|
Hoe ouer kinders word, hoe moeiliker is dit om
hulle besig te hou. Tog het jy net 5 weke wat
hulle by die huis is, dan gaan dit weer só wild
en besig dat 'n mens hul soms langs die pad
verloor.
Maak van dié vakansie gebruik om spesiale- en
kwaliteittyd aan jou kinders te gee, deur
allerhande pret-aktiwiteite saam te doen.
Om 'n pret-vakansie te geniet, beteken nie
noodwendig dat julle móét weggaan nie – deur die
regte aktiwiteitspyskaart uit te werk, kan dit
net so lekker tuis wees. Dit beteken ook nie dat
jy baie geld hoef te spandeer nie – inisiatief
en samesyn kos niks!
Hier is 'n paar idees:
●
Bied jul hulp by die DBV aan. Behalwe dat dié
organisasie elke moontlike hulp sal waardeer, is
dit ook terapeuties van aard om met
weggooi-diere, wat soveel liefde benodig én ook
gee, te werk. Onthou om foto's te neem!
●
Nooi vriende vir 'n teeparty – verras hulle deur
self 'n koek te bak. Dit is glad nie so moeilik
nie, al het jy twee linkerhande voor die stoof.
Gaan kyk in die meel-afdeling van jou plaaslike
supermark: daar is verskillende pre-mix
meelpakkies, vir elke denkbare gebak beskikbaar.
Dit is goedkoop, vinnig en flatervry. Moet net
nie jou gaste van jou pre-mix-geheim
vertel nie!
●
Besoek parke en museums in jou omgewing waar
julle nog nooit was nie. Mens hoef nie honderde
kilometers ver te ry om in die buitelug te wees,
of om geskiedkundige plekke te besoek nie.
Dikwels is dit sommer daar op jou voorstoep,
sonder dat jy daarvan bewus is. Jou plaaslike
toerismekantoor sal met graagte help.
●
Maak beurte sodat elke gesinslid 'n geleentheid
kry om iets spesiaal vir aandete voor te berei.
Maak jou eie pret-ondervinding, na gelang van
voorkeur: die een gesinslid sal byvoorbeeld
niemand in die kombuis wil toelaat nie, sodat sy
ete 'n verrassing tot op die laaste bly, terwyl
die ander een weer sal verkies dat die hele
gesin saam in die kombuis kuier. Daar is talle
disse, soos bv. spaghetti bolognaise, wat maklik
en goedkoop is om te maak.
●
Bak pannekoek op 'n reënerige dag. Dis groot
pret. Maak die deeg aan en laat elkeen sy eie
pannekoeke bak. Hou 'n wedstryd en kyk wie kan
die meeste pannekoeke in die lug omgooi.
●
Hou 'n speletjies-aand. Dit is ongelukkig 'n
gewoonte wat by die moderne gesin uitgesterf het,
maar dit is iets wat van onskatbare waarde vir
die ontwikkeling van die kind, en die
verstewiging van gesinsbande is. Slangetjies en
leertjies, Monopoly, Mad, kaarte, skaak, dambord
of dominoes werk die lekkerste.
●
Laat die kinders 'n fliek-aand reël. Neem DVD's
uit en bederf julself met tuisgemaakte
springmielies en ander eetgoed soos geroosterde
kaasbroodjies en skyfies. Onthou: alles moet
tuisgebak week – want dit is deel van die jolyt!
●
Maak 'n collage van ou familie- en
vakansiefoto's. Dit kan ook 'n baie oulike en
oorspronklike geskenk wees.
●
Kinders, onthou om foto's te neem van al jul
aktiwiteite as 'n gesin saam dié vakansie. As jy
lus het, kan jy ook sommer 'n collage daarvan
maak. Eendag as jy kinders het, kan hulle dan
sien hoe jou lekkerste vakansie ooit gelyk het!
|