|
Vir baie gesinne beteken vakansietyd ongelukkig
ook 'n tyd van gedeelde huise, wat nie net
implikasies vir die kinders het nie, maar ook
vir die ouers én die nuwe stiefouers.
Die veronderstelling is dat twee liefdesmaats
met mekaar in die eg treë nié om maar net later
weer te skei nie, maar om vir die res van hul
lewe bymekaar te bly. Ongelukkig eindig baie
huwelike in die skeihof, met 'n verbrokkelde
gesins- en familielewe die gevolg en met die
kinders wat die meeste daaronder lei. In ander
gevalle word die eenheid van die gesin opgebreek
wanneer een van die ouers sou sterf.
Tyd genees in die meeste gevalle egter ou wonde
en vinnig ontmoet Pa of Ma weer iemand anders
met wie hulle hul lewe vorentoe wil deel.
Skielik word 'n nuwe familie gevorm. Vir die
kind beteken 'n nuwe man of vrou in die huis ook
'n stiefpa of stiefma – met wie hulle nie
noodwendig oor die weg sal kom nie.
Daarom voel die meeste kinders ontsteld,
hartseer en selfs ook bang vir die groot
verandering wat gaan plaasvind wanneer 'n
stiefpa of –ma by die huis intrek. Dié emosies,
waarmee kinders gewoonlik nie sonder
professionele hulp kan deel nie, word dikwels
verplaas na rebelsheid en 'n dikbekhouding, wat
weer verdere stremming op die nuwe huisgesin
plaas.
Dié probleme is egter nie net beperk tot die
kind nie: dikwels sukkel volwassenes ook om die
situasie van 'n stiefkind in die huis te hanteer.
Dit is in die meeste gevalle die gewoonte dat
kinders uit geskeide huise elke tweede naweek en
vakansie by die ander huis – saam met die nuwe
stiefpa of –ma – moet gaan woon. Ongelukkig word
dié tye bederf deur situasies waar die
verskillende partye nie met mekaar oor die weg
kan kom nie.
Dit hoef egter nie so te wees nie: as jy jouself
motiveer om hierdie vakansie liefde na te streef
ten spyte van al die ander gesinslede – nuut en
oud – dan is die stryd al halfpad gewen!
Geen oorlog
Al is jy ongemaklik
met die nuwe bygevoegde gesinslede, beteken dit
nie jy moet 'n oorlogsverklaring uitreik nie!
Dis belangrik om tyd toe te laat om mekaar eers
te leer ken. Onthou: almal in die bygevoegde
gesin – kinders én volwassenes – moet
aanpassings maak.
Moenie jouself so met negatiewe gedagtes vul dat
jy gereed voel om oorlog toe te gaan nie –
vakansietyd is 'n tyd om bymekaar te wees, nie
om met mekaar te baklei nie.
Strewe na rustigheid en laat wrokke agter bly.
As jy regtig nie oor iets kan kom wat gesê is of
gebeur het nie, moet jy dit met die ander
gesinslede deel sodat almal kan weet hoe elkeen
voel.
Die enigste wapen in 'n gesin is die liefde –
dit oorwin altyd. Dis net liefde wat liefde wek.
Vrae wat pla
Dis belangrik om alle vrae op te los. As jy
vakansie na vakansie jouself oor dieselfde dinge
opwerk, is dit nou die tyd om oop te maak en dit
uit te sorteer.
Een van die vraagstukke wat al baie onmin
veroorsaak het, is hoe om die nuwe ouer aan te
spreek. Dit is belangrik om vir jou self te
beskryf wat jou bepaalde naam vir jou nuwe ouer
vir jou beteken. Jy wil haar dalk nie "ma" noem
nie, omdat dit nie jou regte ma is nie. Of jy
wil haar ook nie op die naam noem nie, want dit
sal jou pa seermaak. Hierdie saak moet deeglik
vooraf bespreek word en almal moet gemaklik wees
met die besluit, sodat daar nie enige
onsekerheid of bybedoelings is nie.
