|
|
|

Maart
2009
Jaargang 1 Uitgawe
8 |
 |
 |
 |
 |
 |
|
|
|
|

deur
Margaretha Lachmann
|
|
'n "Nearer to nature"-ervaring:
Dis 'n snaakse moegheid, en 'n
ongelooflike diep slaap, wat
mens beleef wanneer daar min
dinge is wat jou aandag
verg.
|

Die inloop by Waychinicup |
|
Daar is iets baie sielverkwikkend daarin om jou
tent in die natuur (lees: boendoes) op te slaan.
As iemand dit egter vyf jaar gelede vir my sou
sê, sou ek net gelag en my kop geskud het! Dit
is egter Manlief wat my een jaar – wel na baie
oortuigingswerk – sover gekry het om in
Mosambiek te gaan kamp: En dáár het ek
onmiddellik 'n openbaring beleef. Ook maar goed
so, want die beste manier om Australië te verken
is beslis met 'n tent iewers in jou
4x4-voertuig.
|
|
 |
|
|
Tydens die Australië-dag-langnaweek in Januarie,
was ons reg om ons batterye te herlaai vir die
nuwe jaar. Ons was gelukkig genoeg om 'n
kampeerplek te kry in die baie gewilde
Waychinicup-natuurreservaat, wat ongeveer 'n
driekwartier se ry oos vanaf Albany in Wes-Australië,
naby Cheynes Beach, is.
Opgewonde het ons die Vrydagmiddag na werk
weggespring – die bakkie was natuurlik die
vorige aand al klaar gepak – en het ons 'n mooi
plekkie gekry om ons tente op te slaan. Soos 'n
masjien wat goed geolie is het ons tjoef-tjaf
die tente staan gemaak en die veldkatels
opgeslaan. Opblaasmatrasse het seker hul meriete,
maar die goed hou net nie by ons nie. Ons
kampbedjies is baie gemaklik – dis nou te sê as
die goed mooi reguit staan. As die ding net 'n
millimeter skeef staan, rol jy heelaand, en klou
vir al wat leef aan die kant van die bed vas!
Dié keer was ons darem gelukkig, en was dit 'n
gelyke stukkie aarde waar ons ons tydelike
woning kon staanmaak. Na 'n vroeë, vinnige
kampstyl-aandete, het 'n doodse moegheid ons
oorval, en was ons nog voordat die son onder is,
in droomland gewees. |
|

Die beskutte baai by Waychinicup |
|
Dis 'n snaakse moegheid, en 'n ongelooflike diep
slaap, wat mens beleef wanneer daar die minimale
is wat mens se aandag verg. Dit voel vir my of
ek in 'n ander dimensie ingesuig word – op maat
van die rollende branders in die agtergrond –
wanneer my kop die kussing raak. Verkwik en
uitgerus is ons die volgende oggend sommer vroeg
wakker. Ontbyt was weer 'n eenvoudige affêre,
met Weet-bix, melk en suiker in blikbekers
opgedis. Ma en Sussa het in die rotspoele gaan
speel, terwyl Pa en Ouboet gaan visvang het.
Die kampeerarea lê aan die baai waar die rivier
en oseaan ontmoet. Dis 'n goeie plek vir visvang,
en as die see kalm is, kan mens heerlik snorkel
en die kinders kan rondplas in die vlakwater.
Ons het die heel naweek wonderlike sonskynweer
gehad, en kon die buitelewe optimaal geniet. Die
geriewe by meeste van die kampeerplekke in die
natuurreservate wat ons tot dusver besoek het,
is uiters karig, en mens neem maar alles saam
wat jy gaan nodig kry – insluitende vars water,
'n stort en 'n toilet!
Daar is gewoonlik 'n put-toilet, maar die
toestand daarvan is altyd 'n verrassing. Ek was
dié keer egter aangenaam verras: Dit is
ongelooflik wat 'n verskil 'n wit troon en 'n
emmer ontsmettingsmiddel aan hiérdie basiese
gerief maak.
Soos wat die son al hoër klim, het reuse
akkedis-agtige reptiele lui-lui vanuit alle
rigtings gewaggel gekom om in die sonnetjie te
kom bak. Laatmiddag is ons ook besoek deur 'n
voorbarige buideldassie, wat baie geïnteresseerd
in ons aandete was.
Aandete het bestaan uit vars vis wat die manne
vroeër die middag gevang het, opgedis met die
een en die ander uit blikkies vanuit ons
kampkombuis. Dit was 'n heerlike soel aand, en
ons het laat wakker gebly om sterre te kyk. Dit
is mos iets wat mens eenvoudig net móét doen
wanneer jy kamp. Die Melkweg het besonder mooi
geflonker, en die maanlig het die baai romanties
sag verlig. |
|

Cheynes Beach |
|
Met liggaam en siel in 'n eufories-uitgeruste
toestand, het ons Sondag die omgewing verder
verken. 'n Piekniekmandjie is gepak, en ons het
eers op die strand by Cheynes gaan ry. Daar het
Manlief 'n lekker visvanggat gekry, die kinders
het na hartelus in die branders gespeel, en ek
het myself in 'n boek verdiep. Cheynes is 'n
klein gemeenskap wat deesdae vakansiegangers
bedien, maar word histories met die walvisjagte
wat al langs die kus plaasgevind het verbind.
Die middag is ons met 'n 4x4-roete verby Mount
Manypeaks, 'n granietkoppie met rotsformasies
wat met punte in alle rigtings in staan. Die
paadjie was 'n uitdaging, met los sand en diep
groewe op onverwagte plekke. Ons het gelukkig
nêrens vasgeval nie! Die natuurskoon is
besonders, met 'n uitsig ver oor die baai.
Meeste van die wildeblomme het klaar geblom,
maar hier en daar kon ons nog Banksias sien. Dit
herinner nogal aan 'n speldekussing-protea. Met
die lugversorging in die bakkie aangeskakel, het
ons ook nie agtergekom hoe warm dit eintlik
buite geword het nie.
Terug by ons kampeerplek, is ons begroet deur 'n
hartseer gesig: Die groot tent het sommer só
skeef na die een kant toe gestaan. Ja, die
tentpenne het gesmelt! Met wolkies wat
onheilspellend in die lug begin saampak, kon ons
dit nie waag om die nag in die skewe tent deur
te bring nie, en het ons maar opgepak. Om die
kinders te paai, het ons hulle belowe dat hulle
tuis die klein tent in die tuin kan opslaan en
daar gaan slaap. Dit het mooi uitgewerk, en ons
het 'n baie rustige aandjie gehad. Die liggaam
en siel se verkwikkingsproses is afgesluit met
die luukse van 'n warm bad.
So lekker soos wat die "nearer to nature"-ervaring
was, het ek ook my sagte, snoesige bed opnuut
waardeer.
|
|
|
e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy
uit
het
jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
|
terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel
Boekmerk dié bladsy
|
|
|
|
Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!
[ jouapplous ] [ jouhoofstories ] [ jousê ] [ jourubrieke ] [ joupolitiek ] [ joumenswees ] [ joutuisblad ] [ joukontrei ] [ jouleefstyl ] [ joufiksie ] |
|
|
|
|
|
Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier! |
|
|
|