Winter-wegbreekkanse met warm feeste
Pick 'n Pay Knysna Oesterfees
Stellenbosch Wynfees
Franschhoek Bastille Fees
Breedekloof Soetes & Soup
Pick 'n Pay Knysna Oesterfees
Vrydag 2 Julie tot Sondag 11 Julie
Sjoe, tien dae van vermaak, sport, kos, wyn, kuns en sokker – dis mos nou 'n behoorlike vakansie! Hierdie jaar is daar meer as 100 items op die fees se program en meer as 13 000 besoekers word verwag. Wat die fees so uniek maak, is die twee groot sportgeleenthede – die Pick 'n Pay Weekend Argus Rotary Knysna-fietswedren en die Pick 'n Pay Cape Times Knysna-marathon en –halfmarathon – wat deel van die fees uitmaak.
Omdat Knysna die Franse sowel as die Deense sokkerspanne huisves, word heelwat Franse en Deense kulturele aktiwiteite by die feesprogram ingesluit.
Daar is letterlik 'n smorgasbord van dinge om te doen en ervaar by die fees: van 'n brugtoernooi, verfbalkompetisies, 'n vlooimark, straatverf vir die kinders tot 'n galadinee. Maar belangrikste van alles is natuurlik die oesters wat oral te koop gaan wees!
Stellenbosch Wynfees
Donderdag 1 Julie tot Maandag 5 Julie
Dié gewilde fees vind vanjaar 'n maand vroeër as gewoonlik plaas om die duisende oorsese besoekers die geleentheid te bied om Suid-Afrika se eerste en bekendste wynroete in al sy glorie te ervaar. Hierdie jaar is dit selfs makliker om Stellenbosch se pragtige plase te besoek. Los net jou motor by een van die vele park-and-ride-areas en 'n bussie sal jou na die wynplase van jou keuse vervoer. Deelnemende plase bied gaste die geleentheid om hul wyne te proe asook 'n hele klomp aktiwiteite soos avontuurlike uitstappies en eksklusiewe wynmaker-etes.
Met meer as 140 plase om te besoek – soos Neethlingshof, Knorhoek, Meerlust en Kanonkop – kan jy tydens die fees die ware gees en kultuur van hierdie legendariese dorp ervaar. Ander hoogtepunte sluit kookkompetisies tussen van ons land se voorste sjefs en historiese toere deur die Eikestad se mees bekende besienswaardighede in.
Franschhoek Bastille Fees
Saterdag 17 Julie tot Sondag 18 Julie
Dié Bolandse dorp vier hul Franse geskiedenis met 'n pretbelaaide naweek wat spogwyne, fynproewerskos en hope vermaak inhou.
Hier is die ideale geleentheid om weg te breek na die platteland. Daar is hope te sien en te doen vir die hele gesin. Die meeste van die hotelle en gastehuise op die dorp het 'n spesiale Bastille-verblyfpakket wat 'n gratis botel Franschhoekwyn insluit.
Die tema van die fees is hemelse kos en heerlike wyn en danksy die plaaslike sjefs en wynplase kan jy die crème de la crème van dié dorp ervaar. Franse kase, sushi, forel uit die vallei en handgemaakte sjokolade is maar van die lekkernye wat jy kan proe. Hoewel jou smaakkliere sal juig, is kos en wyn nie al wat die fees het om te bied nie. Jy kan die dorp rooi (en blou) verf, met vermaak soos die Franse rolprentfees by Le Quartier Français, 'n sjef- en kelnerresies, straatsokker, boules en kunsvlieghengel. Besoek die hordes stalletjies met kuns en handwerk of koop na hartelus by die verskeie boetieks. Ah, c’est la vie!
Breedekloof Soetes & Soup
Vrydag 23 Julie tot Saterdag 24 Julie
Wat is nou lekkerder as 'n bord stomende, tuisgemaakte sop op 'n koue winterdag?
As die bogenoemde beeld vir jou aanloklik klink, is dié fees net vir jou.
Breek weg vir 'n naweek van heerlike boerekos, bekroonde rooi- en gefortifiseerde wyne, kunsuitstallings en vermaak uit die boonste rakke. Die hoogtepunt van die naweek is die vertoning van Afrikaans se eie verkleurmannetjie, Chris Chameleon, wat die Saterdagaand onder die eikebome van Waboomsrivier-Wynkelder plaasvind. Kaartjies kos R150. Ivan Zimmerman is die Vrydagaand by Jason’s Hill te sien terwyl Klopjag en die bekkige skrywer Dana Snyman by Opstal Landgoed sal optree.
Die gashere van die naweek is al die wynplase in die omgewing, insluitend, Badsberg, Daschbosch, Du Toitskloof en Slanghoek. Koop 'n Breedekloof Soetes & Soup-enemmelbeker teen R10 by jou eerste plaas en geniet die gratis sop by al die deelnemende plase.
Blyplek is volop in die streek, wat die dorpe Rawsonville, Goudini en dan ook Slanghoek en die Breederivier insluit. Boonop kan besoekers van die wonderlike afslag op verblyf gebruik maak wat tydens die fees van toepassing is: Betaal vir twee nagte en kry die derde nag gratis!
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na joukontrei volgende artikel vorige artikel |

