Desember 2008
Jaargang 1 Uitgawe 5

 


  
Nuwe uitgebreide gesin kan die vakansie verwoes

joukind
hoofinhoud
terug na joukind
volgende artikel
vorige artikel


deur
Karin Bain

e-pos die skrywer


deur Rosa Myburgh

e-pos die skrywer
e-pos jouwêreld

Dit is die gewoonte dat kinders uit geskeide huise elke tweede naweek en vakansie by die ander huis – saam met die nuwe stiefpa of -ma – moet gaan woon. Ongelukkig word dié tye bederf deur situasies waar die verskillende partye nie met mekaar oor die weg kan kom nie.
Dit hoef egter nie so te wees nie: as jy jouself motiveer om hierdie vakansie liefde na te streef ten spyte van al die ander gesinslede – nuut en oud – dan is die stryd al halfpad gewen!

(Foto: http://www.sxc.hu/)

Vir baie gesinne beteken vakansietyd ongelukkig ook 'n tyd van gedeelde huise, wat nie net implikasies vir die kinders het nie, maar ook vir die ouers én die nuwe stiefouers.

Die veronderstelling is dat twee liefdesmaats met mekaar in die eg treë nié om maar net later weer te skei nie, maar om vir die res van hul lewe bymekaar te bly. Ongelukkig eindig baie huwelike in die skeihof, met 'n verbrokkelde gesins- en familielewe die gevolg en met die kinders wat die meeste daaronder lei. In ander gevalle word die eenheid van die gesin opgebreek wanneer een van die ouers sou sterf.

Tyd genees in die meeste gevalle egter ou wonde en vinnig ontmoet Pa of Ma weer iemand anders met wie hulle hul lewe vorentoe wil deel. Skielik word 'n nuwe familie gevorm. Vir die kind beteken 'n nuwe man of vrou in die huis ook 'n stiefpa of stiefma – met wie hulle nie noodwendig oor die weg sal kom nie.
Daarom voel die meeste kinders ontsteld, hartseer en selfs ook bang vir die groot verandering wat gaan plaasvind wanneer 'n stiefpa of –ma by die huis intrek. Dié emosies, waarmee kinders gewoonlik nie sonder professionele hulp kan deel nie, word dikwels verplaas na rebelsheid en 'n dikbekhouding, wat weer verdere stremming op die nuwe huisgesin plaas.
Dié probleme is egter nie net beperk tot die kind nie: dikwels sukkel volwassenes ook om die situasie van 'n stiefkind in die huis te hanteer.

Dit is in die meeste gevalle die gewoonte dat kinders uit geskeide huise elke tweede naweek en vakansie by die ander huis – saam met die nuwe stiefpa of –ma – moet gaan woon. Ongelukkig word dié tye bederf deur situasies waar die verskillende partye nie met mekaar oor die weg kan kom nie.
Dit hoef egter nie so te wees nie: as jy jouself motiveer om hierdie vakansie liefde na te streef ten spyte van al die ander gesinslede – nuut en oud – dan is die stryd al halfpad gewen!

Geen oorlog

Al is jy ongemaklik met die nuwe bygevoegde gesinslede, beteken dit nie jy moet 'n oorlogsverklaring uitreik nie!

Dis belangrik om tyd toe te laat om mekaar eers te leer ken. Onthou: almal in die bygevoegde gesin – kinders én volwassenes – moet aanpassings maak.
Moenie jouself so met negatiewe gedagtes vul dat jy gereed voel om oorlog toe te gaan nie – vakansietyd is 'n tyd om bymekaar te wees, nie om met mekaar te baklei nie.
Strewe na rustigheid en laat wrokke agter bly. As jy regtig nie oor iets kan kom wat gesê is of gebeur het nie, moet jy dit met die ander gesinslede deel sodat almal kan weet hoe elkeen voel.

Die enigste wapen in 'n gesin is die liefde – dit oorwin altyd. Dis net liefde wat liefde wek.


Vrae wat pla

Dis belangrik om alle vrae op te los. As jy vakansie na vakansie jouself oor dieselfde dinge opwerk, is dit nou die tyd om oop te maak en dit uit te sorteer.

