
Lospassende klere is altyd 'n wenner by kinders
tydens die somervakansie, aangesien dit heerlik
koel is.
Sport en speletjies
Strandsport en spanspeletjies rondom die swembad
is 'n baie gewilde tydverdryf tydens die
somervakansie – maar ook die ideale plek vir die
sonmonster om toe te slaan!
Motiveer jou kinders om dit eerder tydens die "veiliger"
tyd van die dag – met ander woorde voor 11
soggens en na 3 in die middag – te doen.
Sonskerm wat in houers met 'n pompaksie verpak
word, is ideaal vir kinders.
Dis meer ekonomies en die aanwending daarvan is
moeitevry. Dis boonop 'n maklike manier om 'n
goeie gewoonte vir die kinders aan te leer.
Onthou
Sonskerm verslaan gou – koop
dus eerder elke somer 'n nuwe houer sonskerm.
Die standaard T-hempmateriaal bied slegs
beskerming van ongeveer SPF 3 - 6
Sonskerm moet op 'n droë vel aangesmeer word.
Geen sonskerm is werklik waterbestand nie, al
wil die inligting op die houer dit ook beweer.
Kinders wat in die water boer, moet dus meer
gereeld 'n sonskerm-toediening ontvang.
Die SPF wat op die bottel verskyn word teen
2mg/cm² bepaal en getoets. So jy moet altyd
seker maak dat jy 'n dik genoeg lagie 'tussen'
jou en die son opsit.
Sonskerm wat in die paneelkissie van jou motor
gebêre word, verloor vinnig sy effektiwiteit.
Hoe nader aan die hemel en die ewenaar, hoe hoër
is die UV-radiasie.
Beskerm jou kinders ook op bewolkte dae: 90% van
die ultravioletstrale penetreer ligte wolke.
Beperk blootstelling aan die skerp sonlig tussen
10 vm. en 3 nm.
Dit maak nie saak of die sonskerm 'n room,
sproei of stokkie is nie. Elkeen verkies iets
anders.
Al speel die kinders in die skadu, moet jy in
gedagte hou dat UV-strale gereflekteer word deur
water, sand, sneeu, glas en ander liggekleurde
oppervlaktes, soos beton.
Dit is ouers se
verantwoordelikheid om hul kinders teen die
felheid van die son te beskerm. Onthou, boeta en
sussie is al uit die huis en getroud, dan eers
slaan die velkanker toe as gevolg van skade wat
as kind opgedoen is
Let op:
Moenie met jou kinders se gesondheid speel nie –
velkanker kan lewensgevaarlik wees.
Ondersoek jou kinders se velle gereeld en let op
vir enige verandering in 'n spesifieke area van
die vel, soos jeuk, swelling, bloeding of 'n
wond wat nie wil genees nie. Wanneer moesies
verander van vorm, onreëlmatige randte ontwikkel,
of verdonker of begin bloei, kan dit ook 'n
gevaarteken wees.
Gaan sien onmiddellik 'n velspesialis.
|