Desember 2008
Jaargang 1 Uitgawe 5

 


  
Handjies klap, koekies bak

joukind
hoofinhoud
terug na joukind
volgende artikel
vorige artikel


deur
Wilna Myburgh

e-pos die skrywer
e-pos jouwêreld

Met dié maklike resep kan die jongklomp in 'n japtrap hul eie helderkleurige koekies bak – om te eet én om aan die kersboom te hang!

Wat is nou lekkerder as om jou eie koekies te bak? Hierdie koekies is perfek om aan die kersboom te hang of as geskenke te gee. By supermarkte kry jy verskillende vorms om koekies mee uit te druk.

Daar is egter 'n paar reëls wat jy moet weet voordat jy begin bak:

* Was altyd jou hande voordat jy begin koekbak.
* Trek 'n voorskoot aan – dit help om jou klere skoon te hou.
* Kyk na die resep en kyk of jy alles het wat jy nodig het om die koekies te bak.
* As jy warm panne moet hanteer – onthou jou oondhandskoene of vatlappies. Wees versigtig – vra eerder jou ma of ousus om te help.
* Vra altyd eers vir jou ma of jy koekies mag bak en onthou om na die tyd op te ruim.
* As jy mors vee dit dadelik op.
* Lees die resep versigtig deur en kyk of jy verstaan wat jy moet doen. Vra ma om saam met jou te lees en te verduidelik waar nodig.

Reëls vir ma's

* Wees by jou kind al sit jy nou 'n tydskrif en lees – wees daar!
* Moenie met jou kinders raas as hulle dalk mors nie – dit is hoe mens leer
* Kinders wat van kleinsaf handig is in die kombuis help makliker as hulle groot is.
* Geniet dit saam met jou kind!

Resep vir soetkoekies

2/3 koppies (160 ml) margarien
¾ koppie (180 ml) suiker
2.5 ml vanielje
1 eier
15 ml melk
2 koppies meel
10 ml bakpoeier
1 ml sout

Room margarien, suiker en vanielje. Voeg die eier en melk by.
Sif meel, bakpoeier en sout.
Voeg dit by die margarienmengsel. Meng dit deeglik.

Deel die deeg in 2 dele. Plaas op waspapier, vou toe en plaas in yskas vir 1 uur of in die vrieskas vir 20 minute as jy haastig is.

Skakel die oond op 180 °C.
Neem die deeg uit die yskas. Haal dit uit die papier en rol op 'n meelbestrooide oppervlak uit. Dit werk makliker as jy elke keer net 'n klein stukkie deeg neem.

Druk vormpies uit. Plaas op 'n bakplaat en druk 'n gaatjie aan die bokant in met 'n strooitjie as jy dit aan die kersboom wil hang. Smeer met eierglasuring as jy wil - kyk na die verskillende maniere waarop jy die koekies kan versier.

Bak vir 6 minute. Haal versigtig uit die oond en plaas op 'n rakkie om af te koel.

Daar is verskillende maniere om jou koekies te versier:

1. Eierglasuring

Meng 1 eiergeel met 5 ml water. Roer met 'n vurk om te meng.

Verdeel die mengsel tussen verskillende klein bakkies.

Nou kan jy by elke bakkie 'n ander kleur voedselkleursel gooi.

Verf met 'n sagte kwassie die koekies voordat jy hulle in die oond sit.

Wanneer die koekies uit die oond kom en afgekoel het, kan jy hulle ook met van die kleurvolle versiersuiker versier.

2. Vensterkoekies

Om kleurvolle venstertjies in jou koekies te maak, doen die volgende:
Druk koekies met 'n groot drukker uit, soos 'n groot sirkel of 'n groot ster. Druk dan met 'n kleiner sterdrukker, of ander drukker, 'n gat in die middel van die koekies.

Sit harde suiglekkers in 'n plastieksakkie en slaan hulle met 'n koekroller stukkend. Maak nou die gaatjie in die koekie met die stukkies vol. Jy kan al die kleure meng of die kleure apart hou.

Bak dieselfde as die gewone koekies. Onthou om 'n gaatjie in te druk sodat jy garing kan deurryg om die koekies aan die boom op te hang.

3. Versier koekies nadat dit gebak is

Meng 50 ml versiersuiker met 5 ml melk. As dit nie loperig genoeg is nie, kan jy nog melk bygooi. Pasop net dat jy nie te veel bygooi nie. Kleur nou jou versiersuiker in enige kleur wat jy wil. As jy die versiersuiker tussen klein bakkies verdeel, kan jy sommer baie verskillende kleure maak.

Wanneer jou koekies koud is kan jy hulle met die versiersuiker na hartelus versier.


* Het jy vergeet om gaatjies in te druk voor jy die koekies gebak het?
Moenie bekommerd wees nie – druk net versigtig met 'n tandestokkie 'n gaatjie in elke koekie.

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joukind
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ] tuisbladsy ]