Sal jy nou die nuwe pa of ma se reëls moet
gehoorsaam? Jy moet onthou dat die nuwe ouer net
soos ander volwassenes – bv. jou onderwyser en
sportafrigter – is.
Saam met wie moet jy op vakansie gaan en waar
gaan jy vir Kersfees wees? Hierdie vrae kan 'n
mens baie onseker laat voel. Vra jou ouers om 'n
skedule vir jou op te stel, sodat daar vir jou
duidelikheid kan wees.
Gaan jou pa na 'n nuwe huis trek as hy weer trou?
Wat gaan van jou goed word? Dit is alles dinge
wat vooraf bespreek moet word.
Onthou dat jou ouers slegs jou vrae sal kan
beantwoord indien jy hulle vra.
Die
probleme steek kop uit
As jy en jou stiefouer nie met mekaar oor die
weg kom nie, help dit nie jy wens alles was weer
soos voorheen nie. Vra jouself af wat jou
werklik pla. As jy verlang na alleentyd saam met
jou eie ma of pa, moet jy dit sê. Jy deel nou
aandag, maar nie liefde nie. Hulle is nog net so
lief soos altyd vir jou! As die deel van die
huis 'n probleem is omdat jy byvoorbeeld nooit
'n beurt voor die TV kry nie, moet jy dit rustig
aan hulle verduidelik. Selfs reëls wat nie vir
jou aanvaarbaar is nie kan bespreek word. As jou
ouers geskei is, sal daar nou van jou verwag
word om by elke huis effens verskillende
gebruike en reëls te volg. Kry duidelikheid wat
presies van jou verwag word en onderhandel
indien iets vir jou onaanvaarbaar is.
Dit is goed om gesinvergaderings te hou waar
probleme bespreek kan word. Tydens hierdie
geselssessies moet daar egter nie geskree word
nie. Julle moet ook nie mekaar beledig nie, en
vermy sinne wat met "Jy is . . ." begin.
Hierdie gesprekke moet gehou word om werklike
probleme duidelik uit te spel en dan na
oplossings te soek.
Indien jy steeds na 'n tyd bitter ongelukkig is
met die verloop van sake in die huis, is dit dan
tyd vir 'n ernstige gesprek met jou eie ouer, of
dalk ook die stiefouer.
Dit sal help om die probleme wat jy wil bespreek,
eers voor die tyd vir jouself neer te skryf.
Moenie skree nie, maar wees eerlik en duidelik.
Dit is altyd goed om 'n terapeut of berader te
gaan spreek. Hierdie mense ken die werking van
'n gesin en is nie betrokke by julle nie. Hy of
sy kan objektief raad gee en ook luister na jou
probleem.
Onthou dat probleme nie weg sal gaan as jy dit
ignoreer nie.
Aan punt
van die reënboog
Daar is tweede huwelike en nuwe uitgebreide
gesinne wat baie goed werk. Dit neem egter tyd,
geduld en baie gesprekke. Eendag sal jy dalk jou
oë oopmaak en nie kan glo dat jou lewe so lekker
is nie!
As jy van jou stiefouer hou, beteken dit glad
nie dat jy jou eie ma of pa minder liefhet nie.
In 'n gesin is daar liefde – en nie kompetisie
nie.
Dis belangrik om te onthou dat die werking van
'n suksesvolle gesin is om mekaar te verstaan.
'n Mens kan net iemand anders verstaan as jy hom
of haar ken, en dit gebeur net as julle gereeld
met mekaar kommunikeer en mekaar probeer
verstaan.
Konsentreer op die goeie, want dit bring 'n mens
nader aan mekaar. Wanneer die gesin gelukkig is,
is jy ook gelukkig.
Elke vakansie by enige huis KAN lekker wees!
Geniet hiérdie een sommer gate uit! |