druk hierdie bladsy uit
e-pos hierdie artikel

 


Maart 2009
Jaargang 1 Uitgawe 8

 

Siele-rus by Waychinicup Inlet

joukontrei
hoofinhoud
terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel


deur
Margaretha Lachmann
 

'n "Nearer to nature"-ervaring: Dis 'n snaakse moegheid, en 'n ongelooflike diep slaap, wat mens beleef wanneer daar min dinge is wat jou aandag verg. 


Die inloop by Waychinicup

Daar is iets baie sielverkwikkend daarin om jou tent in die natuur (lees: boendoes) op te slaan. As iemand dit egter vyf jaar gelede vir my sou sê, sou ek net gelag en my kop geskud het! Dit is egter Manlief wat my een jaar – wel na baie oortuigingswerk – sover gekry het om in Mosambiek te gaan kamp: En dáár het ek onmiddellik 'n openbaring beleef. Ook maar goed so, want die beste manier om Australië te verken is beslis met 'n tent iewers in jou 4x4-voertuig.

Tydens die Australië-dag-langnaweek in Januarie, was ons reg om ons batterye te herlaai vir die nuwe jaar. Ons was gelukkig genoeg om 'n kampeerplek te kry in die baie gewilde Waychinicup-natuurreservaat, wat ongeveer 'n driekwartier se ry oos vanaf Albany in Wes-Australië, naby Cheynes Beach, is.

Opgewonde het ons die Vrydagmiddag na werk weggespring – die bakkie was natuurlik die vorige aand al klaar gepak – en het ons 'n mooi plekkie gekry om ons tente op te slaan. Soos 'n masjien wat goed geolie is het ons tjoef-tjaf die tente staan gemaak en die veldkatels opgeslaan. Opblaasmatrasse het seker hul meriete, maar die goed hou net nie by ons nie. Ons kampbedjies is baie gemaklik – dis nou te sê as die goed mooi reguit staan. As die ding net 'n millimeter skeef staan, rol jy heelaand, en klou vir al wat leef aan die kant van die bed vas!
Dié keer was ons darem gelukkig, en was dit 'n gelyke stukkie aarde waar ons ons tydelike woning kon staanmaak. Na 'n vroeë, vinnige kampstyl-aandete, het 'n doodse moegheid ons oorval, en was ons nog voordat die son onder is, in droomland gewees.


Die beskutte baai by Waychinicup

Dis 'n snaakse moegheid, en 'n ongelooflike diep slaap, wat mens beleef wanneer daar die minimale is wat mens se aandag verg. Dit voel vir my of ek in 'n ander dimensie ingesuig word – op maat van die rollende branders in die agtergrond – wanneer my kop die kussing raak. Verkwik en uitgerus is ons die volgende oggend sommer vroeg wakker. Ontbyt was weer 'n eenvoudige affêre, met Weet-bix, melk en suiker in blikbekers opgedis. Ma en Sussa het in die rotspoele gaan speel, terwyl Pa en Ouboet gaan visvang het.

Die kampeerarea lê aan die baai waar die rivier en oseaan ontmoet. Dis 'n goeie plek vir visvang, en as die see kalm is, kan mens heerlik snorkel en die kinders kan rondplas in die vlakwater. Ons het die heel naweek wonderlike sonskynweer gehad, en kon die buitelewe optimaal geniet. Die geriewe by meeste van die kampeerplekke in die natuurreservate wat ons tot dusver besoek het, is uiters karig, en mens neem maar alles saam wat jy gaan nodig kry – insluitende vars water, 'n stort en 'n toilet!
Daar is gewoonlik 'n put-toilet, maar die toestand daarvan is altyd 'n verrassing. Ek was dié keer egter aangenaam verras: Dit is ongelooflik wat 'n verskil 'n wit troon en 'n emmer ontsmettingsmiddel aan hiérdie basiese gerief maak.

Soos wat die son al hoër klim, het reuse akkedis-agtige reptiele lui-lui vanuit alle rigtings gewaggel gekom om in die sonnetjie te kom bak. Laatmiddag is ons ook besoek deur 'n voorbarige buideldassie, wat baie geïnteresseerd in ons aandete was.
Aandete het bestaan uit vars vis wat die manne vroeër die middag gevang het, opgedis met die een en die ander uit blikkies vanuit ons kampkombuis. Dit was 'n heerlike soel aand, en ons het laat wakker gebly om sterre te kyk. Dit is mos iets wat mens eenvoudig net móét doen wanneer jy kamp. Die Melkweg het besonder mooi geflonker, en die maanlig het die baai romanties sag verlig.


Cheynes Beach 

Met liggaam en siel in 'n eufories-uitgeruste toestand, het ons Sondag die omgewing verder verken. 'n Piekniekmandjie is gepak, en ons het eers op die strand by Cheynes gaan ry. Daar het Manlief 'n lekker visvanggat gekry, die kinders het na hartelus in die branders gespeel, en ek het myself in 'n boek verdiep. Cheynes is 'n klein gemeenskap wat deesdae vakansiegangers bedien, maar word histories met die walvisjagte wat al langs die kus plaasgevind het verbind.

Die middag is ons met 'n 4x4-roete verby Mount Manypeaks, 'n granietkoppie met rotsformasies wat met punte in alle rigtings in staan. Die paadjie was 'n uitdaging, met los sand en diep groewe op onverwagte plekke. Ons het gelukkig nêrens vasgeval nie! Die natuurskoon is besonders, met 'n uitsig ver oor die baai. Meeste van die wildeblomme het klaar geblom, maar hier en daar kon ons nog Banksias sien. Dit herinner nogal aan 'n speldekussing-protea. Met die lugversorging in die bakkie aangeskakel, het ons ook nie agtergekom hoe warm dit eintlik buite geword het nie.

Terug by ons kampeerplek, is ons begroet deur 'n hartseer gesig: Die groot tent het sommer só skeef na die een kant toe gestaan. Ja, die tentpenne het gesmelt! Met wolkies wat onheilspellend in die lug begin saampak, kon ons dit nie waag om die nag in die skewe tent deur te bring nie, en het ons maar opgepak. Om die kinders te paai, het ons hulle belowe dat hulle tuis die klein tent in die tuin kan opslaan en daar gaan slaap. Dit het mooi uitgewerk, en ons het 'n baie rustige aandjie gehad. Die liggaam en siel se verkwikkingsproses is afgesluit met die luukse van 'n warm bad.
So lekker soos wat die "nearer to nature"-ervaring was, het ek ook my sagte, snoesige bed opnuut waardeer.
 

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel

  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] jouhoofstories ] jousê ] jourubrieke ] joupolitiek ] joumenswees ] joutuisblad ] joukontrei ] jouleefstyl ] joufiksie ]

 

 

Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier!

Google
Custom Search

joutuisblad
jouhoofstories
joumenswees
joupolitiek
jouapplous
jouleefstyl
joukontrei
jou
jourubrieke
joufiksie
jougeskenke
 
gratis nuusbrief
vertel jou vriende
medewerkers
adverteer
wie is ons
 
vorige uitgawes
jouwêreld Facebook-groep