Een van die vraagstukke wat al baie onmin veroorsaak het, is hoe om die nuwe ouer aan te spreek. Dit is belangrik om vir jou self te beskryf wat jou bepaalde naam vir jou nuwe ouer vir jou beteken. Jy wil haar dalk nie "ma" noem nie, omdat dit nie jou regte ma is nie. Of jy wil haar ook nie op die naam noem nie, want dit sal jou pa seermaak. Hierdie saak moet deeglik vooraf bespreek word en almal moet gemaklik wees met die besluit, sodat daar nie enige onsekerheid of bybedoelings is nie.

Sal jy nou die nuwe pa of ma se reëls moet gehoorsaam? Jy moet onthou dat die nuwe ouer net soos ander volwassenes – bv. jou onderwyser en sportafrigter – is.

Saam met wie moet jy op vakansie gaan en waar gaan jy vir Kersfees wees? Hierdie vrae kan 'n mens baie onseker laat voel. Vra jou ouers om 'n skedule vir jou op te stel, sodat daar vir jou duidelikheid kan wees.

Gaan jou pa na 'n nuwe huis trek as hy weer trou? Wat gaan van jou goed word? Dit is alles dinge wat vooraf bespreek moet word.

Onthou dat jou ouers slegs jou vrae sal kan beantwoord indien jy hulle vra.

Die probleme steek kop uit

As jy en jou stiefouer nie met mekaar oor die weg kom nie, help dit nie jy wens alles was weer soos voorheen nie. Vra jouself af wat jou werklik pla. As jy verlang na alleentyd saam met jou eie ma of pa, moet jy dit sê. Jy deel nou aandag, maar nie liefde nie. Hulle is nog net so lief soos altyd vir jou! As die deel van die huis 'n probleem is omdat jy byvoorbeeld nooit 'n beurt voor die TV kry nie, moet jy dit rustig aan hulle verduidelik. Selfs reëls wat nie vir jou aanvaarbaar is nie kan bespreek word. As jou ouers geskei is, sal daar nou van jou verwag word om by elke huis effens verskillende gebruike en reëls te volg. Kry duidelikheid wat presies van jou verwag word en onderhandel indien iets vir jou onaanvaarbaar is.

Dit is goed om gesinvergaderings te hou waar probleme bespreek kan word. Tydens hierdie geselssessies moet daar egter nie geskree word nie. Julle moet ook nie mekaar beledig nie, en vermy sinne wat met "Jy is . . ." begin.
Hierdie gesprekke moet gehou word om werklike probleme duidelik uit te spel en dan na oplossings te soek.

Indien jy steeds na 'n tyd bitter ongelukkig is met die verloop van sake in die huis, is dit dan tyd vir 'n ernstige gesprek met jou eie ouer, of dalk ook die stiefouer.
Dit sal help om die probleme wat jy wil bespreek, eers voor die tyd vir jouself neer te skryf.
Moenie skree nie, maar wees eerlik en duidelik.

Dit is altyd goed om 'n terapeut of berader te gaan spreek. Hierdie mense ken die werking van 'n gesin en is nie betrokke by julle nie. Hy of sy kan objektief raad gee en ook luister na jou probleem.

Onthou dat probleme nie weg sal gaan as jy dit ignoreer nie.

Aan punt van die reënboog

Daar is tweede huwelike en nuwe uitgebreide gesinne wat baie goed werk. Dit neem egter tyd, geduld en baie gesprekke. Eendag sal jy dalk jou oë oopmaak en nie kan glo dat jou lewe so lekker is nie!
As jy van jou stiefouer hou, beteken dit glad nie dat jy jou eie ma of pa minder liefhet nie. In 'n gesin is daar liefde – en nie kompetisie nie.
Dis belangrik om te onthou dat die werking van 'n suksesvolle gesin is om mekaar te verstaan. 'n Mens kan net iemand anders verstaan as jy hom of haar ken, en dit gebeur net as julle gereeld met mekaar kommunikeer en mekaar probeer verstaan.
Konsentreer op die goeie, want dit bring 'n mens nader aan mekaar. Wanneer die gesin gelukkig is, is jy ook gelukkig.

Elke vakansie by enige huis KAN lekker wees! Geniet hiérdie een sommer gate uit!

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joukind
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ] tuisbladsy ]